Internasionale Moedertaaldag wêreldwyd gevier

Argieffoto

Argieffoto

‘n Video volg ook onderaan die berig waar Polyglot Leonel “Internasionale Moedertaaldag” in agt verskillende tale sê. Internasionale Moedertaaldag vind jaarliks op 21 Februarie plaas om taal- en kulturele diversiteit en veeltaligheid wêreldwyd te bevorder.

Unesco (die VN se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur) het dit vir die eerste keer op 17 November 1999 aangekondig. Die datum verteenwoordig die dag in 1952 toe vier studente tydens ʼn betoging, om amptelik hul moedertaal Bengali in Bangladesh te gebruik, doodgeskiet is.

Die doel van die dag is om die verspreiding van moedertale te bevorder, ʼn groter gewaarwording van die duisende linguistiese tradisies regoor die wêreld te behaal, en eenheid tussen tale te bewerkstellig gebaseer op verstandhouding, verdraagsaamheid en gesprekvoering.

Die tema vir 2014 is “Plaaslike tale vir Internasionale Burgerskap: die Fokus op Wetenskap”.

“Die tema moedig mense wêreldwyd aan om boeke, tekste, gedigte, ens. êrens in die publiek te lees in hul plaaslike taal of ’n taal wat minder in gebruik is,” verduidelik adv. Jacques du Preez, woordvoerder van die FW de Klerk Stigting. “Die doelwit is om bewusmaking te skep betreffende al die moedertale in die wêreld.”

Die amptelike tale in Suid-Afrika is Afrikaans, Engels, Sepedi, Sesotho, Setswana, siSwati, Tshivenda, Xitsonga, isiNdebele, isiXhosa en isiZulu. “Die Grondwet verklaar uitdruklik dat al die Suid-Afrikaanse tale gelykheid van aansien en billike gebruik moet geniet, en dit verbied ook diskriminasie op verskeie gronde, met inbegrip van taal,” het Du Preez in ʼn verklaring gesê. “As Suid-Afrikaners behoort ons maklik ons ryk veeltalige erfenis op Internasionale Moedertaaldag te kan vier. Ongelukkig word ons sterk erkenning van ons linguistiese diversiteit in die Grondwet nie met betrekking tot taalgebruik en -ontwikkeling in Suid-Afrika uitgebeeld nie.”

Du Preez sê daar is verskeie redes hiervoor, insluitend die regering se gebrek aan toewyding. “Dit het nie die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale aanvaar totdat dit gedwing is om dit te doen by wyse van litigasie wat deur Cerneels Lourens, ’n praktiserende prokureur van Brits, ingestel is nie,” sê hy. “Die daaropvolgende wetgewing is, om dit eenvoudig te stel, ’n poging deur die regering om kennis te neem van die duidelike taalvereistes in artikel 6 van die Grondwet. Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale is ingestel ten einde voorsiening te maak vir die regulering en monitering van die gebruik van amptelike tale deur die nasionale regering vir regeringsdoeleindes. Dit maak ook voorsiening vir die aanvaarding van taalbeleide deur nasionale departemente, nasionale openbare instellings en nasionale openbare ondernemings. Daarbenewens maak dit voorsiening vir die daarstelling en funksies van ’n Nasionale Taaleenheid.”

Ten spyte van die feit dat die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale op 2 Mei 2013 aanvaar is, het baie min staatsdepartemente of staatsinstellings tot dusver die vereiste taalbeleide ingestel. Gevolglik het Lourens dit weer eens nodig geag om litigasie teen die regering in te stel – hierdie keer teen die premiers van die Noord-Kaap en die Vrystaat – ten einde hulle te dwing om hul verantwoordelikhede ten opsigte van taal ingevolge die Wet en die Grondwet na te kom (staatsdepartemente het tot 1 November 2014 om hul onderskeie taalbeleide af te handel).

Du Preez sê ’n tweede rede vir Suid-Afrika se versuim om die bepalings betreffende taal in die Grondwet in werking te stel, is dat die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), wat veronderstel is om ons amptelike tale te bevorder en ontwikkel, eenvoudig net nie sy funksies uitvoer nie.

“PanSAT word lank reeds geteister deur wanbestuur en verwaarlosing,” verduidelik hy. “In die jongste voorval is die waarnemende uitvoerende hoof van PanSAT, Mxolisi Zwane, beskuldig van onreëlmatighede betreffende die aanstelling van mense in poste waarvoor daar nie begroot is nie.”

Zwane is in Junie 2012 aangestel as waarnemende uitvoerende hoof deur Paul Mashitile, die minister van kuns en kultuur, ná die verwydering van die destydse waarnemende uitvoerende hoof en die raad weens finansiële wanbestuur. Altesaam 28 werknemers het nou hofverrigtinge aanhangig gemaak en aansoek gedoen om ’n bevel wat Zwane se aanstelling onwettig en ongeldig verklaar. Mashatile is daarvan beskuldig dat hy Zwane beskerm, en is gekritiseer dat hy versuim het om benoemdes wat deur die Nasionale Vergadering se Komitee oor Kuns en Kultuur goedgekeur is, op ’n nuwe PanSAT-raad aan te stel. “PanSAT bevind homself dus met ’n waarnemende hoof uitvoerende beampte wat homself vir die stryd voorberei, en geen raad nie!”

“Die derde rede vir ons versuim om die taalvisie in die Grondwet te verwesenlik, is die sterk indruk dat die regering besluit het om Engels de facto as die enigste amptelike taal te bevorder,” sê Du Preez. “Hierdie neiging kom meer en meer voor in alle sfere van die regering. Selfs in die Parlement word debatte weinig in enige ander taal as Engels gevoer. Alhoewel die belangrikheid van Engels as wêreldtaal deur almal erken word, moet daar steeds aan die duidelike vereistes in die Grondwet voldoen word wat vereis dat die nasionale regering en elke provinsiale regering ten minste twee tale moet gebruik.”

Hierdie skuif na ’n byna uitsluitlike gebruik van Engels in die regering en sakebedryf syfer ook deur na die onderwyssektor in Suid-Afrika, en dit is ongrondwetlik, meen Du Preez. “Afrikaanse skole – en die oorblywende universiteite wat onderrig in Afrikaans bied – ervaar enorme druk om na Engels oor te leun, wat duidelik teenstrydig is met artikel 29 wat verklaar dat elke persoon die reg het op onderwys in die amptelike taal of tale van hul keuse in openbare onderwysinstellings, waar sodanige onderrig redelik moontlik is.”

“Die behoefte aan moedertaalonderrig is nie bloot ’n hunkering na die linguistiese diversiteit van die verlede nie. Daar is reeds bevind dat indien kinders nie gedurende die eerste ses of sewe jaar van hul opvoeding dit in hul moedertaal ontvang nie, hul verdere onderrigvooruitsigte ernstig ondermyn sal word. Een van die grootste redes vir Suid-Afrika se akute onderwyskrisis is dat ’n hele generasie kinders ná die derde jaar van onderwys in Engels onderrig word – ʼn taal wat hulle nie dikwels verstaan nie – deur onderwysers wat self nie heeltemal bekwaam in Engels is nie. Ingevolge artikel 6 van die Grondwet het die regering ’n plig om “praktiese en positiewe maatreëls in te stel ten einde die status van ons inheemse tale te verhoog en die gebruik daarvan te bevorder”, maar hulle het versuim om dit te doen.”

Du Preez sê verder daar is ’n noue verband tussen die tale wat ons praat en ons identiteite en ons gevoel van menswaardigheid. “Op 21 Februarie moet ons almal – en veral die regering – nadink oor wat ons moet doen om die verwesenliking van die taalregte, wat ’n belangrike en integrale deel van ons grondwetlike visie uitmaak, te bewerkstellig.”

Die Taalgenoot het op sy Facebook-blad ter viering van Internasionale Moedertaaldag ʼn uiteensetting gegee van die groet en uitspraak daarvan om iemand vandag in sy moedertaal te groet.

Engels: hello

IsiXhosa: molo → môh-lô

Sesotho: dumela → doe-mêh-lah

Ndebele: lotjha → lô-cha

Setswana: dumela → doe-mêh-lah

isiZulu: Sawubona → sah-whoe-bô-nah

Tshivenda: ndaa (mans) en Aa (vroue) → ndah (mans) en ah (vroue)

Sepedi: dumela → doe-mêh-lah

Xitsonga: xewani → she-wah-nie

Sepedi: dumêla → doe-mêh-lah

Siswati: sawubona → sah-whoe-bô-nah

International Mother Language Day in 8 languages by Polyglot Leonel from Khan Md. Anwarus Salam on Vimeo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae