LitNet is op soek na 2018 se woord van die jaar

Woorde is die instrument wat ons gebruik om met mekaar te kommunikeer en, volgens die Afrikaanse webwerf LitNet, kan dit ook ʼn tydsgees vasvang. Met ʼn enkele woord kan jy emosie ontketen in iemand en jy kan selfs nuusgebeure in ʼn enkele woord opsom.

LitNet het in 2013 die eerste keer dié webwerf se “Suid-Afrikaanse woord van die jaar”-kompetisie aangebied en die woord op almal se lippe was “e-tol”. In 2014 is “beurtkrag” aangewys as die wenner. Met die vuurwarm diskoers rondom studenteprotes en hutsmerkveldtogte in 2015 is die # aangewys as wenner. Daarna het “staatskaping” in 2016 gevolg en “fopnuus” in 2017.

Watter Afrikaanse woord sou jy gebruik om 2018 mee te onthou? Dink aan die nuusgebeure van die afgelope jaar en skryf gerus in vir LitNet se kompetisie om die woord van die jaar vir 2018 op te spoor.

Onthou: Slegs inskrywings wat voor middernag op 10 Desember 2018 per e-pos aan [email protected] gestuur word, sal in aanmerking kom vir die prys. Inskrywings in kommentare op die sosiale media en LitNet of in die kommentaarblokkie hier op Maroela Media sal nie oorweeg word nie. Slegs een inskrywing per persoon.

Daar is ʼn lekker geskenkpak vir die persoon wat, volgens LitNet se redaksie, die sterkste inskrywing ingedien het:

  • Die vertes in deur Zirk van den Berg, Kwela
  • Vandag wil ek my blou skoene dra deur Koos Kombuis, Naledi
  • Opstokers, Fopdossers en Tweegatjakkalse deur Herman Lategan, Penguin
  • Vuurwarm deur Jan Braai, Human & Rousseau
  • Landbou Boerekos deur Arina du Plessis, Human & Rousseau
  • Daar is ’n engel in my koskas deur Willie Strauss, Human & Rousseau

Klik hier om meer te lees oor dié boeke, geskenk deur NB-Uitgewers, Naledi en Penguin.

Indien die woord van die jaar deur meer as een persoon ingeskryf is, sal die wenner deur middel van ’n gelukstrekking bepaal word.

Kompetisiereëls:

  • Stuur jou woord voor middernag op 10 Desember 2018 aan [email protected].
  • Slegs een inskrywing per persoon.
  • Deur in te skryf, stem jy toe dat LitNet jou mag inteken op die weeklikse nuusbrief wat na jou e-posadres gestuur word.
  • LitNet behou hom die reg voor om geen prys toe te ken nie.

Al die besonderhede is op LitNet se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.