Nasionale leesprojek begin op Internasionale Moedertaaldag

a-kid-reading_greatbooksacademy_org.jpg

Foto: greatbooksacademy.org.jpg

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS), in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), het hul nasionale leesprojek vandag op Internasionale Moedertaaldag afgeskop.

Dié projek fokus daarop om Afrikaanssprekende kinders se leesvermoë te verbeter deur leeshulpbronne en opleiding aan skole en onderwysers te verskaf. Die projek fokus aanvanklik op lees in die grondslagfase.

Die AON het reeds skole in die Oos-Kaap, waar die projek van stapel gestuur sal word, geïdentifiseer.

“Die AON skep ʼn pyplyn vir Afrikaans-moedertaalonderrig: van vroeë kinderontwikkelingsvlak tot op tersiêre vlak. Daarom het ons dit goedgedink om met die SOS saam te werk ten einde lees in Afrikaans te bevorder,” sê Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die AON.

“Met hedendaagse druk op die Afrikaanse onderriglandskap en die inligtingsera wat veroorsaak dat leerders met ʼn magdom inligting gebombardeer word, is moedertaalonderrig een sinvolle manier om leerders ʼn kompeterende voordeel te gee.”

Potgieter sê moedertaalonderrig skep die ideale omgewing vir die ontwikkeling van kennis, karakter en vaardighede. “Dit is die Afrikaanse gemeenskap se plig om ons kinders hierin te ondersteun. Ons sal hulle versaak indien ons hulle nie hierdie geleentheid bied nie.”

Marnelda de Beer, hoof van die SOS se Afrikaanse Grondslagfase Vereniging (AGV), sê as ’n kind nie behoorlik in sy moedertaal leer lees nie, het dit ’n negatiewe uitwerking op die res van sy akademiese loopbaan. “’n Goeie woordeskat en leesvermoë in jou moedertaal is die sleutel tot akademiese prestasies in enige ander taal.”

Melanie Buys, hoof van stelsels by die Skoleondersteuningsentrum (SOS). Foto: Verskaf.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling van die SOS, sê die uitkomste van die 2016 PIRLS-verslag wys dat Suid-Afrikaanse kinders se leesvermoë ver te kort skiet. PIRLS toets die geletterdheidsvlakke en leesbegrip van gr. 4-leerders in 50 lande wêreldwyd. Suid-Afrika het die swakste uit 50 deelnemende lande gevaar.

Die verslag het uitgewys dat tot so veel as 78% gr. 4-leerders nie met begrip kan lees nie. Hoewel Afrikaanssprekende leerders beter as die nasionale gemiddeld gevaar het, is hulle ook steeds ver onder die internasionale norm.

De Beer meen kinders sukkel om te lees omdat ouers min met hul kinders gesels, nie genoeg stories lees en vertel nie en kinders se woordeskat daarom beperk is. “Onderwysers word in baie gevalle ook nie behoorlik opgelei om kinders te leer lees nie. Daarom begin die SOS reeds in April en Mei met leesopleiding vir onderwysers in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.”

Die SOS het verlede jaar ’n opname onder onderwysers gedoen om die behoefte aan leeshulpmiddels te bepaal. Alle onderwysers wat deelgeneem het aan die opname, het aangedui dat hulle gebruik maak van leeshulpmiddels soos flitskaarte, leesboekies en leeskaarte. Onderwysers het ook gesê dat hulle ’n behoefte het aan bykomende leeshulpmiddels. Meeste van die onderwysers het ’n behoefte aan leeskaarte en woordbou-letters. Hierdie leesprojek van die SOS en die AON sal poog om aandag te gee aan dié behoeftes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jonita Knoetze ·

Mev De Beer se kommentaar rondom die ouers se vermoe om te lees vir hulle kinders, maak my sommer boos. Die ouers, en veral, Afrikaanse ouers het geen toegang tot Afrikaanse kinderboeke nie, veral nie as jy nie boeke ten duurste kan koop nie. Biblioteke in die Ooskaap is net tydens besigheidsure oop en watter familie kan deesdae bekostig om elke maand n dag se verlof in te sit om biblioteek toe te gaan. Ek het ten duurste gaan internet aanskaf by die huis, juis vir die rede om vir my seuns te kan lees. Maar o wee, ek kan duisende boeke in Engels aanlyn lees, maar nie Afrikaans nie.
Die onderwysers doen n uitstekende werk om te probeer taalvaardighede by die kinders aan te leer ten spyte van al hulle te kortkominge, maar ek dink dat hierdie projek eerder moet streef om Afrikaanse hulpmiddels vir die ouers beskikbaar te stel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.