Pratende Afrikaanse speelding span die kroon

Bertha Lewis, skepper van die unieke Afrikaanse sagtespeelding, Lingi. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Om ʼn entrepreneur te wees, moet jy ʼn behoefte in die mark raaksien en uiters hard werk om daaraan aandag te gee.”

Só sê Bertha Lewis, skepper van die unieke Afrikaanse sagtespeelding, Lingi, wat onlangs die AfriForum Sakenetwerk Entrepreneur van die Jaar-toekenning verower het.

Dié gesogte entrepreneurskompetisie is vanjaar vir die vyfde keer aangebied en het ten doel om vir entrepreneurs unieke netwerk- en blootstellingsgeleenthede te bied wat sorg dat daar tegnies geen deelnemer is wat met leë hande huis toe gaan nie.

Dit word ook in samewerking met die Afrikaanse private hoëronderriginstelling Akademia aangebied, met die regsfirma Steyn IP en die digitale agentskap Kwikstert as hoofborge.

Lewis, ʼn gekwalifiseerde spraak-en-taalterapeut, is die eienaar van die maatskappy Ethnic Works wat Lingi, ʼn sagtespeelding wat 4 000 woorde in Afrikaans kan sing en praat, ontwikkel het.

Taal- en spraakontwikkeling, asook gehoor, lê Lewis baie na aan die hart en sy het vroeër aan Maroela Media vertel dat sy destyds in haar praktyk besef het dat ouers nie altyd weet hoe om stories vir hulle kinders te vertel nie.

Die finaliste, borge en beoordelaars van die AfriForum Sakenetwerk Entrepreneur van die Jaar-kompetisie 2022. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Omdat storievertelling ʼn sleutelrol in die ontwikkeling van kinders se taalvaardighede speel, wou sy iets ontwikkel wat hierdie leemte vul.

Sy het twee jaar lank aan dié idee geskaaf en saam met ʼn groot span, onder andere ʼn elektroniese ingenieur, ʼn speelgoedontwerper, ʼn klankingenieur, ʼn stelselontwerper en vele meer, gewerk om Lingi uiteindelik die lig te laat sien.

Lingi se Afrikaanse stem is dié van Eugene Vos, ʼn stigterslid van die musiekgroep DJ Ossewa, en dié unieke beertjie leer kinders meer oor kleure, liggaamsdele, telwoorde en dieregeluide en vele meer.

Meer as 50 entrepreneurs van regoor die land het vanjaar vir dié kompetisie ingeskryf en hoewel sy verheug is oor haar oorwinning, word sukses as ʼn entrepreneur volgens Lewis nie aan toekennings nie, maar eerder positiewe terugvoer van kliente gemeet.

“Al die entrepreneurs wat vanjaar ingeskryf het, is topentrepreneurs en dit was so lekker ervaring en reis om hulle ook te leer ken.”

Benewens Lewis was Anneke Joubert van Bouter Happies, Chanelle Retief van NutriFundi, René Kleynhans van Intiem Weddings en Zellemari van Niekerk van Foxi Original ook onder die vyf topfinaliste.

Dié finaliste moes ʼn portefeulje inhandig en hulself aan ʼn paneel beoordelaars voorstel. Die wenner is op grond van dié indrukke aangewys.

Die beoordeelaars; Marco van Niekerk, Anette Muller, Mia Louw, Elmarie Berry en Johan Beukes. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Die beoordelaars was vanjaar Mia Louw, inhoudsvervaardiger van die kykNET-program Winslyn; Elmarie Berry, ʼn kosstilis, resep-ontwikkelaar en mede-eienaar van die Samesyn-handelsmerkstal; Johan Beukes, ʼn gekwalifiseerde lewens-en-sake-afrigter; Anette Muller, stigter van Flexy – ʼn aanlyn platform vir aanvraagwerkers; en Marco van Niekerk, voormalige uitvoerende beampte van Incredible Connection.

As wenner stap Lewis weg met ʼn kontantprys van meer as R50 000, ʼn keuse van mentorskappe, nuwe promosiemateriaal en hope blootstelling.

“Hoewel dié kompetisie wonderlike pryse en blootstelling vir die wenner bied, is die hartjie daarvan die netwerkwerkgeleenthede tussen die deelnemers. Jaar ná jaar sien ons hoe finaliste by mekaar aanklank vind en kort voor lank mekaar se verskaffers word of selfs hul besighede saamsmelt. Daarom is dit vir ons ʼn voorreg om hierdie unieke platform vir entrepreneurs te bied en so ook saam te verseker dat Afrikaans sterk in die Suid-Afrikaanse sakewêreld is,” voeg Sanderien van der Walt, bestuurder van die AfriForum Sakenetwerk by.

Sedert die kompetisie vir die eerste keer in 2015 aangebied is, het meer as 300 entrepreneurs daarvoor ingeskryf. Noemenswaardige wenners sluit in Louis Loubser, ʼn sitrusboer en brein agter die unieke besproeiingstelsel genaamd Tree Hog, asook die susters Christine Buchanan en Louiza Rademan se organiese babavelsorgreeks, Oh Lief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.