Luister: Ouers, spruite gaande oor bekkige Lingi-beer

Lingi en Bertha Lewis het in Maroela Media se ateljee kom kuier. (Foto: Maroela Media)

Die meeste ouers is pootuit wanneer hulle laataand ná ʼn dag se werk by die huis kom. Afgesien van aandete en ander huislike take wat wag, is daar ook die behoefte van ʼn kleuter om gehaltetyd saam met mamma of pappa deur te bring.

Dit is waar Bertha Lewis se Lingi-beer tot ouers en kinders se redding kom. Natuurlik is Lingi nie net die perfekte speelmaat vir storietyd nie, maar ook gepas om kinders deur die dag opvoedkundig besig te hou.

Lingi is ʼn unieke, sagte beer wat Afrikaans of Engels kan praat. Met sowat 4 000 woorde in Lingi se woordeskat leer kinders meer oor kleure, liggaamsdele, telwoorde en dieregeluide, en wat dit verder so opwindend maak, is dat Lingi stories vertel, liedjies sing en rympies opsê.

Bertha sê Lingi se mees unieke eienskap is dat hy ouer word wanneer albei knoppies op die voete gelyktydig gedruk word. Kinders tussen een en ses jaar kan op ʼn vlak geskik vir hulle ouderdom speel-speel taalvaardighede aanleer.

In hierdie video kan ouers sien hoe Lingi lyk en klink. Lingi vertel ook sommer self vir jou meer oor al die funksies, woorde en liedjies wat vir elke ouderdomsgroep aangepas kan word:

Lingi se Afrikaanse stem is dié van Eugene Vos, beter bekend as MarulaBoom en ʼn stigterslid van die musiekgroep DJ Ossewa.

Bertha het vir haar kreatiwiteit vlerke gegee en self van die stories geskryf, terwyl daar ook bekende stories soos Die drie varkies en Gouelokkies voorgelees word.

Lingi kan stories vertel, liedjies sing en rympies opsê. (Foto: Yolandi du Plessis Photography)

Die liedjies en rympies bestaan uit gunstelinge soos “Vader Jakob”, “Wielie Walie”, “So ry die trein”, “Jan Pierewiet”, “Hansie slim” en “Hompie kedompie”.

Bertha, wat spraakterapie en oudiologie aan die Universiteit van Pretoria studeer het, vertel in Maroela Media se ateljee dat sy destyds in haar praktyk besef het dat ouers nie altyd weet hoe om stories vir hulle kinders te vertel nie.

Omdat storievertellings ʼn sleutelrol in die ontwikkeling van kinders se taalvaardighede speel, wou Bertha dus iets ontwikkel wat hierdie leemte vul. Taal- en spraakontwikkeling, asook gehoor, lê haar baie na aan die hart.

“Toe ek ná my studie ʼn praktyk begin en self terapie gegee het, het ek dikwels saam met ouers gewerk. Ek het agtergekom dat baie van hulle self nie weet hoe om stories vir hulle kinders te lees of watter boeke om te gebruik nie.

“Later, toe ek self ʼn ouer geword het, het ek die waarde van stories besef. Maar ek het ook ervaar hoe moeilik dit is om hieraan aandag te gee wanneer jy werk en na ʼn gesin moet omsien,” vertel Bertha.

Lingi het in Maroela Media se ateljee kom kuier. (Foto: Maroela Media)

Die idee van ʼn pratende beer wat stories vertel, het sowat ʼn jaar lank in haar agterkop gelê en broei. “Ek het in die eerste plek nie geweet waar om te begin nie, en tweedens was ek ook nie seker hoe om so iets te maak nie.”

Dit was ʼn lang proses wat byna twee jaar geduur het. Bertha het destyds ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy genader om te hoor of hulle ʼn beer met agt knoppies kan maak wat stories vertel wanneer jy dit druk. Die maatskappy het egter nie belanggestel nie.

So is die meganisme versteek waarop Lingi se stories gestoor word. (Foto: Yolandi du Plessis Photography)

In Januarie 2019 het sy ʼn oproep van Edmund de Beer, ʼn Suid-Afrikaanse ingenieur wat in die buiteland werk, ontvang. Hy het by iemand van Bertha se idee gehoor, waarna hy haar genader en ingestem het om die elektronika te bou.

“Van daar af was dit ʼn interessante dog ingewikkelde proses om die produk te midde van ʼn wêreldpandemie te ontwikkel. Ek wou eintlik net gehad het die beertjie moes stories vertel, maar nou kan hy soveel meer doen, soos om liedjies te sing, dieregeluide te maak en rympies op te sê.”

Lingi het toe wel die belangstelling van ouers en hul kroos geprikkel. Bertha sê sy het nie gedink dat daar soveel positiewe terugvoer oor Lingi sou wees nie.

“Die reaksie is oorweldigend. Ouers stuur gereeld vir ons video’s wat wys hoe hulle kleuters saam met Lingi sing en dans, of probeer om die rympies op te sê. Die meeste ouers hou daarvan dat Lingi Afrikaans praat en hulle is gaande oor die FAK-kinderliedjies wat opgeneem is.”

Bertha het Lingi ontwikkel omdat sy ʼn behoefte geïdentifiseer het, en ook omdat dit ʼn saak na aan haar hart is. In haar agterkop het sy gewonder of mense daarvan gaan hou, maar sukses en gewildheid was nie die groot motivering wat haar gedryf het nie. “Ek het gedink as dit  ʼn verskil in net een kind se lewe kan maak, sal ek tevrede wees.”

Besoek Lingi se webwerf of die Lingi – in Afrikaans-blad op Facebook vir meer inligting, of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.