Redakteursbrief: PG du Plessis en die goed wat ek nie geskryf het nie

Skermgreep uit Maroela Media-video

Vanoggend ry ek Potchefstroom toe om ‘n draai te maak by die ATKV-Skryfskool se Winterskool vir Skrywers. My GPS soek vir my die kortste pad uit; ‘n roete wat ek nie eintlik ken nie. Kort duskant Potch kry ek die Rysmierbult-bordjie wat na regs uitdraai. Die pad waarmee mens afdraai na PG du Plessis se plaas.

Ek glimlag: Drie jaar gelede het ek en ‘n kollega, Burger Meyer, die groot voorreg gehad om met PG ʼn profielonderhoud te doen. (Die jonge Burger moes oorslaan na “oom PG” nadat PG hom in sterk bewoorde taal verduidelik het, “Ek is nie jou #@$&* PG nie!”) Dié dag het ons die Rysmierbult-afdraai geneem. Ek het voor die tyd al geweet dit gaan een van daardie onderhoude wees wat jou jou lewe lank sal bybly. Jy kan nie eintlik sê hoekom nie, dit is net so.

My eerste ontmoeting met PG, meer as 20 jaar gelede, was toevallig ook hier in Potchefstroom. As eerstejaarstudentjie met skryfkuns as vak het hy eendag as gasspreker met ons klas kom gesels. Ek onthou hoe hy die onskuldige eerstejaarmeisietjies met sy tong-in-die-kies-komplimente bloedrooi laat bloos het. Later die jaar het ons klas by hom en sy vrou op die plaas gaan braai, en hulle Deense hond het ‘n hele skaaprib van die vuur af gesteel en verorber.

Ek onthou die bolle wit rook wat hy uitgeblaas het die dag met die profielonderhoud drie jaar gelede terwyl ons in sy studeerkamer gesels, en sy blou oë wat ondeund vonkel. Sy kritiese vrae om agter te kom of ek regtig sy boeke gelees het (gelukkig het ek) voor hy my vrae beantwoord.

‘n Entjie in ons onderhoud in bring sy vrou, Marie, vir ons koffie en tuisgebakte beskuit. Toe sy wegstap, raak hy stil en kyk haar lank agterna. “Daar gaan die beste ding wat nog ooit met my gebeur het,” sê hy.

Dis die goed wat ‘n onderhoud onvergeetlik maak, maar wat mens nie noodwendig ná die tyd in jou storie skryf nie.

Hy het gevra of ek al Fees van die ongenooides gelees het. Natuurlik het ek, verskeie kere, het ek geantwoord, en my kopie van die boek vir hom aangegee om te teken. Maar het jy die ritme daarin gehoor? het hy gevra, die boek oopgeslaan en vir my ‘n bladsy voorgelees. En toe hoor ek dit, vir die eerste keer. Ek het daarna weer die boek gaan lees, en agtergekom mens se Afrikaanse hart hoor die ritme, al kom jou kop dit nie agter nie. Dis waarskynlik deel van die rede hoekom dié roman deur baie beskou word as die Groot Afrikaanse Roman waarvoor ons dekades gewag het.

Soos dit ‘n groot skrywer betaam, is dit wat hy vir Afrikaans gedoen het, allermins beperk tot wat hy ín Afrikaans gedoen het. Die lys van publikasies, akademiese werke, toneelstukke, televisieproduksies en ander werk wat uit sy pen verskyn het of waarby hy betrokke was, vertel die een deel van die prentjie.

Die ander deel van die prentjie kan mens nie eintlik in woorde sit nie. Dis die deel oor wie hierdie mens was, vir wie storievertel so deel was van wie hy is dat jy die twee nie uit mekaar sou kon haal nie. Dis die deel wat jou soos ‘n hou in die wind tref, die oomblik as jy in ‘n koffiewinkel in Potchefstroom sit en die nuus kry dat hy oorlede is. Sodat jy jou oë en neus met ‘n papierservet moet afvee. Die wete dat dit nie net hierdie mens is wat nie meer met ons is nie, maar ook dat dit wat hy in en met Afrikaans gedoen het en kon doen, nou verby is. Niemand sal dit ooit weer presies só kan doen nie. Geen storie sal ooit weer presies só klink nie.

Oom PG, dankie vir Koöperasiestories wat ons volk laat lag en huil het. Dankie vir Fees van die ongenooides, wat gemaak het dat ek nooit weer ʼn ander Boereoorlogroman kon waardeer nie. Dankie dat ek jou op jou naam mag genoem het. Jy moet sag rus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

andrea van vuren ·

‘n Groot gees het gegroet. Lank lewe die groot gees!

John ·

‘Fees van die ongenooides’ is eintlik sy beste werk. Kooperasie-stories staan in teenstelling daarmee en maak van Afrikaners gekke en patete wat meestal ‘n IK van tien het, terwyl die res, met ‘n denkspan van twintig, meerwaardig spot met hul naaste. G’n wonder buitelanders behandel ons soos idiote nie…

Saartjie ·

Beste John, wil jy nie asseblief weer deur die hele reeks werk nie? Miskien was jy besig met ‘n geweldige worsteling in jou lewe toe jy voorheen daarna gekyk het en het dit jou ‘bril’ ‘n kraak of twee gegee, m.a.w. jy het ‘gekyk’ maar nie ‘gesien’ nie? Daardie stories het soveel deernis in, soveel oor die ‘mensch’ en sy rariteite, soveel lewenslesse? Ek kan nie onthou dat daar ooit ‘n moord was nie (wel ‘n selfmoord/-dood), maar al die ander doodsondes is definitief aangespreek … wellus, hoogmoed, gierigheid … noem hulle maar almal! Hoor jy nie ook die bome gil wanneer hulle afgekap word nie?

Johnnie ·

Ek lewe al meer as 20 jaar buitelands. Ek het vriende en besoeke in baie lande. Afrikaanses word oral hoog geag fb Louis Swanepoel dat hy vir jou n lys van afrikaanses gee wat wereld leiers oral oor is. Dan my beskeie perspektief ek sien kooperasie stories en sieners deur dieselfde bril – ek meet en vergelyk, deins terug en projekteer. Ek wil net n afrikaanse wees en alles wat digters en skrywers oor my se moet waar wees – ook kootjie emmer. Dankie vir skrywers en digters ek verorber julle almal. Pg het afstand tussen hom en ander geskep met “fees” Groete

Ansie Geldenhuys ·

Totsiens PG …………. Met groot agting se ons ………… rus in vrede.

Ansie Geldenhuys ·

Met groot deernis groet ons vir PG. Glo dat hy nou in vrede rus.

Rupert Ashford ·

Ai…die grotes groet almal en ons bly agter…ongelukkig met ‘n meerderheid uit ons generasie wat hulleself kunstenaars noem. RIV Oom PG. Dankie…

donker duiwel ·

Spies en Plessis is een van die beste herhinneringe aan my kinderlewe. Naweke by ouma en oupa se huis. Dit was darem ‘n ander lewe toe in S.A.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.