SA Akademie-pryse vir 2020 toegeken

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Akademie) het onlangs die gesogte Akademiebekronings vir 2020 bekendgemaak. Hier volg die lys van wenners.

Erelidmaatskap van die SA Akademie: Prof. Jacques van der Elst

Erelidmaatskap is die hoogste eerbewys van die SA Akademie en word toegeken op grond van een of meer van die volgende lewenslange prestasies: Erkenning van buitengewone dienste aan Suid-Afrika; en/of dienste aan die Afrikaanse taal; en/of dienste aan die SA Akademie in die besonder met betrekking tot die hoofdoelstelling van die Akademie, naamlik die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en van die kunste, asook die gebruik en die gehalte van Afrikaans.

  • Die Erelidmaatskap van die SA Akademie word vanjaar toegeken aan Jacques van der Elst, emeritus dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte van die Noordwes-Universiteit en voormalige hoof van dié universiteit se Kantoor vir Internasionale Betrekkinge. Prof. Van der Elst is ook ’n vorige hoof- uitvoerende beampte van die SA Akademie.

Hertzogprys vir poësie

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundewêreld en is genoem na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl. JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se letterkundekommissie.

  • Die Hertzogprys word vanjaar toegeken aan Johan Myburg vir sy digbundel Uittogboek.

Johan Myburg (Foto: Verskaf)

MT Steyn-prys vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese Prestasie

Die prys word toegeken aan ’n persoon vir sy of haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskap en/of die tegnologie (of ʼn vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang. Die prys word gesien as die kroon op ‘n lewenstaak en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.

  • Die prys word toegeken aan prof. Ben-Erik van Wyk van die Departement Plant- en Plantbiotegnologie, Universiteit van Johannesburg.

Huberte Rupertprys vir Klassieke Musiek

  • Die prys word aan die operasangeres Carla Pohl toegeken.

Pohl word wêreldwyd deur kritici beskou as een van die laaste werklik hoë dramatiese soprane van ons tyd. Sy is in 1965 met die Mimi Coertse-beurs bekroon, wat haar in staat gestel het om ’n sangloopbaan in Duitsland te volg. Sy het internasionale aansien verwerf met haar vertolkings in Duitse operarolle, asook vir haar rolle in operas van Wagner en Richard Strauss.

Die prys word deur die Rupert Musiekstigting geborg.

Erepenning van die Akademie

Die Akademie se Erepenning gee erkenning vir besondere prestasie op verskeie terreine binne die doelstellings van die Akademie.

Besondere Erepenning

  • Antony Melck, tans woonagtig in Oostenryk, is vanjaar met ʼn Besondere Erepenning vereer.

Prof. Melck se leierskapsrol op akademiese en intellektuele gebied in die Suid-Afrikaanse samelewing gedurende sy loopbaan is divers en omvattend; aanvanklik as professor in Ekonomie by Stellenbosch, en later as rektor van Unisa en hoofbestuurslid van die Universiteit van Pretoria.

  • ’n Besondere Erepenning word ook toegeken aan Tommie van Zyl.

In die 20 jaar sedert Tommie van Zyl hoofbestuurder van ZZ2 geword het, het die omvangryke boerdery wat sy vader uit ’n beskeie familieplaas ontwikkel het, verder eksponensieel vergroot. Hy het ’n revolusionêre “oop stelsel”-bestuursmodel ingevoer om al die belanghebbers van ZZ2, wat insluit meer as 10 000 werknemers, saam te snoer in ’n geïnspireerde stelsel wat funksioneer soos ’n spreekwoordelike miernes, of natuurlike ekosisteem, van bedrywighede. Dit strek van produksie, verpakking en bemarking tot diensdepartemente soos finansies, korporatiewe dienste, logistiek, landboukundiges, ingenieurs, inligtingstegnologie, sekuriteit en vervoer.

Met sy soeke na beste wetenskap en tegnologie en sy eie stewige akademiese agtergrond word ZZ2 onder mnr. Van Zyl ’n sentrum van landbouwetenskaplike uitnemendheid. Sy direksie bestaan deurgaans uit 25% akademici. Hy werf konsultante en inisieer navorsingsprojekte by agt Suid-Afrikaanse universiteite, waarby tot op hede 27 vooraanstaande navorsers betrokke is en daarby baat. Hy bou ook sy kontakte met Amerikaanse universiteite uit, bv. Cornell vanwaar verskeie navorsers projekte by ZZ2 uitvoer, en betrek verder akademici van die universiteite van North Carolina, Florida, California, Washington en Oregon. Hy werf ook verskeie konsultante van die bekende Volcani-instituut in Israel.

Erepenning vir Toneel- en Verhoogkuns en die Gerhard Beukes-prys

  • Die prys word toegeken aan prof. Nico Luwes, emeritus professor van die Departement Drama en Teaterkuns, Universiteit van die Vrystaat.

Prof. Luwes is een van die mees vooraanstaande figure in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf. Dit is uitsonderlik dat hy binne hierdie bedryf, met die klem op opvoering, ook ’n stewige akademies-wetenskaplike bydrae gelewer het. Hy het in sy loopbaan verskeie rolle vertolk: dié van speler, regisseur, skeppende en akademiese skrywer, dosent, entrepreneur en beskermheer.

Erepenning vir die Bevordering van Geskiedenis

Hierdie Erepenning gee erkenning vir ’n besonder hoogstaande bydrae tot die bevordering van die geskiedenis of kultuurgeskiedenis as dissiplines in Suid-Afrika.

  • Die Erepenning word vanjaar toegeken aan Matilda Burden, ’n kultuurhistorikus verbonde aan die Universiteitsmuseum van die Universiteit Stellenbosch.

Erepenning vir Visuele Kunste

  • Die erepenning vir visuele kunste (grafiese kuns) word toegeken aan dr. Esther Mahlangu.

Die 85-jarige dr. Esther Nikwambi Mahlangu is reg oor die wêreld bekend vir die monumentale muurskilderye wat sy al geskilder het in kunsmuseums van Italië tot Amerika. Mahlangu is gewortel in haar Nzunza Ndebele-gemeenskap, in die klein dorpe Mthambothini, Mpumalanga, setel van die koninklike Nzunza Ndebele-familie. Hoewel beroemd en globaal suksesvol, word dr. Mahlangu en haar werk uitsluitlik gemotiveer deur haar Ndebele-erfenis en die oordra daarvan aan geslagte na haar.

LW Hiemstra-prys vir Niefiksie

Die toekenning van die prys word driejaarliks oorweeg vir ʼn oorspronklike niefiksie werk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie.

  • Die prys word toegeken aan Elsa Joubert vir Spertyd.

Elsa Joubert (Stofomslag, “Spertyd”)

Elizabeth C Steijnmedalje

Hierdie medalje is ingestel om ʼn onderwyser of onderwyseres te bekroon wat sy of haar opvoedingswerk deur medium van Afrikaans doen en wat hom of haar onderskei het op die gebied van praktiese onderwys en opvoeding binne sowel as buite die klaskamer.  Dit is genoem na Elizabeth C. Steijn, wat vir baie jare die hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria was.

  • Die prys word vanjaar toegeken aan JM (Johan) Bezuidenhout, uitvoerende hoof van Leeuwenhof Akademie.

Havengaprys vir Fisiese Wetenskappe

Die Havengaprys is ʼn jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegnologiese gebied.  Die prys kan net een keer aan ʼn persoon toegeken word.

  • Die prys word toegeken aan prof. JAC Weideman, verbonde aan die Departement Wiskundige Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch.

Havengaprys vir Lewenswetenskappe

Die prys word toegeken aan prof. Bernard Slippers, wat verbonde is aan die Departement Biochemie, Genetika en Mikrobiologie, Universiteit van Pretoria. Hy is ook die direkteur van die Instituut vir Bosbou en Landboubiotegnologie (FABI) en die stigter van die Future Africa Institute.

Stalsprys

Dié prys word toegeken vir ʼn hoogstaande publikasie of ʼn reeks van hoogstaande publikasies by voorkeur in Afrikaans, asook vir individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskaps­beoefening gemaak word.

Stalsprys vir Maatskaplike Werk

  • Die prys word toegeken aan prof. Antoinette Lombard, hoof van die Departement Maatskaplike Werk en Kriminologie, Universiteit van Pretoria.

Stalsprys vir Opvoedkunde

  • Die prys word vanjaar toegeken aan prof. Bettie Wiechers, emeritus professor van die Departement Opvoedkundige Studies, Unisa.

Stalsprys vir Stads- en Streeksbeplanning

  • Die prys word toegeken aan prof. JJ (Das) Steÿn, emeritus professor van die Departement Stads- en Streeksbeplanning, Universiteit van die Vrystaat.

Erepenning van die Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie

Hierdie erepenning word toegeken vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevordering en ontwikkeling van die besondere vakgebied en kan net in uitsonderlike gevalle toegeken word.

  • Die prys is toegeken aan DG Hattingh, direkteur van eNtsa en professor in Meganiese Ingenieurswese, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth.

Erepenning vir Rolprentkuns

  • Die Erepenning is vanjaar aan Hans Strydom

In sy loopbaan van 47 jaar as rolprentakteur sedert die 1973-rolprent Môre Môre, het Hans Strydom bewys dat hy ’n gesaghebbende akteur is wat bekroning deur die SA Akademie waardig is.

Verskeie rolle het gevolg waarin hy gewoonlik die stil, stewige held gespeel het met die vonkel in die oog en ’n charisma wat gehore in rolprente soos Ter Wille van Christine en Liefste Veertjie oorweldig het. Hy het diepte na rolle gebring wat dikwels nie in die draaiboek voorgekom het nie. Hy was ook nooit huiwerig om aan dialoog te verander of meer diepte na ‘n karakter te bring wat ʼn skrywer dalk sou misgekyk het nie. Mnr. Strydom word vereer vir die reusebydrae wat hy tot die vermaakbedryf gelewer het.

Erepenning vir Radiodrama in Afrikaans

  • Dié erepenning word toegeken aan dr. Eben Cruywagen.

Cruywagen se werk het oor die jare ’n groot invloed op die ontwikkeling, uitbou en bevordering van radiohoorspele gehad. Nie net is hy ’n gereelde aanbieder van RSG se radiodramaslypskole nie, maar ook ’n gevestigde beoordelaar en mentor vir die RSG Radiodramakompetisie. Cruywagen is ook ’n uitmuntende radioregisseur, keur tekste vir uitsending en verwerk prosa en verhoogdramas vir uitsending. Hy bewerkstellig ’n fyn balans tussen humor, drama en patos en die karakters wat hy skep lewe binne die beperkte en soms belemmerende grense van radio as medium. Die prys word toegeken vir die voorafgaande, insluitend die tekste wat hy vir drama die afgelope drie jaar verwerk het.

Deleen Bekkerprys vir die beste dokumentêre TV-draaiboek in Afrikaans

  • Die prys word toegeken aan Carien Loubser vir die draaiboek Madiba: ʼn Uitsonderlike roeping, Episode 1.

As die teksskrywer, regisseur en vervaardiger van Madiba: ‘n Uitsonderlike Roeping, neem me. Loubser die kyker in hierdie nostalgiese en roerende dokumentêre reeks saam met die aanbieder, me. Zelda le Grange, terug na Nelson Mandela se jeugjare in die landelike landskap van die Oos-Kaap, van sy geboortedorp, Mvezu tot by Qunu. Carien Loubser het hierdie historiese dokumentêr oor die kinderjare van een van die grootste leiers in Suid-Afrika in Afrikaans vervaardig en ’n sterk en uiters gepaste Afrikaanse teks daarvoor geskryf.

Erepenning vir ʼn dokumentêre televisieprogram in Afrikaans

  • Die Erepenning word toegeken aan die vervaardiger en regisseur Susan Scott vir Stroop.

Stroop is ʼn dokumentêr, wat as argiefmateriaal die uiters belangrike saak van renosterstropery op nasionale en internasionale vlak belig. Die dokumentêr is onder uiters gevaarlike omstandighede plaaslik in wildtuine, private wildplase en op internasionale sluikhandelmarkte verfilm. Die navorsing is uniek, wydlopend en van kritieke belang. Ook die visuele en ouditiewe aanbiedingswyse, die kamerawerk, redigering en uitstekende strukturering van die dokumentêr is van uitsonderlike gehalte. Stroop slaag daarin om op nasionale en internasionale vlak ʼn blywende impak uit te oefen. Erkenning word ook aan Bonné de Bod, vervaardiger en aanbieder van Stroop, gegee.

SA Akademieprys vir vertaalde werk

Die prys word toegeken vir vertaling in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal. By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne sy eie letterkunde geniet en op die juistheid en algemene geslaagdheid van die vertaling.

  • Die prys word toegeken aan De Waal Venter vir Vandag is boordensvol, ’n vertaling van die gedigte van Pablo Neruda.

Eugène Maraisprys

Die prys word toegeken vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk en word eenmalig aan ’n persoon toegeken

  • Die prys word toegeken aan Johan Jack Smith vir Zola.

Protea Boekhuisprys vir die beste geskiedenisverhandeling in Afrikaans en die Generaal Christiaan de Wet-beurs

  • Die prys word toegeken aan Ruhan Fourie, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch vir sy MA-verhandeling met die titel “Beyers Naudé 1915‒1963: Die vorming van ’n dissidente Afrikaner”.

Douw Greeff-prys

Dié prys word toegeken vir ʼn navorsing- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is.

  • Die prys word vanjaar toegeken aan prof. JH van Vuuren, verbonde aan die Departement Bedryfsingenieurswese, Universiteit Stellenbosch, vir die artikel “Die effek van veelvuldige lynverwydering op die onafhanklikheidsgetal van ’n asikliese grafiek” wat verskyn het in die SATNT, 38(1) (2019).

Esther Greeff-prys

Dié prys word vir ʼn navorsing- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is, toegeken.

  • Die prys word toegeken aan prof. Pieter J Fourie van die Departement Kommunikasiewetenskap, Unisa, vir sy artikel “Die invloed van die digitale medialandskap op mediateorie: Van effekteorie tot mediatiseringsteorie” wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jg. 58, 4(1), Desember 2018, verskyn het.

Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (Plantkundige Wetenskappe)

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ʼn Suid-Afrikaanse universiteit vir die MSc-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe).

  • Die prys word vanjaar aan Theo Busschau van die Universiteit Stellenbosch toegeken vir sy verhandeling “Phylogeographic patterning of three co-distributed forestdwelling reptile species along the east coast of South Africa”.

Poortprys

Toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in graad 10, 11 en 12.

Die prys word vanjaar toegeken aan:

  • Prosa: Rachelle du Preez van die Hoërskool Bonnievale vir haar werk Daarbo?
  • Poësie: Suné Mostert van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley vir haar gedig Die ruggraat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.