Taal lei tot skeiding en twis oor grondslagonderrig in Kalifornië

taleTerwyl die stofwolke nog hang oor wat prof. Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, oor grondslagonderrig in Engels gesê of bedoel het, het ‘n soortgelyke kwessie in twee verskillende dele van die wêreld die nuus gehaal – Nederland en Kalifornië.

Veral die kwessie van Kalifornië het baie raakvlakke met dié in Suid-Afrika. Die twis handel oor hoe gewens dit is om kinders wat nie vlot in Engels is nie, saam met kinders wat wel vlot in Engels is, in dieselfde klas te plaas.

Kalifornië is een van die VSA se deelstate wat Engels formeel as amptelike taal het, en dis daar ook die enigste amptelike taal. Dit verskil byvoorbeeld van Louisiana wat geen amptelike taal het nie, maar amptelike dokumentasie in Engels en Frans uitreik, en New Meksiko wat dieselfde doen met Engels en Spaans.

Die werklikheid binne Kalifornië is egter allermins eentalig Engels. Sowat 200 000, of te wel ‘n derde van die kinders wat vir grondslagonderrig inskryf, word as leerlinge geklassifiseer wat nog Engels aanleer, die ELL’s. Sowat 50 000 hiervan word nooit vlot in Engels nie. Hierdie leerlinge word dus deur die medium van Engels-onderrig benadeel, en daarom word daar nou gewerk aan ‘n stelsel waar die ELL’s van die werklike Engelssprekendes in die grondslagfase geskei word.

Die proses word egter in talle oorde, waaronder ouers van sommige ELL’s sterk geopponeer, en onder meer aangevoer het dat dit bloot net die diskriminasie en voordele wat die leerders reeds in gemeenskapsverband ervaar, verdiep. Dit word ook as ‘n vorm van rassesegregasie beskryf.

In Nederland is die beleid formeel om leerlinge van verskillende herkomste met die Nederlandssprekende bevolking te integreer, maar verskeie gemeenskappe het die handdoek ingegooi om die beleid toe te pas. Sedert 208 het die aantal gemeenskappe wat die beleid nie meer toepas nie, met 40% toegeneem. Dit sluit onder meer Breda, Gouda, Groningen, Leeuwarden, Maastricht, Rotterdam, Venlo en Zwolle in. Rotterdam het byvoorbeeld ‘n beleid van kwaliteit onderrig, eerder as iets spesifiek om segregasie te keer.

Die doel van die wetlik-beplaade integrasiebeleid is juis om te voorkom dat “wit” en “swart” skole tot stand kom.

Die berigte is vaag om die skuld te identifiseer vir hoekom segregasie plaasvind, maar dit hou met ouers se keusevryheid en veral op grondslagfase verband waar gemeenskappe met verskillende kulture saamgetrek is.

Bronne: Christian Science Monitor se berig kan hier gelees word.
Trouw se berig hier, en De Telegraaf se berig kan hier gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae