Liewe naamwoord, hoe verklaar ek jou?

Deur Nadine Fouché-Karsten

Dit is onmoontlik om met mekaar te praat sonder om te verwys na mense, nielewende voorwerpe, diere of plekke, om slegs enkeles te noem. Die woorde wat ons gebruik om hierdie sake te benoem, is naamwoorde (oftewel selfstandige naamwoorde soos dit op skoolvlak bekendstaan). In die onderstaande prentjie gebruik ek ʼn hele reeks naamwoorde om sake, die entiteite in die prentjie, te benoem. Byvoorbeeld, ek gebruik die naamwoord “wolk” om die wit massa in die lug, wat klein druppeltjies water (reën) vorm, te benoem.

Figuur 1: ’n Uitbeelding van naamwoorde wat sake benoem. Dit is geskep m.b.v. Canva AI Image Generator. (Grafika: Verskaf deur VivA)

Hoe kan die term “naamwoord” verklaar word?

Enige hoofwoordsoort berus op ʼn stel semantiese (betekenis-)kriteria. Met ander woorde, elke hoofwoordsoort se definisie is betekenisgebaseerd. Ons neem dit ook waar in skoolhandboeke wanneer definisies soos die volgende gegee word: “ʼn Selfstandige naamwoord (s.nw.) kan die naam van ʼn dier, plek of ding wees.”

Die taalkundige, Bas Aarts, lewer egter kritiek teen die insluiting van die woord “ding” (thing) in so ʼn definisie. In hierdie verband sê hy die volgende: “A table is a thing, but what about friendship, happiness, idea, intention, love, thought, and yesterday? These words denote concepts, mental constructs, time spans, and the like.” Hy gaan voort en sê om aan te dui ʼn woord is ʼn naamwoord, omdat dit ʼn ding benoem, moet ʼn mens reeds weet wat met “ding” bedoel word. Die parameters of grense van “ding” moet dus vooraf vasgestel word, wat nie tans noodwendig die geval is nie.

Vir skoolvlak bied ons dus die volgende definisie aan (wat natuurlik verkort kan word, na gelang van die graadvlak van die leerders):

ʼn Naamwoord (oftewel “selfstandige naamwoord”) benoem of identifiseer iets. Hierdie iets kan mense, denkbeeldige persone, diere en plante, nielewende sake en plekke, massas, versamelings of abstrakte entiteite (soos siektes, sportsoorte, idees, gevoelens of aksies wat staties voorgestel word) wees.

Waarmee kan die semantiese definisie van “naamwoord” uitgebrei word?

Nie alle taalkundiges is eens daarmee dat naamwoorde gelykgestel moet word aan benoeming nie. Sommige taalkundiges redeneer dat dit onmoontlik is om al die verskillende kategorieë sake, wat deur naamwoorde benoem kan word, in sy definisie in te sluit (Gardenförs 2014:186). Om hierdie probleem op te los, stel ons voor dat ons bostaande definisie met strukturele eienskappe uitgebrei word, soos voorgestel deur Bas Aarts in die boek Oxford Modern English Grammar (Aarts 2011). Hierdie eienskappe is soos volg:

  • Wanneer ʼn sin verdeel word in dele wat saam hoort en ʼn naamwoord kom in een van die sinsdele voor, is die naamwoord die belangrikste woord van die spesifieke sinsdeel. Byvoorbeeld, die sin “Die seun skop die bal” kan verdeel word in “[Die seun] [skop] [die bal]”, waar die woorde “seun” en “bal”, wat ’n benoemingsfunksie het en daarom naamwoorde is, die belangrikste woordsoort in onderskeidelik “die seun” en “die bal” is.
  • Die sinsdele waarin naamwoorde voorkom, kan net bestaan uit ʼn naamwoord, byvoorbeeld “[Seuns] [speel] [sokker]”. Alternatiewelik kan die sinsdeel bestaan uit ʼn naamwoord saam met ander woordsoorte, soos lidwoorde (“’n”, “die”, “g’n”), telwoorde (bv. “drie”, “baie”, “eerste”, “kwart”) of adjektiewe (bv. “fluks”, “slim”, “blou”).
  • Sinsdele waarvan ʼn naamwoord die belangrikste woordsoort is, word dikwels gebruik om vir ons te wys wie/wat ʼn handeling uitvoer of ondergaan (dit wil sê, die subjek/onderwerp van die sin), of wie/wat direk deur ʼn handeling geraak word (dit wil sê, die direkte objek/voorwerp van die sin).
  • Die sinsdeel waarin ’n naamwoord voorkom, kan ook deur ʼn voornaamwoord (bv. “dit”, “hulle”) vervang word.

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Watter eienskappe behoort nie ingesluit te word by die definisie van “naamwoord” nie?

Soos daar uit die derde kolpunt afgelei kan word, word hiermee nie gesê dat alle naamwoorde saam met lidwoorde gebruik word nie. Die eienskappe wat gereeld in skoolhandboeke – ek verwys nie hier na ʼn spesifieke handboek nie – gegee word dat naamwoorde die verkleiningsvorm en meervoudsvorm kry en selfs geslag aandui, word ook nie betrek nie, want dit is alles eienskappe wat eintlik vir ʼn baie spesifieke soort naamwoord geld; nie vir naamwoorde in hulle geheel nie.

Neem die soortnaamwoord “koedoe” as voorbeeld.

  • “Om [ʼn koedoe] te jag, is elke jagter se grootste droom.” (VivA-KPO, aangepas)
    • Hier word dit saam met die onbepaalde lidwoord gebruik.
  • “Ons grootste frustrasie is [die koedoe] wat jou twee-meter-diameter-takbokvaring kom vreet, omdat dit droog en dor is en daar nie ander kos vir hom is nie.” (VivA-KPO, aangepas)
    • Hier word dit saam met die bepaalde lidwoord gebruik.
  • “Ongelukkig is daar geen foto’s van die koedoe·swat die manne sou jag nie (want daar het [geen koedoe] geval nie).” (VivA-KPO)
    • Hier kry dit die meervoudsvorm.
  • “Koos toeter weer en demp die bakkie se kopligte, maar die koedoe·tjiebeweeg nie.” (VivA-KPO, aangepas)
    • Hier kry dit die verkleiningsvorm.
  • “Die koedoebulhet mooi geposeer by die Okapuka Ranch buite Windhoek.” (VivA-KPO, aangepas)
    • Hier dui dit geslag aan.

Die probleem met sulke toetse is dat nie alle naamwoorde aan al die toetse voldoen nie. Neem die eienaamwoord as voorbeeld. Hoewel eienaamwoorde geredelik die verkleiningsvorm kry (byvoorbeeld “Hendrikk·ie word siek van hondekos wat hy inkry” (VivA-KPO)), kry eienaamwoorde nie die meervoudsvorm nie, aangesien dit ʼn unieke ding benoem, waarvan daar net een bestaan. Ons sal dus skryf “Dan is daar die ander amptelike Argus-keuringsritte dwarsoor Suid-Afrika waarvoor fietsryers gerus kan beplan” (VivA-KPO), maar nie *“Dan is daar die ander amptelike Argus-keuringsritte dwarsoor Suid-Afrika·s waarvoor fietsryers gerus kan beplan” nie. Eienaamwoorde verbind ook nie prototipies met lidwoorde nie, byvoorbeeld “Nou kom die beurt van [Henri], die boerseun” (VivA-KPO) in teenstelling met *“Nou kom die beurt van [die Henri], die boerseun”.

Indien jy wonder hoe die naamwoord as abstrakte konsep in die klaskamer aan graad 4-leerders bekendgestel kan word, kan die hulpmiddel “Werk met woorde: Selfstandige naamwoorde (naamwoorde)” in Klaskamerhulpmiddels gebruik word. Hoewel dit nie pertinent aangedui word nie, maak hierdie hulpmiddel voorsiening vir soortnaamwoorde (oftewel soortname op skoolvlak) en eienaamwoorde (oftewel eiename op skoolvlak), aangesien hierdie twee soorte naamwoorde in die graad 4-handboeke tot my beskikking ingesluit word. Ek het deurgaans probeer om naamwoorde relevant vir die werklike lewens van leerders te maak, deur aan te dui wáár ons hierdie woordsoort buite die klaskamer gebruik.

VivA-groete
Nadine Fouché-Karsten

  • Viva se blog is met trots geborg deur die AONetwerk.
  • Nadine Fouché-Karsten is verbonde aan die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) as onderwyskenner.

Bronnelys

Aarts, B. 2011. Oxford Modern English Grammar. Oxford: Oxford University Press.

Fouché, N., Kapp, S. & Erasmus, C. 2021. Woordsoorte: Naamwoorde. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika?link=Afdeling-Woordsoorte%2FSelfstandigeNaamwoord%2FAAG_Woordsoort_N_Inleiding.html Datum van toegang: 9 Oktober 2023.

Gardenförs, P. 2014. A semantic theory of word classes. Croatian Journal of Philosophy, XIV(41): 179-194.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.