Taalgebruik: Baan, laan

pad

Argieffoto (Foto: Vidar Nordli-Mathisen/Unsplash)

In ʼn dorp of stad, of op ʼn plaas, word daar na ʼn pad of straat – veral een met bome langs die kante – dikwels as ʼn laan verwys: “ʼn Pragtige eikelaan.” “In ʼn laan opry na ʼn ou plaashuis.”

Só ʼn pad word partykeer ook ʼn “laning” genoem, maar die woord laning verwys eintlik na ʼn ry bome of struike, gewoonlik van dieselfde soort, en nie ʼn pad nie.

Wanneer vervoeringenieurs na ʼn “laan” verwys, het hulle gewoonlik egter ʼn ander soort pad in gedagte: een wat hulle vakkundig onderskei van ʼn baan. Op ʼn deurpad, sê nou maar die een tussen Johannesburg en Pretoria, is daar gewoonlik twee duidelike kante. Aan die een kant van dié deurpad beweeg die verkeer van suid na noord, en aan die ander kant van noord na suid. Volgens die WNNR se lys pad- en vervoerterme, wat in 1986 gepubliseer is, word elk van dié twee dele van ʼn deurpad ʼn “rybaan” genoem, of, soos ons in die gewone spreektaal sê, ʼn “baan”.

Die suid-noord-baan en noord-suid-baan is elk in stroke verdeel, waarop die verkeer beweeg. In Engels word sulke stroke “lanes” of “traffic lanes” genoem. En in vaktaal, in Afrikaans, “lane” of “verkeerslane”.

Die bane en die lane van ʼn deurpad moet dus nie met mekaar verwar word nie.

Gestel daar is ʼn botsing en die baan is toe. Dit sal beteken dat die hele pad van noord na suid of suid na noord gesluit is. Dan is al vier of vyf die lane ook toe, wat ʼn groot verkeersopeenhoping veroorsaak en motoriste moet alternatiewe roetes vind.

As egter net die laan waarin die ongeluk gebeur het, gesluit word, bly die ander lane oop. Die verkeer vloei dan stadiger, maar motoriste kan steeds die pad gebruik.

ʼn Mens kies dus ook die stadige laan, die middellaan of die vinnige laan, en jy verwissel van laan, nie van baan nie.

Gestel ʼn mens ry op ʼn enkelteerpad met ʼn stippellyn in die middel. Weerskante van die lyn ry motors in teenoorgestelde rigtings. So ʼn pad is ʼn verkeersbaan met twee lane – een in elke rigting. Dit is met ander woorde ʼn enkellaanpad.

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230,00*
*Prys onderhewig aan verandering 

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ‘n skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. -Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

Vir my as man beteken baan ‘n baan van ‘n deurpad en ‘n laan is ‘n pad in ‘n woongebied.
Vir my vrou is ‘n baan deel van ‘n gordyn en ‘n laan is 7de Laan.
Praat afrikaans, dit is lekker op die tong.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.