Taalgebruik: gebruik, verbruik

Argieffoto

Afrikaanssprekers sê soms “gebruik”, wanneer hulle eintlik “verbruik” bedoel. “Gebruik” is wanneer jy jou van iets bedien, dit besig, aanwend, tot nut maak of in werking stel, terwyl “verbruik” aandui dat die hoeveelheid van iets wat gebruik word, meetbaar is.

ʼn Mens kan dus sê: “Hierdie water word vir drinkwater gebruik.” Dit beteken die water wat ter sprake is, word gereserveer om gedrink te word. “Paaie word deur motoriste en fietsryers gebruik.” Die motoriste en fietsryers is almal padgebruikers, nié padverbruikers nie. ʼn Mens gebruik iets – gebruiksgoed of gebruiksgoedere – wanneer jy dit vir jou tot nut maak; wanneer jy iets in werking stel of dit vir ʼn bepaalde doel aanwend. ʼn Mens kan iets ook opgebruik – soos suiker, of selfs ʼn pad waarop baie voertuie daagliks ry. Maar ʼn pad word nie verbruik nie.

Verbruik is ʼn term wat gebruik word wanneer die hoeveelheid van iets wat gebruik word, meetbaar is of inderdaad gemeet kan word. “Die meter in die huis dui die verbruik van elektrisiteit aan.” As jy besorg is oor die hoeveelheid brandstof wat ʼn motor gebruik en uiteindelik opgebruik, kan jy sê: “Ek hou baie van hierdie motor, maar ek gaan hom nie vir my aanskaf nie, want sy petrolverbruik is te hoog.”

ʼn Verbruiker is iemand wat ʼn bepaalde winkel of onderneming ondersteun, en staan teenoor produsent. Die meeste verbruikers is padgebruikers en gebruikers van brandstof en elektrisiteit.

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R230,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

deHAS ·

Met ander woorde “the user” teenoor ” i am using” en “consuming”? Waar pas “benut” in?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.