Taalgebruik: Koppeltekens en klinkers

Argieffoto. (Foto: Ben White/Unsplash)

Een van die funksies van die koppelteken is om dit makliker te maak om samestellings te lees en uit te spreek, veral wanneer dit nie met die eerste oogopslag duidelik is waar een lettergreep of sillabe ophou en ʼn volgende een begin nie.

Kyk byvoorbeeld na die volgende woorde:

  • geelkaartoortreding;
  • skribakassier.

Skribakassier, veral, kan nogal verwarrend voorkom. Sommige lesers het dalk ʼn kykweer nodig wanneer hulle so ʼn woord sien. Soos ʼn mens in Engels se: Jy moet dalk ʼn “double take” doen. Nogtans is ʼn koppelteken (skriba-kassier) nie noodsaaklik nie.

In samestellings soos die volgende is die plasing van ʼn koppelteken ook onnodig: hondeoor, naoorlogse, pouoogmot, ruolie, senuaandoening, skiuitrusting, syaansig, taxioorlog, weggooiooi. Hoewel die invoeging van ʼn koppelteken dalk die lees van ski-uitrusting sal vergemaklik, is dit ook hier opsioneel. Die rede is dat die slotklinker van die voorafgaande sillabe en die openingsklinker van die daaropvolgende sillabe saam nie in een van die nege voorbeelde ʼn lang klinker soos aa of ie, of ʼn tweeklank soos ou of ui vorm nie. Dit is daarom onmoontlik om die woorde verkeerd uit te spreek, selfs sonder ʼn koppelteken.

Dit geld ook vir samestellings en afleidings waarin twee i‘s langs mekaar staan, soos in antiinflammatories en kwasiintellek, draaiing en fraiing, vloeiing en toiings.

Al manier waarop die dubbele i in Afrikaans uitgespreek kan word, is met ʼn sillabebreuk tussen hulle. ʼn Koppelteken is dus nie nodig nie, en ook geen deelteken op die tweede i nie. Die gebruik van ʼn deelteken by twee i’s langs mekaar in Afrikaans is ʼn fout.

In enkele samestellings is die invoeging van ʼn koppelteken egter wel verpligtend. Dit is waar ʼn opeenhoping van klinkers, sonder ʼn koppelteken om die leser te help, slegs met moeite gelees kan word, of glad nie. In woorde soos sake-eenheid, bo-op, Comore-eilande, diere­epos, foto-omslag, bo-ent en kiwi-eier, byvoorbeeld, is die koppelteken nie opsioneel nie. Om te voorkom dat die klinkers aan weerskante van die sillabegrense saam as ʼn lang klinker of as ʼn tweeklank gelees of uitgespreek word, kan ons by hierdie woorde nie anders nie as om ʼn koppelteken in te span.

Bron: Die tale wat ons praat – taaldinge uit die gewilde radioprogram

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

groenboer ·

Lyk my as mens onseker is, is dit beter om dan maar die koppelteken in te sit; hy sal nie skade doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.