Taalgebruik: rekord

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire, Pixabay)

Jy stel ʼn rekord [NIE: nuwe rekord] op. Jy kan wel praat van “die vorige rekord” [NIE: die ou rekord] as jy die twee vergelyk, teenoor: ʼn (stok)-ou of vorige rekord van lank gelede.

Rekord word dus gebruik vir ʼn prestasie wat ʼn vorige prestasie oortref: Die atleet het ʼn rekord geslaan, laat spat of opgestel, die rekord geëwenaar, dit tot [NIE: na] 1,96 m verbeter of dit oortref.

Omdat rekord dui op die beste vertoning op ʼn bepaalde baan of gebied, word rekord(s) nie in figuurlike sin gebruik vir prestasies, inligting, handelinge of gebeure van die verlede nie; gebruik in lg. verband, na gelang van die konteks: dokumente, stukke, register, inskrywings, ʼn verslag, (skriftelike) bewys, gegewens of inligting, vermelding, misdaadgeskiedenis/=lys/-agtergrond of vorige veroordelings (weens misdaad), vonnislys, diensstaat, vertoning en optrede (tot dusver).

have a bad record baie op jou kerfstok hê of geen goeie geskiedenis hê nie.

a bad track record iemand se boeke is nie skoon nie, of sy het swak gevaar.

someone with a clean record iemand met ʼn skoon lei.

for the record om die feite te gee, vir die goeie orde, om iets te laat boekstaaf, om ʼn juiste/getroue weergawe te gee van iets wat gesê is.

the first record of die eerste vermelding van.

have a good (track) record (for) bv. ʼn maatskappy het al goed gevaar, gepresteer, groot welslae behaal of het ʼn goeie prestasielys.

keep record van bv. alle uitgawes boekhou of dit aanteken [NIE: rekord hou], opskryf of op skrif stel.

it is on record dit is bekend, geboekstaaf/aangeteken [NIE: dit is op rekord dat…].

place on record opteken, die feite gee, boekstaaf, laat notuleer, te boek stel, neerskryf, op skrif stel [NIE: op rekord plaas].

have a proud record ʼn trotse geskiedenis, prestasielys of verlede hê.

say something for the record vir kennisname.

a safety record ʼn veiligheidsgeskiedenis; veiligheidsprestasie/ =vertoning tot dusver kan goed of swak wees na gelang van die aantal ongelukvrye (werkers)dae.

speak on record iets sê wat gepubliseer kan word.

Bron: Skryf Afrikaans van A tot Z: Die essensiële gids vir taalgebruikers (SAAZ)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.