Woordsoorte: Tel jou woorde met telwoorde

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Hierdie aflewering in ons woordsoorte-blogreeks handel oor telwoorde. Die inligting wat in hierdie blog vervat word, is gebaseer op die inligting wat in die Afrikaanse skoolgrammatika (ASG) gepubliseer is. ASG is deel van die aanbod in Taalonderrigportaal, ʼn ruimte op ons webblad waar onderwysers, leerders, tutors en ouers gratis betroubare en geverifieerde inligting oor Afrikaans se grammatika kan bekom.

Telwoorde lyk op die oog af na een van daardie “maklike” woordsoorte – dis mos maklik om te bepaal wanneer ʼn woord ʼn hoeveelheid aandui – maar elke nou en dan is daar tog ʼn vangplek wat ʼn mens kan verwar, daarom help behoorlike inligting oor die woordsoort en sy kenmerke.

Wat is ʼn telwoord?

Die definisie van ʼn telwoord in ASG lui soos volg:

ʼn Telwoord is ʼn woord wat ʼn kwantiteit (hetsy bepaald of onbepaald), ʼn plek in ʼn reeks (hetsy bepaald of onbepaald) of ʼn breuk van ʼn geheel aandui.

Watter soorte telwoorde kry ons in Afrikaans?

Die definisie hier bo gee ons eintlik al klaar die antwoord. In Afrikaans is daar drie soorte telwoorde:

  • hooftelwoorde (dis die woorde wat die kwantiteit aandui);
  • rangtelwoorde (die woorde wat die plek in die reeks aandui); en
  • breuktelwoorde (die woorde wat die breuk van die geheel aandui).

Elke soort telwoord het boonop die vermoë om na ʼn bepaalde of onbepaalde (gespesifiseerde of ongespesifiseerde) getal te verwys.

Die voorbeelde hier onder illustreer hoe die verskillende telwoorde in ʼn sin optree:

  1. Twee kinders in die klas het covid. (bepaalde hooftelwoord)
  2. Daar is reeds sewe en dertig kinders in die skool met covid. (bepaalde hooftelwoord)
  3. Die totale aantal covid-sterftes in die land kom nou op 87 981 te staan. (bepaalde hooftelwoord)
  4. Baie kinders in ons skool het covid. (onbepaalde hooftelwoord)
  5. Tientalle leerders het tydens die sportdag aangesteek. (onbepaalde hooftelwoord)
  6. Honderde mense betoog vir beter mediese dienste. (onbepaalde hooftelwoord)
  7. Dit is nou die tweede kind in my klas wat covid kry. (bepaalde rangtelwoord)
  8. Hy is die tweedelaaste persoon om ingeënt te word vandag. (bepaalde rangtelwoord)
  9. Dit is die sewe-en-dertigste geval van covid in die skool. (bepaalde rangtelwoord)
  10. Dit is nou die duisendste keer wat ek vandag vir jou sê om jou hande te was. (onbepaalde rangtelwoord)
  11. Die hoof is die hoeveelste mens wat siek geword het. (onbepaalde rangtelwoord)
  12. Presies ʼn kwart van die klas is siek. (bepaalde breuktelwoord)
  13. Statisties gaan seweagtstes van die personeel die siekte opdoen. (bepaalde breuktelwoord)
  14. Die virus is ʼn triljilliënste van ʼn miljilliënste van ʼn millimeter groot. (onbepaalde breuktelwoord)

Watter kenmerke van telwoorde kan my help om hulle in sinne te herken?

  • Telwoorde kan uit ʼn enkele woord of uit ʼn klomp woorde bestaan (voorbeelde 1 en 2 hier bo). Laasgenoemde staan bekend as multiwoordtelwoorde.
  • Die skryfwyse van multiwoordtelwoorde word in die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) bereël. Hierdie reëls behels die volgende:
    • Multiwoord-hooftelwoorde met en kan los of met koppeltekens vas geskryf word (sien voorbeeld 2) (AWS 15.43).
    • Multiwoord-rangtelwoorde met en kan net met koppeltekens vas geskryf word (bv. seshonderd-twee-en-dertigste) (AWS 15.47).
    • Verbindings met tien word vas geskryf (bv. veertien) (AWS 15.44).
    • Verbindings met honderd, duisend, miljoen, miljard, kan los of sonder ʼn koppelteken vas geskryf word (bv. vier honderd miljard of vierhonderdmiljard). (AWS 15.45).
  • Telwoorde kan in woorde of in syfers weergegee word. Die syfer is bloot ʼn ander voorstelling van dieselfde begrip, daarom is die syfer se woordsoort steeds telwoord (voorbeeld 3).
  • Ek vermoed dat sommige skoolhandboeke nie breuktelwoorde as telwoorde aandui nie, maar sulke woorde se woordsoort is beslis telwoord.
  • Om die bepaaldheid of onbepaaldheid van ʼn telwoord te bepaal, moet ʼn mens (soos altyd) na die konteks kyk waarin dit gebruik word. Sommige onbepaalde telwoorde kan op die oog af na bepaalde telwoorde lyk, maar in die konteks verwys dit na ʼn ongespesifiseerde getal (sien voorbeeld 10).
  • Telwoorde word dikwels hiperbolies aangewend, en dan is hulle onbepaald (soos in voorbeeld 10). Sulke hiperboliese taalgebruik gee ook dikwels aanleiding tot nuutgeskepte telwoorde (sien voorbeeld 14).
  • Telwoorde is sintakties deel van ʼn NP (ʼn naamwoordstuk). Hulle is dikwels deel van die determineerder voor die NP (drie kamers) maar hulle kan ook ná ʼn naamwoord (kamer drie) optree.
  • Omdat telwoorde saam met naamwoorde optree, lyk telwoorde dikwels eerder na adjektiewe. Veral rangtelwoorde kan lyk na adjektiewe in die oortreffende trap (die eerste atleet x die vinnigste atleet). Die verskil is dat adjektiewe die naamwoord beskryf (vinnigste is ʼn eienskap van atleet). Telwoorde dui ʼn hoeveelheid of ʼn plek in ʼn sekwens aan (eerste dui die atleet se plek in die sekwens aan). Telwoorde sê met ander woorde hoeveel van die [naamwoord] of die hoeveelste [naamwoord] dit is, adjektiewe gee vir ons meer inligting oor die naamwoord self.
  • As daar nou ʼn woord is wat vir baie baie hoofbrekens kan veroorsaak, is dit baie. Met hierdie woord moet ʼn mens maar altyd weer en weer gaan kyk wat dit in die sin doen voor ʼn mens sy woordsoort bepaal:
    • Baie mense het siek geword. (onbepaalde hooftelwoord; dui ʼn ongespesifiseerde hoeveelheid aan)
    • Baie het siek geword. (onbepaalde voornaamwoord; tree in die plek van ʼn naamwoord op en funksioneer hier as subjek van die sin)
    • Die leerders met covid het baie siek geword. (bywoord; is ʼn graadaanduiding by die adjektief siek)

Hoekom is dit belangrik om telwoorde te kan herken?

Baie van die reëls in die AWS verwys na woorde se woordsoort, en as ʼn mens dit nie kan herken nie, verstaan ʼn mens ook nie hoe die reël werk nie. As ʼn mens telwoorde kan herken, kan ʼn mens reëls soos die volgende korrek toepas:

  • Telwoorde word gewoonlik los van die naamwoord geskryf (AWS 15.33), bv.: tien gevalle, die tiende geval, die soveelste geval, die helfte van die gevalle.
  • Rangtelwoorde wat langs mekaar staan, kan vas of los geskryf word (AWS 15.33 (b), bv.: tweedelaaste of tweede laaste.
  • Straatname waarin daar rangtelwoorde voorkom, kan vas of los geskryf word (AWS 15.35), bv.: Sewendelaan of Sewende Laan.
  • Plekname met ʼn rangtelwoord as eerste element word vas geskryf (AWS 15.37), bv.:
  • Plekname met ʼn hooftelwoord as eerste element en ʼn naamwoord in die meervoud word los geskryf (AWS 15.38), bv. Drie Susters, Twee Riviere.
  • Plekname met ʼn hooftelwoord as eerste element en ʼn naamwoord in die enkelvoud word vas geskryf (AWS 15.39), bv. Sesriem, Driefontein.
  • Die geheelpartikel al wat saam met ʼn telwoord optree, word los geskryf (AWS 15.40), bv. al honderd, al sewe en twintig, al twee.
  • Maatbepalings waarin daar telwoorde optree en wat deur ʼn adjektief gevolg word, is los (AWS 15.42), bv.: twee maande lange, ses weke oue.
  • Telwoorde kan in samestellende samestellings optree. Sulke samestellende samestellings word vas geskryf omdat die telwoord net op die eerste naamwoord van toepassing is, nie die hele samestelling nie (AWS 15.27), bv.: driesterhotel, vyfjaarplan.
  • Samestellings waarin daar getalle voorkom, word met ʼn koppelteken vas geskryf. Sulke bousels kan baie kompleks raak en daarvoor het ʼn mens hoofstuk 7 van die AWS nodig. Die skryfwyse van samestellings soos 17A-rugbyspan en graad 5-klas word in dié hoofstuk bereël.

As jy nog inligting oor telwoorde benodig, kyk gerus in Taalonderrigportaal, of skakel met ons by [email protected]. Ek en kollega dr Stefan van Zyl help graag.

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Taalgebruik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.