Woord:
doedelsak
Betekenis:
1. Skotse blaasinstrument, bestaande uit ‘n lugsak met pype.
2. Rommelsak.
3. (eufemisties) Manlike geslagsdele.
Waar kom dit vandaan?
In betekenis 1 uit Nederlands doedelzak (1783).
Betekenis 2 en 3 het in Afrikaans self ontwikkel.
Nederlands doedelzak uit Hoogduits Dudelsack uit Slawiese tale, vergelyk Tsjeggies dudy “doedelsak”, Serwo-Kroaties duduk “fluit”, uit Turks ook duduk “fluit”, wat verband hou met dudak “lip”.
Die Duitse vorm Dudelsack is beïnvloed deur dudeln: “‘n gedempte toon voortbring, op ‘n doedelsak speel”. Nederlands doedelen = “fluit” of “op die doedelsak speel”.
Hierdie interessante brokkie is aan Maroela Media se Taaltoffie verskaf deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.