Woord: fatsoen

Argieffoto (Foto: cjhartz169/Pixabay)

Woord:
fatsoen

Betekenis:
1
 Uiterlike of sigbare vorm of bou, omtrek van ʼn voorwerp, in teenst. met die stof of kleur; voorkoms of vorm van iets, soms ook van ʼn persoon; vorm, model, snit (van klere): Die skottel het ʼn snaakse fatsoen. Dis ʼn ongewone fatsoen vir ʼn peer. ≈ Borstrokke druk soms die liggaam uit fatsoen (M.E.R.). • Sy trek hier en daar ʼn valletjie van haar kappie in fatsoen (Leon Maré). • Dis mooi stof, maar ek hou nie van die jas se fatsoen nie. Sy stoot haar hare beter in fatsoen (Jochem van Bruggen). • Die ding het gʼn fatsoen nie. Iets ʼn fatsoen gee. Uit [sy] fatsoen [uit]. Iets uit of weer in sy fatsoen bring, die vereiste vorm. Iemand van growwer fatsoen as sy maat, maar skrander.
2 (geen meervoud) Alles wat betrekking het op voorgeskrewe maatskaplike gedrag en optrede; gedrag of wyse van optree soos voorgeskrywe deur die konvensie, gewoonte, wellewendheidsvorme, ens.; behoorlikheid, ordentlikheid; goeie maniere, wellewendheid: ʼn Onleerbare bekvelder wat hom nie na die eise van die hoë fatsoen wil skik nie (C.J. Langenhoven). • Met [goeie] fatsoen, ordentlik, met ordentlikheid, sonder om aanstoot te gee. Gray, op heterdaad betrap, kon nie met fatsoen aan die aangekondigde gaste ontsnap nie en moes gevolglik met mev. Fraser kennismaak (Helmüth Luttig). • Waar in ʼn ongelyke stryd Jan al lank sou geretireer het om met goeie fatsoen daaruit te kom (J.H.H. de Waal). • Die reëls en wette van die fatsoen. Hy ken gʼn fatsoen nie. Hou, bewaar jou fatsoen! — gedra jou. Vir die fatsoen.
3 (geen meervoud) Maatskaplike waardigheid; [goeie] stand, aansien; eer: Regtige arm mense wat nie hul fatsoen hoef te handhaaf nie (Marie Linde). • Hy is baie op sy fatsoen gesteld. Jou fatsoen ophou, bewaar, jou stand handhaaf, nie ʼn agteraf indruk maak nie. Jou fatsoen weggooi. Jou fatsoen kwyt wees. ʼn Meisie van fatsoen, eerbaar. Sy loop met haar fatsoen te koop.
4 Iem. of iets wat deur uiterlike voorkoms opval en gew. spot of minagting uitlok; snaakse persoon; patroon: Wat ʼn fatsoen van ʼn mens met haar belaglike mus — nes ʼn onmens wat bed toe gaan (A.H. Jonker). • Piet: Ek sal jou kêrel wees. Kato: Nie jy nie, jou malle fatsoen (F.J. le Roux). Wat ʼn snaakse fatsoentjie!

Hierdie interessante brokkie verskyn in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Ondersteun gerus hulle Borg ʼn Woord-projek.

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê maar net ·

Of: “Dis nie fatsoenlik om so voor op die wa te wees nie” :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.