Woord: klets- of geselsbot

(Argieffoto: Pixabay)

Dit gons die afgelope ruk behoorlik oor ChatGPT, ʼn kunsmatige intelligensie- (KI) kletsbot wat met uitgebreide teks op eenvoudige instruksies reageer. Taaltoffie stel ondersoek in na Afrikaanse woorde wat in die plek van die Engelse chatbot gebruik kan word.

Volgens die Woordeboek van Afrikaans Vandag kan ʼn mens in Afrikaans kletsbot of geselsbot gebruik wanneer daar verwys word na ʼn “rekenaarprogram wat kunsmatige intelligensie gebruik om gesprekke met menslike gebruikers te simuleer, veral via die internet”.

Die woordeboek verduidelik verder dat die –bot in klets– en geselsbot ʼn verkorting van die woord robot is.

Voorbeeld:
Ander maatskappye probeer jou van die spoor af gooi met die sogenaamde ChatBot, ʼn stukkie kunsmatige intelligensie wat veronderstel is om jou unieke probleem op ʼn geselskanaal op te los. Ek moet nog iemand ontmoet wie se probleem deur ʼn geselsrobot opgelos is (Albertus van Wyk, Vrye Weekblad, 4 November 2022).

Kletsbot is in 2021 as een van Pharos Woordeboeke se top-30 woorde van die jaar gekies. Die uitgewer het elke maand vir gebruikers gevra om vir hulle gunstelingwoorde te stem.

Hierdie interessante brokkie is opgeneem in die aanlyn woordeboek, Woordeboek van Afrikaans Vandag.

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron, versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.