Woord: proes

Argieffoto (Foto: Ben White/Unsplash)

Woord:
proes

Betekenis:
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gee ʼn paar betekenisse vir die woord “proes”.

In die konteks van diere en nie-lewende voorwerpe verwys “proes” na die aksie waar lug deur saamgeperste lippe uitgeblaas word, wat ʼn trilling van die lippe en ʼn effens skor geluid veroorsaak.

ʼn Voorbeeld uit die WAT: Hy (sien) net ʼn wit pad vrolik uitgestrek lê deur die groen velde en hy hoor proesende perde en die geklop van die draaghout op die disselboom (C.M. v.d. Heever: Jeug, 1951: 98).

By mense is “proes” ʼn onwillekeurige aksie wat ʼn kombinasie van ʼn nies en ʼn hoes is. Dit is wanneer lug kragtig, spasmodies uitgeblaas word en dit aan die manier waarop diere proes herinner. Wanneer iemand proes kan dit ook verwys na ʼn spontane laguitbarsting, omdat daardie persoon nie verder ʼn ingehoue lag kan onderdruk nie.

Nog ʼn voorbeeld uit die WAT: Dit het … nie gelyk asof Marja regtig wrokkig was nie, en dit was nie lank voor hulle proestend van die lag ervarings aan die uitruil was nie (E. Baker: Dossier, 1988: 33).

Waar kom dit vandaan?
Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) is die oorsprong van die woord “proes” afgelei van die Nederlandse proesten. Proesten is reeds in die Middelnederlands met die betekenis “deur die neus blaas, nies” gebruik. In 1808 het dit ook in betekenis “uitbars van die lag” gekry. Die woord is klanknabootsend gevorm.

Bronne: Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA), Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.