VivA stel Taalportaal en Taalonderrigportaal bekend

Grafika: Mediamodifier/Pixabay

Ek het begin skryf aan ʼn reeks blogs oor woordsoorte in die tyd van korona. Dit was doelbewus, want ek wou so metterskryf laat weet dat die Virtuele Instituut vir Afrikaans met die hulp van ʼn span medewerkers tans hierdie afdeling in ʼn omvattende grammatika vir Afrikaans afhandel. Ons beoog om die navorsingsprojek op 21 Mei 2020 bekend te stel.

Maar voor ek meer daarvan vertel, kom ons begin by die begin. Die vlagskipprojek van die Virtuele Instituut vir Afrikaans [VivA] was van die stigting van die instituut in 2015 die behoorlike beskrywing van Afrikaans se grammatika. ʼn Soortgelyke projek is vir Nederlands en Fries onderneem, en Afrikaans het daarby ingeskakel, wat beteken dat Afrikaans se unieke, geleende en oorgeërfde taalstrukture nou vir internasionale navorsers toeganklik is. Hierdie inligting word gehuisves in Taalportaal, en dit is die soort inligting wat M- en D-studente en postdoktorale genote nodig het om hulle studie oor Afrikaans voort te sit. Met hierdie inligting is Afrikaans nou deel van die internasionale taalnavorsingswêreld.

Uit Taalportaal het ʼn tweede projek gevloei, wat ons Taalonderrigportaal (of TOP) noem. In TOP word Afrikaans se grammatika ook beskryf, maar op ʼn manier wat vir universiteitstudente en vir onderwysers toeganklik is. Die universiteitswerk word vervat in ʼn algemene Afrikaanse grammatika (AAG) en die skoolwerk in ʼn Afrikaanse skoolgrammatika (ASG). Albei hierdie grammatikas word op ons webtuiste gehuisves, en is gratis toeganklik vir enige geregistreerde VivA-gebruiker. (Registrasie is gratis.)

Nie AAG of ASG is ʼn handboek nie. Dit is nie eksamenafrigting nie, en dit vervang nie onderwysers of enige ander hulpmiddel wat tans vir die onderrig van Afrikaans ontwikkel is nie. Dit is wel die vakinhoud wat ʼn mens nodig het om ʼn handboek te skryf of wat onderwysers nodig het om lesinhoud of leerhulpmiddels te ontwikkel.

Op hierdie punt is ons byna klaar met die afdeling oor woordsoorte. Dit was ʼn enorme werk, omdat ons baie seker wou maak dat ons nie verouderde of verkeerde vakinhoud opneem nie. Die werk wat ons aflewer, is dus belyn met die nuutste internasionale navorsing, en die proses wat ons gevolg het, het ingehou dat die inhoud verskeie keer deur taalkundiges gehalteverseker is. Gebruikers wat inligting in Taalonderrigportaal kry, kan seker wees dat hulle korrekte, gehalteversekerde en geverifieerde taalkundekennis opdoen.

Ek het reeds gesê die inhoud van AAG en ASG sal op ons webwerf beskikbaar gestel word. Die inhoud in AAG is meer gevorderd en is die soort kennis wat voorgraadse studente oor Afrikaans se grammatika behoort te hê. Die inligting in hierdie afdeling is saamgestel uit insigte uit die navorsing in Taalportaal, maar ook uit bestaande bronne oor Afrikaanse taalkunde (soos die bekende werke van Combrink, Ponelis en Van Schoor) en beskrywende grammatikas soos die een van Longman.

Die inhoud van die skoolgrammatika is geskryf met die onderwysers van Afrikaans Huistaal in die VOO-fase as teikengebruiker. Dit beteken natuurlik nie dat ander gebruikers dit nié mag gebruik nie, maar ons het aanvaar dat die vereistes vir grammatikaonderrig in die VOO-fase die grootste uitdagings stel en die breedste grammatikakennis vereis. Indien ons die vereistes vir die VOO-fase dek, is die vereistes vir die ander fases ook gedek.

Ons het, as eerste stap van die proses, die KABV vir al die fases behoorlik deurgewerk, en aangeteken wat die vereistes vir die onderrig van “taalkonvensies en -strukture” is. Die werk wat in ASG aangebied word, is dus volledig met die vereistes in die KABV belyn. ASG bevat egter nie lesplanne, oefeninge of eksamenvoorbereiding nie, dit bevat vakinhoud, wat dit vir onderwysers moontlik maak om korrekte inligting aan leerders te gee, en wat dit vir leerders en ouers moontlik maak om korrekte inligting te bekom indien hulle vrae oor grammatika moet beantwoord.

Op hierdie punt is die eerste vraag gewoonlik of die onderwysdepartement van hierdie werk weet. Die antwoord is ja, ons het met die onderwysdepartement en ander belanghebbendes hieroor in gesprek getree. Ons sal ná die bekendstelling van die eerste fase van die projek verder met die onderwysdepartement gesels oor die verspreiding van die inhoud, sodat ons seker kan wees dat alle onderwysers toegang kry daartoe.

Ons leef in ʼn digitale era, VivA is ʼn virtuele instituut, en ons glo onwrikbaar in die reg van onderwysers om onbeperkte toegang te hê tot die kennis wat hulle nodig het om die taal te onderrig. Ons glo ook in die reg van taalgebruikers op onbeperkte toegang tot kennis oor hulle eie taal, en ons glo in die reg van leerders om toegang te hê tot korrekte vakinhoud. As taalonderrig ʼn uitdaging is, moet dit wees omdat die vakinhoud uitdagend is, nie omdat die vakinhoud verkeerd of ontoeganklik is nie.

Ons het nie, toe ons hierdie projek aangepak het, voorsien dat korona ons wêreld deurmekaar sou krap nie. Maar dit het, en ons het opnuut besef hoe noodsaaklik dit is om behoorlike kennis digitaal beskikbaar te stel. Ons is almal bekommerd oor die skooljaar, oor kinders wat agter raak, oor onderwysers en ouers wat nie die mas opkom nie. Toegang tot kennis is nou van die allergrootste belang, en VivA werk nou dubbel so hard om hierdie kennis tot die beskikking van die hele taalgemeenskap te stel.

Op 21 Mei 2020 maak ons Taalportaal en Taalonderrigportaal oop. Die geleentheid vind virtueel plaas, en almal wat ʼn belang het by die ontwikkeling van ʼn Afrikaanse grammatika, is welkom om die bekendstelling by te woon. Dit vind plaas van 10:00 tot 11:00 en as jy graag wil meedoen, moet jy met Alizma Prinsloo by [email protected] skakel om vir jou ʼn plek in die virtuele ruimte te bespreek. As jy geregistreer het, sal jy ʼn kode en instruksies ontvang oor die aantekenproses.

Ons sien baie uit na hierdie grootse geleentheid. Ons hoop dat AAG en ASG die frustrasie oor die onderrig en leer van taalkonvensies en -strukture uit die weg sal ruim. Ons hoop om daarmee ʼn betroubare vennoot te word in die onderrig van Afrikaans, om geverifieerde vakkennis aan die taalgemeenskap te voorsien en om met hierdie bydrae die taal na die beste van ons vermoë te dien.

Die volgende medewerkers was lede van die span:

TaalportaalTaalonderrigportaal
Prof Ian Bekker (fonologie)Johan Anker
Prof Adri Breed (sintaksis)Nina Brink
Prof Jac Conradie (sintaksis)Nadine Fouché
Prof Gerhard van Huyssteen (morfologie)Sophia Kapp
Dr Johanita Kirsten (sintaksis)Jana Luther
Prof Ernst Kotzé (sintaksis)Suléne Pilon
Prof Haidee Kotzé (sintaksis)
Prof Bertus van Rooy (sintaksis)
Prof Piet Swanepoel (morfologie en sintaksis)
Prof Daan Wissing (fonologie)

Prof Gerhard van Huyssteen is die eindredakteur van die projek.

VivA-groete
Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.