Winterskool-wenner (verhaal): Dooie honde byt nie

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en Maroela Media het onlangs die wenners aangewys van die Winterskool 2018-skryfkompetisie.

Die wenners was:
Verhale: Lydia Gittens met Dooie honde byt nie
Rubrieke: Sarie Marais-Nell met Katie se koppie
Gedigte: Olga Leonard met Erf (ook met inagneming van Kanker en Slaapliedjie vir ’n stilgeboorte)

As wenprys is elk van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsfooi vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool 2018, wat in Junie aan die NWU-kampus te Potchefstroom aangebied is. Maroela Media het ook die wenners se verblyfkoste vir die kursustydperk gedek.

Die drie wenners het ook die geleentheid gehad om, tydens die Winterskool, aan verder aan hul tekste te werk en dit te skaaf tot ʼn finale produk uiteindelik hier op Maroela Media gepubliseer kan word.

Hiermee die finale weergawe van Lydia Gittens se verhaal:

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Dooie honde byt nie

“Juffrou?”

Mariska lek vlugtig oor haar lippe. “Dis Mevrou. Mevrou du Preez.”

’n Halwe glimlag krul om sy mondhoek, so asof hy weet sy lieg.

Dis nou belaglik. Hoe kan die bonkige man in sy netjiese manelpak weet sy lieg?

“Sal ons ingaan?” Sy warm asem ys teen haar oor. Sy ruk weg. Sien die fyn spot in sy oë. Sy stap vinnig vooruit. Die man gee haar behoorlik die koue rillings. Maar sy het hom nodig. Bitter nodig.

 

Die maître d’ kom dadelik nader toe hulle die restaurant binnestap.

“Goeienaand. Welkom. Julle van?”

“Du Preez. Mevrou du Preez. Ek het gister bespreek.”

Hy knik. “U het die tafel regs, derde van agter versoek?”

“Korrek.” Hopelik volg haar metgesel ewe punteneurig haar opdrag.

Hy gaan sit rug teen die muur. Sy oë flits ’n slag deur die vertrek voor hy gemakliker agtertoe skuif en die styf geparste servet oor sy skoot oopvou.

“Ons spesialiteit vir die aand is blouvintuna. Of sou julle iets anders verkies?”

“Die tuna klink perfek,” besluit haar metgesel.

“Vir my ook, dankie.” Mariska loer onderlangs na die man oorkant haar aan tafel. Hierdie ontmoeting by een van die duurste restaurante in die stad vind plaas op sy versoek. Seker sy manier om seker te maak of sy wel sy dienste kan bekostig. Vanaand gaan sy eenvoudig moet oë toeknyp en betaal.

Hy glimlag skeefweg toe die maître d’ wegstap. “Jy weet seker jy het pas sushi bestel?”

Rou vis. Sy ril tot in haar kleintoontjie.

“So gedink. Blouvintuna is een van Japan se mees gesogte disse. In die volksmond staan dit bekend as Koning van Sushi. Dit is vir die eerste keer in …”

Sy skuif ongemaklik op haar stoel rond. Moet sy werklik hierna luister as daar lewe en dood op die spel is? Nie dat sy enigsins twyfel in sy vermoëns nie; daarvan het sy doodseker gemaak. Maande lank nagespeur. In die diepste, donkerste hole ingekruip. Kontakte se kontakte uitgevra en betaal. Hoeveel keer oorsee gegaan om na ’n skim te soek. Uiteindelik sy spoor in Suid-Afrika raakgeloop. Dit het toe nog weke se fyn onderhandeling deur ’n middelman gekos om hom te oorreed om haar opdrag te aanvaar. Sy voorwaarde: hy wou haar ontmoet, vóór hy dit sou uitvoer. Nie in haar wildste drome het sy so ’n gekultiveerde man verwag nie.

ʼn Beweging dieper die restaurant in trek haar aandag. Die naarheid dreig om na iets ergers oor te gaan.

“Wie’s sy?”

Sy skeur haar oë weg van die rooikop. “Sy’s jou teiken?”

Hy fluit saggies.

Die irritasie stoot in haar op. Tipies man. “Ja, ek weet sy is mooi.”

“Mooi? Beeldskoon is ’n te flou woord om haar te beskryf. As ek geweet het dis so ’n godin…”

“Noem jou prys.”

“Nie so haastig nie. Wie is sy?”

“Haar naam is Retha de Wet.”

“Kinders?”

“Geen.”

“Hoekom so ’n drastiese stap? Daar is sekerlik ander maniere om van jou ‘probleem’ ontslae te raak?” Kuggie net voor “probleem”. En toe: “Sy is tog jare jonger as jy?”

Die bloed skroei oor haar gesig. “Ek betaal jou om ’n diens te verrig; nie om sielkundige te speel nie.”

Hy trek sy skouers op. “Dis op jou gewete. Adres?”

“Hoewe 387. Niemandswyk 4.”

“Enige voorkeur oor wanneer die opdrag uitgevoer moet word?”

“Woensdagoggend tussen tien- en twaalfuur.” Die enigste dag en tyd waarop Gerrit kantoor toe gaan eerder as om van die huis af te werk. Niks mag verkeerd loop nie.

“Julle kos.” ’n Kelner plaas ’n bord voor elkeen neer. “Geniet dit.”

Sy krap lusteloos met haar vurk in die kos. Hou onderlangs vir Retha en haar vriendinne dop. Gelukkig weet dié nie hoe sy lyk nie. Sal hulle buitendien nie aan ’n oujongnooi steur nie.

Na wat soos ’n ewigheid voel, stoot hy sy leë bord eenkant toe. “Heerlik. Nou kan ons sake praat.” Hy noem ’n astronomiese bedrag. “Helfte nou. Die res sodra die opdrag uitgevoer is.”

Sy sluk. Sy gaan ten minste van een van haar motors ontslae moet raak. Dalk twee beleggings losmaak. “Hoe weet ek jy sal die opdrag uitvoer en nie bloot met die eerste helfte van die geld verdwyn nie.”

“Ek doen nooit halwe werk nie.”

“Solank jy net seker maak daar word geen bewyse agtergelaat nie. Daar mag niks agterbly wat die moord hoegenaamd aan my kan verbind nie.”

Sy oë verdonker. “Ek ken my werk. Eerste paaiement: Dinsdag. Twaalfuur, by Sint Mario. Ek soek dit in gebruikte banknote. Moenie laat wees nie.” Met dié loop hy by die restaurant uit.

Die wynbottel rinkel teen die glas toe sy die laaste bietjie in haar glas gooi. Moet sy werklik hiermee voortgaan? Speel sy nie met ’n vuur wat haar gaan verswelg nie? Iewers lui ’n selfoon. Dit vat ’n oomblik voor sy besef dis hare. “Gerrit?”

“Naand, liefling.”

Sy klem die foon styf teen haar oor. Wil elke nuanse van sy stem indrink. “Waar is jy?”

“Voor dooiemansdeur.”

“Jy bedoel…?”

Sy lag rinkel oor die foon. “Ek staan voor jou woonsteldeur en verlang my stukkend. Op die koop toe het ek baie groot nuus.”

“Ek’s op pad.” Sy druk die foon haastig terug in haar handsak. Opwinding bruis deur haar. Groot nuus? Kan dit wees dat hy finaal besluit het om van Retha te skei. “Hou die kleingeld!” roep sy oor haar skouer, reeds halfpad by die gebou uit.

Die bekende silwer sedan staan skuins oor haar ingang geparkeer. Sy vlieg uit haar motor, reg in sy arms in.

“Liefling, jy…”

Woorde smoor teen haar hare. Warm lippe streel soekend oor haar gesig tot hulle uiteindelik haar lippe opeis. Om haar vervaag alles. Is dit net sy en die man wat sy met haar hele wese bemin. Geleidelik woed die storm tussen hulle uit. Onder haar oor klop die musiek van sy hart. “Bly by my.”

“Jy weet ek wil … maar ek kan nie. Nie vanaand nie. Ek het ná landing dadelik hierheen gekom; maar nou moet ek huis toe.”

“Kan jy nie vir Retha laat weet die vliegtuig is vertraag of so iets nie?” smeek-vra sy, teen haar eie beterwete in.

Sy lippe streel oor haar hare. “Liefste, jy weet tog…”

Sy ruk haar kop weg, maar bly in die kring van sy arms staan. Ja, sy weet maar te goed: Retha het hom nodig. Dis elke keer sy verdompte redenasie. Haar hande gly oor die geliefde gestalte voor haar. Adonis se Moses. Sy buig haar kop agtertoe om hom in die oë te kyk. Besonderse oë. Iets tussen lasuursteen en smarag. “Jy moet my nog die groot nuus vertel?” Sy druk weer haar gesig teen sy baadjie aan. Adem hom in: die mengsel van fyn speserye, dennenaalde en suiwer viriliteit tot diep in haar siel in.

“Ek is ’n pos in Londen aangebied – met hope goeie voordele.”

“Dis wonderlik.”

Sy voel haar in ’n droom waaruit sy nie wil wakker word nie.

Uiteindelik sal hulle saam kan wees. Weg van Retha af. Hulle sal oor kan begin. Skoon begin. Net hulle twee. Soos dit bedoel was – maar toe ontmoet hy vir Retha eerste, instede van haar. Nou sal die orde herstel kan word.

Met ’n tevrede sug laat gly sy haar arms om Gerrit se nek. Wag vir die gebrand van sy lippe.

Niks.

Haar oë vlieg oop. “En nou. Wat … wat’s fout?”

Sy oë is seer. “Ek het pas besluit om my posaanvaarding terug te trek.”

“Hoekom?”

“Verstaan jy dan nie?” kreet hy dit uit.

“Nee!”

“Ek wil nie so ver van jou af wees nie.”

“Maar jy sal nie wees nie. Ons sal tog saam wees in Londen? Vir ewig bymekaar.”

Hy ruk hom los uit haar omhelsing. Gaan staan by sy motor, rug na haar toe. “Die hemele weet ek het jou lief. Maar Retha het my nodig. Jy is ouer en kan met gemak op jou eie bene staan. Retha is te jonk, te onervare. As dinge anders was …”

Sy stem breek. Sonder om weer na haar te kyk, ruk hy die motordeur oop. Skakel die enjin aan en jaag met skreeuende bande weg.

 

Tienuur. Tien oor tien. Twintig oor … Sy is lus en gooi haar polshorlosie teen die restaurant se klipmuur stukkend. Waar bly die man? Hy het haar hand en mond belowe: vandag is dié dag. Haar oë dwaal vir die hoeveelste keer venster toe. Dit reën nou heelwat sagter.

“Het jy die res van my geld saamgebring?” fluister hy by haar oor.

Haar kop ruk onwillekeurig op. “Natuurlik.”

Hy skuif oorkant haar in. Wink die kelner nader. “Ek glo sjampanje is in orde.”

“Jy’t dit gedoen.” Sy lag verlig. Sy kan nie wag om die treurende wewenaar te gaan vertroos nie.

Hy grinnik. “Natuurlik. ʼn Enkele skoot; toe is alles verby. Die godin het nie eens tyd gehad om te gil nie.”

Vandag drink sy ’n hele bottel sjampanje leeg. Maar sy moet wéét. “Jy is seker niemand het jou gesien nie?”

“Beslis nie.” Hy glimlag skeefweg. “Dinge het wel nie so glad verloop as wat ek beplan het nie – maar, nou ja, sulke dinge gebeur met die beste van ons.”

“Bedoelende?”

“ʼn Onverwagse probleempie het hier teen die einde opgeduik. Darem nie iets waaroor jy jou hoef te bekommer nie.”

“Waarvan praat jy? Watse probleem?”

“Niks wat ek nie kon hanteer nie. Ek het die teiken pas geskiet toe iemand by die kamer instap en my by die lyk sien.”

Die aarde tuimel om haar. Sy gryp blindelings na die tafelblad tussen hulle. “Wie?” Sy sukkel die vraag oor horingdroë lippe.

“ʼn Man.”

“Grys en lank?”

“Einste. Sy oë was baie besonders gewees. Iets tussen lasuursteen en smarag, of so … Toe nou, jy hoef nie so verskrik te lyk nie! Ons is honderd persent veilig. Dooie honde byt nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yolandi ·

Maroela… ek weet nie of ek die kat aan die stert beet het nie… maar die is die selfde as die eerste gedeelte en nie die finale gedeelte nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.