Boer vertel van Griekwastad-moord

Deon, Christel en Marthella Steenkamp

Joachim Scholtz, ʼn boer van Griekwastad, het Dinsdag onthul hoe hy, tydens ʼn familiesamekoms, van die drie moorde in die gebied te hore gekom het.

Scholtz getuig dat hulle, as familie van omtrent 40 mense, gereed gemaak het om die braaivleisvure aan te steek, toe sy vrou hom laat weet het daar is ʼn dringende telefoonoproep vir hom. ʼn Sakeman in die dorp het hom geskakel oor ʼn plaasaanval op die Steenkamp-plaas.

Die hof hoor tans getuienis aan in die moordsaak van ʼn 16-jarige seun. Die seun word van die moord op Deon Steenkamp (44), sy vrou Christel (43) en dogter Marthella (14) op die plaas Naauwhoek op 6 April 2012 beskuldig.

Scholtz het in sy getuienis gesê dat hy sy selfoon gegryp en Deon Steenkamp eerste geskakel het. Hy het toe Christel se nommer geskakel, maar niemand het geantwoord nie. Scholtz het aan die hof gesê hy het toe ʼn flits gegryp en na die Naauwhoek-plaas gery, sowat 22km van sy plaas af, aan die anderkant van Griekwastad.

By die plaas het hy polisiebeamptes op die toneel gevra of daar enige oorlewendes is, maar hulle het nie geweet nie.

Hy het toe, met toestemming, saam met ʼn polisiebeampte die huis ingegaan om te kyk of daar enige oorlewendes is, en hulle het Deon, Christel en Marthella dood aangetref. Die polisie het hom later weer gevra om by die huis in te gaan om die kluis in die hoofslaapkamer te ondersoek. Hy het verskeie vuurwapens in die kluis opgespoor.

Scholtz het ook getuig dat hy in ʼn stadium die honde buite die huis gehoor het, en het gaan ondersoek instel. Halfpad tussen die huis en die skuur het hy op hulle afgekom waar hulle bloedbevlekte klippe gelek het. Hy het aan die hof gesê hy het die bloedvlekke met 20liter-emmers bedek nadat hy die honde verwyder het.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.