De Doorns: Motorbande aan die brand gesteek, paaie versper

Chaos het in die Witzenberg-streek uitgebreek as deel van die voortslepende plaasarbeiderstaking.

Die staking het verlede week begin toe plaasarbeiders in De Doorns op ʼn dagloon van R150 aangedring het. Betogers het intussen winkels en store in Wolseley begin plunder, berig EWN. Daar is ook gerugte van geweerskote wat gehoor is.

ʼn Satellietstasie is Dinsdag in Ceres aan die brand gesteek. Libby Swarts, woordvoerder vir die polisie, het gesê drie polisievoertuie en ʼn boer se privaat motor is op hul dak gekeer en deur die betogers aan die brand gesteek.

Daar is ook berigte dat wingerde in Porterville, in die Bergrivierstreek, en Prince Albert aan die brand gesteek is.

Verkeersbeamptes bevestig dat verskeie paaie reeds weens die betoging gesluit is. Paaie wat gesluit is, is die R321 en die R43 na Villiersdorp, asook die R60 na Robertson en die R62 tussen Robertson en Ashton.

Gerugte doen ook die rondte dat betogers met busse aangery word om amok in verskeie plaasgemeenskappe te saai.

Inwoners het Woensdagoggend motorbande by ʼn informele nedersetting in De Doorns aan die brand gesteek. ʼn Pad na Stofland is ook met brandende motorbande versper en ʼn donker rookwolk kon van ver gesien word.

Attwell Nazo, president van die Food and Allied Workers’ Union sal Woensdag plaasarbeiders in Ceres en De Doorns toespreek. Die vergadering sal om 13:30 by die Stofland-stadion in De Doorns plaasvind. Na verwagting sal arbeiders oor die regering se reaksie oor hul eise ingelig word.

Tina Joemat-Petterson, minister van landbou, het Dinsdag die gebied besoek waar sy gesê het dat sy Mildred Oliphant, die minister van Arbeid, van hul eise in kennis sal stel. Sy versoek arbeiders om na die onderskeie plase terug te keer. Baie min plaaswerkers kon Woensdagoggend in die wingerde gesien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.