Griekwastad: ‘Bewysstukke reg hanteer’

‘n Foto van Deon, Christelle en Marthella Steenkamp tydens hul roudiens. Foto: Maricelle Botha/OFM

Die Noord-Kaapse hooggeregshof het Dinsdag gehoor dat alle forensiese bewysstukke in die Griekwastad-moordsaak reg hanteer is ondanks ʼn paar administratiewe foute.

Staatsadvokaat Hannes Cloete het ʼn album van nagenoeg 140 foto’s van die moordtoneel en bewysstukke aan die hof gewys. Die foto’s is deur luit. André Mcanda, bevelvoerder van die Noord-Kaapse misdaadtoneelondersoekeenheid, geneem. Mcanda het getuig dat die forensiese ondersoek op die toneel eers teen 1:00 die oggend van 17 April 2012 afgehandel is. Mcanda sê nadat hy terug by die kantoor was, het hy ʼn fout gemaak met die tik van nommers op van die sakkies met bewysstukke in. Dit is egter later reggemaak. Die foto’s wys ook hoe die eerste polisiebeamptes op die toneel die liggame van Deon Steenkamp, sy vrou Christelle en hulle dogter Marthella gevind het. Deon en Christelle het op hul mae gelê terwyl Marthella op haar sy langs haar ma gelê het.

Toe daar foto’s van die slagoffers se gesigte aan die hof gewys is, het die 16-jarige seun wat van hul moorde verdink word weggekyk. Die foto’s wys ook bloedspatsels op die teëlvloer in die kombuis, op ʼn kombuiskas en op ʼn swart telefoon. Die telefoon se gehoorstuk was van die mikkie af. Mcanda het getuig dat twee koeldrankglase op die vloer buite die kombuis gevind is en dat die kombuis se deur beskadig was. Mcanda het getuig dat hy ook toetse vir kruit op die tienerseun gedoen het. ‘n Smeermonster van moontlike bloed wat van die seun se lyf geneem is, het intussen verdwyn. Die saak gaan Woensdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.