Krejcir se vermeende aanvaller dalk veiliger agter tralies

Die motor wat gebruik is in die sluipmoordaanval teen Radovan Krejcir

ʼn Voormalige werknemer van Radovan Krejcir is in hegtenis geneem en word van sameswering om die omstrede Tsjeggiese sakeman te vermoor, berig EWN.

Brendan Harrison, wat vroeër by Krejcir se maatskappy in Bedfordview, Money Point Gold Exchange, gewerk het, het volgens EWN Woensdag in ʼn hof in Germiston in Gauteng verskyn en sal nog vir minstens drie weke lank in aanhouding bly.

EWN berig die omstandighede rondom Harrison se inhegtenisneming is só vaag dat sy suster, Heather Rush, gesê het sy is nie seker waarom hy aangekeer is nie.

Harrison is aangekeer toe hy in Suid-Afrika geland het. Rush het aan EWN gesê hy het die land in September 2012 verlaat. “Hy het gesê hy moet die land verlaat omdat sy lewe in gevaar is. Hy het ook genoem dat Radovan Krejcir betrokke is,” het sy glo gesê.

Rush is egter bekommerd dat Harrison se lewe in gevaar sal wees indien hy op borg vrygelaat word. “Ons sal hom moet wegsteek. Ek glo dit is heeltemal moontlik dat hy vermoor sal word indien hy op borg vrygelaat word,” het sy aan EWN gesê.

Harrison was ten tyde van die bisarre sluipmoordaanval, wat mens aan ʼn James Bond-rolprent laat dink, in aanhouding.

Krejcir is op 24 Julie in ʼn parkeerterrein in Bedfordview aangeval. Skote is van 12 geweerlope gevuur wat agter die nommerplaat van ʼn rooi Volkswagen Polo versteek is. Krejcir het gesê hy het aanvanklik gedink dit is klappers wat geskiet word, totdat hy gesien het sy koeëlvaste Mercedes Benz is vol gate geskiet. Klik hier vir foto’s van die voorval.

Krejcir word aan ʼn aantal onopgeloste moorde in Suid-Afrika verbind en hy is tans in ʼn hofgeding met die Nasionale Vervolgingsgesag gewikkel om sy uitlewering aan sy land van herkoms teen te staan. Hy is vroeër in absentia in die Tsjeggiese Republiek aan geldwassery skuldig bevind en staar gevangenisstraf van 11 jaar in die gesig.

Krejcir was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Lees ook:
Krejcir se winkel beroof
Foto’s: Krejcir oorleef bisarre sluipmoordaanval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peter Bezuidenhout ·

Dit is maar so…As jy die tipe lewe lei,sal jy altyd jou rug moet dophou,op die einde van die dag is dit jou keuse.Leef By Die Swaard,Sterf By Die Swaard.

Gert Malan ·

Hond eet hond! Vir hoelank gaan hierdie gemors nog rondloop en moeilikheid maak voordat die regering gaan besluit hy moet uit die land gegooi word. Dit lyk vir my die man het baie bedroggeld – hy koop seker sy verblyf in Suid Afrika!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.