Juwele van R3 miljoen is glo drie weke gelede uit Radovan Krejcir se winkel in Johannesburg gesteel, het die Gautengse polisie Vrydag gesê.
“Dit is dieselfde perseel waar ʼn sluipmoordaanval op hom uitgevoer is,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. “Onbekende verdagtes het op 3 Julie deur die dak by die perseel ingebreek, ʼn kluis oopgesny en juwele ter waarde van sowat R3 miljoen gesteel.”
Krejcir se winkel, Money Point, is in Bedfordview geleë.
Dié omstrede sakeman van Tsjeggië het Woensdag ongedeerd van ʼn beweerde sluipmoordaanval weggestap toe daar uit ʼn leë voertuig, wat met afstandsbeheerde vuurwapens toegerus is, op hom gevuur is. Sy koeëlvaste motor se vensters was vol gate. Volgens die polisie is die voertuig wat gebruik is, in April in Brixton, Johannesburg, gesteel. Klik hier om meer te lees.
Niemand is nog in verband met enige van die misdade in hegtenis geneem nie.
“Die voorvalle word nog nie aan mekaar verbind nie, maar die ondersoek duur voort,” het Dlamini gesê.
Krejcir is tans in ʼn hofgeding met die Nasionale Vervolgingsgesag gewikkel om sy uitlewering aan sy land van herkoms teen te staan. Hy is vroeër in absentia in die Tsjeggiese Republiek aan geldwassery skuldig bevind en staar gevangenisstraf van 11 jaar in die gesig.