TUT sluit twee kampusse in Soshanguve

Brand by Tshwane Universiteit van Tegnologie se Soshanguve-kampus (November 2015) Foto: @dash_derrick, Twitter

Brand by Tshwane Universiteit van Tegnologie se Soshanguve-kampus (November 2015) Foto: @dash_derrick, Twitter

Die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) het Maandag gesê die onlangse gewelddadige protesaksies op sy twee kampusse in Soshanguve het hom genoop om alle akademiese aktiwiteite daar vir die res van jaar op te skort.

Eksamens op dié twee kampusse, die Soshanguve-Noord- en -Suid-kampus, was veronderstel om Maandag af te skop, maar is onbepaald uitgestel nadat betogende studente oor die naweek glo drie eksamenlokale aan die brand gesteek het. Twee veiligheidsmotors het glo ook in die slag gebly.

Willa de Ruyter, TUT se woordvoerder, het aan Maroela Media gesê die universiteit het ter wille van ander studente se veiligheid besluit om bedrywighede op dié twee kampusse dadelik te staak weens die voortslepende geweld.

“Studente is versoek om die twee kampusse teen vandag 17:00 te ontruim. Die universiteit kan nie aanspreeklikheid aanvaar vir studente wat nie daarop ag slaan om die kampusse te ontruim nie,” het De Ruyter gesê.

De Ruyter het beklemtoon dat slegs dié twee kampusse deur die besluit geraak word. “Alle bedrywighede en eksamens op TUT se ander kampusse gaan voort soos beplan. Die universiteit het veiligheid op al sy ander kampusse verskerp om studente se veiligheid te verseker.”

Die universiteit het vroeër vandeesmaand ʼn interdik van die hooggeregshof bekom teen #FeesMustFall-betogers om geweld en intimidasie op sy kampusse te verhoed.

De Ruyter het gesê die omvang van die skade wat die naweek se brande veroorsaak het, moet nog vasgestel word.

“Ons wag nog om van die polisie te verneem of daar al enigiemand in verband met die voorvalle in hegtenis geneem is,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tdw ·

Hierdie betogers was nie lus of gereed om eksamen te skryf nie. Dis al waaroor dit gegaan het.

Shirley ·

Ek het gehoor weet nie hoe waar dit is nie maar die meeste betogers is nie eers studente nie. Hulle is blykbaar EFF ondersteuners van hulle is al ou manne. Waar gaan dit ending in die eens mooi land van ons.

Eddie ·

Aai Maroela wat het ek nou weer gese behalwe wat die waarheid is dat julle nie my komentaar plaas nie.???????????????

frik ·

Hulle moet dit sommer toemaak vir altyd of nie oopmaak voor die wat dit gedoen het nie betaal het vir die skade nie

GES ·

Gerugte doen die ronte en word op sosiale media verkondig dat hulle (kwaaddoeners) môre met 6 busvragte na die Pta-Wes kampus gaan opruk om die bestuur tot oorgawe te dwing. Dit klink vir my na ‘n oorlogsverklaring. As dit gaan plaasvind gaan dit ‘n kwadedag wees en die vonke gaan spat. Die sweer is nou goed vrot en dit is tyd dat dit skoongemaak moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.