Talle skole is Maandag weens gewelddadige betogings in Sasolburg gesluit.
Maroela Media het vroeër berig 87 mense is Sondag in hegtenis geneem gedurende die betoging, waartydens winkels ook geplunder is. Die betogings het Maandag hervat.
ʼn Personeellid by Hoër Tegniese skool het aan Maroela Media gesê die skool probeer tans die paniek minimaliseer. “Die leerlinge word in die klasse gehou. Ons het ʼn voog aangestel by elke blok en ons het ook alternatiewe sekuriteitspanne wat, saam met die hoof, die skoolgrond patrolleer,” het die personeellid gesê.
Die betogers was glo slegs twee strate van die skool af weg toe Maroela Media met haar gepraat het. Hul eerste prioriteit is tans die leerlinge se veiligheid.
By Afrikaans Hoër Sasolburg is daar op die oomblik nog nie ʼn gevaar nie en is die leerlinge by die skool. Die skool hou egter die situasie dop.
Laerskool Fonteine, Heidi-kleuterskool, en Roux Steyn-kleuterskool is reeds gesluit. Die kinders is huis toe gestuur.
Die betoging het Sondag omstreeks 09:30 begin na ‘n vergadering oor die beplande samesmelting van die Metsimaholo- en Ngwathe-munisipaliteit. Die inwoners is glo ongelukkig oor die owerheid se planne om Sasolburg onder die Ngwathe-munisipaliteit te laat val. Klik hier om meer te lees.