Twee mans het Vrydag in die Parys landdroshof verskyn in verband met ‘n plaasmoord die afgelope week.
“Ezekiel Mnguni (30) en Mmaditaba Mokubung (46) sal op 28 Januarie weer in die hof verskyn om hul borgaansoek in te dien,” het Phaladi Shuping, woordvoerder van die Vrystaatse Nasionale Vervolgingsgesag, gesê.
Ernest van Rooyen en sy vrou Annetjie, beide in hul 70s, is op hul plaas Somerset naby Parys vermoor. Hul huishulp het Dinsdagoggend by die plaashuis opgedaag en gesien die huis is geplunder. Sy en ‘n buurman het uiteindelik in die motorhuis, waar die egpaar ‘n snoepwinkel bedryf het, op die liggame afgekom. Ernest se voete was vasgebind en ‘n sak is oor sy kop getrek. Annetjie se liggaam is in die vrieskas gedruk.