Lesersbrief: Afrikaans: Vergewe, maar nooit vergeet

‘Dink vir jouselfvan Malmesbury skryf: 

Doringboom_tak_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Suid-Afrika het na bewering een van die beste Grondwette ter wêreld. Die aanhef verklaar dat ons “verenig is in ons diversiteit” en ʼn land is waar “elke burger gelyk deur die reg beskerm word”.

Art. 29 koester oënskynlik moedertaalonderrig vir almal: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse”.

Die uitspraak van die konstitusionele hof, ironies en simbolies gelewer op 10 Oktober 2019, het die multikulturele reënboognasie soos mis voor ʼn verskroeiende Engelse son laat verdwyn. Die plattrap van Afrikaans by sy bakermat, die Universiteit Stellenbosch, deur hierdie uitspraak met sy taal- en versoeningsvernietigende interpretasie van ons Grondwet, het die mantel van kultuurbeskerming wat dit aan minderheidsgroepe moes bied, aan flarde geskeur.

Met flenterpante wapperend in die winterwind, staan nou bibberend die verwerpte Afrikaanse kind, saam met nege ander verstote Afrikataalwesies – uitgesluit in die winterkou. Die hof sê Suid-Afrika se moedersmelk is te min om met ander moedertale te deel, want baba Engels is te dorstig. Geen Engelse kampus hoef mos tale te deel nie. Hierdie uitspraak maak tien Afrikatale, soos weggooikinders, nou op hul eie nabelaste hulpbronne of aalmoese aangewese vir oorlewing. Die Afrikaanse wesie mag dit maak, want sy voorsate is al twee keer so van die pad af gedruk met ʼn koue skouer van Lord Somerset en Lord Milner. Vir die ander nege wag daar waarskynlik ʼn yskoue, stadige en pynlike Racheltjie de Beer-einde.

As Afrikaans met dieselfde veggees, vasberadenheid en deursettingsvermoë van die platgeryde doringboompie in Totius se gedig “Vergewe en Vergeet”, weer kan regop beur, hoop ek sy staan hierdie slag sterk en laat haar nie weer met ʼn slap riem vang, soos die bos, wat geskrik het vir die eerste byl, maar gerusgestel is deur bome wat fluister: toemaar met ʼn houtsteel is dit een van ons. Hoe graag wou sy nie haar regmatige plek inneem saam met die 10 ander pragtige taalbome in die spogtaaltuin van die nuwe Suid-Afrika nie? Dit was mos in 1994 so aan haar belowe – nogal met “wigte en teenwigte” as kunsmis.

As beletselde, platgeryde, uitgeworpene en aan haar eie lot oorgelaat, het Afrikaans nou geen ander keuse as om hardnekkig om oorlewing te veg nie. Die Engelse woud, onder staatsgesubsidieerde sprinkelbesproeiing, moet asseblief net nie eendag voor die eensame doringboom kom staan en vra: Hoekom staan jy so afsydig en alleen op die dorre Afrikavlakte nie? Hierdie keer sal Afrikaans seker weer vergewe, maar hopelik nooit vergeet wie haar vir die derde keer “level met die gravel” probeer maak het nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Taalgenoot ·

Wat ‘n pragtige skrywe! Kan wat nou aangaan met die taalbeleid by ons universiteite nie beter verwoord nie. Ek hou Akademia se vordering met akkreditasie van meer en meer graadkursusse fyn dop, want dit is waar my skrander graad 10-kind sal aanklop vir hoër onderwys. Waar geleer word, nie politiek bedryf word nie.

Leon de Vries ·

Hierdie hofuitspraak blyk baie verdag te wees. Soos al meer inligting aan die lig kom, word dit al meer só. Al genade is dat die Grondwetlike Hof sy eie uitspraak herroep, want daar is geen hoër regterlike gesagsliggaam waarheen dit verwys kan word nie. Behalwe die rampspoedige gevolge vir Afrikaans as akademiese taal, het dit ‘n verdere (vermoedelik en darem hopelik) onbedoelde gevolg, naamlik dat Afrikaanse mense hulle onttrek en eie instellings tot stand bring. So het dit ‘n nuwe separatisme tot gevolg en dra dit nie by tot nasiebou nie.

Dink vir ander ·

Ek waardeer die Anton Goosen interteks! Afrikaans is ’n pragtige taal en so lank as wat ek leef sal daar altyd iemand wees wat die taal praat en waardeer, omdat ek nie gebuig kan word soos hul geweld dit wou.

Stephan de S ·

Mens kan nie die kans verby laat gaan om vir die skrywer hiervan geluk en dankie te sê. Wat n oulike en fyn skrywe is dit nie. Dis die soort artikel wat n mens sommer emosioneel aanraak en n slag goed laat voel. Hoeveel sulke momente het n mens nie gereeld nodig nie.

gatiep ·

The Spider’s Web:Britain’s Socond Empire.
Gaan kyk dit dan sal julle sien wie en wat britain is.
Mooi geskryf.

Feite ·

Afrikaans se begin van die einde by afrikaanse universiteite was die hofuitspraak van afriforum vs UV. Hou dus op om sentimentele snert kwyt te raak wanneer afriforum aandadig was aan die uitfassering van afrikaans ten einde afrikaans by solidariteit te isoleer vir die bou van n sakeryk uit afrikaans!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.