Basson se roekelose joernalistiek

’n Mens sou verwag dat ’n nagraadse student in politieke wetenskappe die moeite sal doen om sy feite na te gaan voordat hy homself blootstel deur ’n byna volbladartikel in ’n koerant te publiseer. Mens sou ook van ’n ingeligte redakteur verwag om in te gryp as hy besef dat sy koerant besig is om die waarheid te verdraai.

Ongelukkig het nie een van hierdie twee verwagtinge gerealiseer toe die dagblad Beeld op 25 Februarie 2014 ’n artikel getiteld “Haatlike Simbool nie Verdedigbaar” gepubliseer het nie. In die artikel word by name verklaar dat AfriForum en Solidariteit besig is om Nazi-gebruike te verdedig en dat AfriForum ’n “selektiewe moraliteit” toepas deurdat dié burgerregte-organisasie standpunt teen Julius Malema se gebruik van die “Skiet die Boer”-lied ingeneem het, maar ná Beeld se onthullings oor die sogenaamde “Nazi-praktyke” by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit voortgegaan het om vir die Puk-studente in die bresse te tree.

In die eerste plek het geen verteenwoordiger van AfriForum of Solidariteit ooit enige Nazi-gebruikte regverdig nie. Nazisme is afstootlik en AfriForum en Solidariteit is daarteen gekant. Die bewerings dat hierdie organisasies Nazi-praktyke verdedig stel die skrywer en die koerant potensieel bloot aan ’n lastereis. Om ’n dekade-oue eerstejaarstradisie wat bykans twee minute lank duur, waartydens die regterarm vir ongeveer ’n halfsekond in die lug gesteek word, op die voorblad van Beeld as ’n “Nazi-saluut” te onthul is absurd.

Die Beeld-redakteur, Adriaan Basson, het verder gegaan deur ’n skermskoot van hierdie oomblik te tweet met die woorde: “Nazi-Duitsland? Nee, Potchefstroom…” Daarna het hy op Twitter geskimp dat iemand ’n klag van haatspraak teen die betrokke studente moet lê. As dit nie die oorskryding van joernalistieke etiek is nie is daar wraggies geen perke aan die grense van joernalistiek nie.

Enige kritiek op Basson se optrede waardeur honderde identifiseerbare, tog onskuldige studente verneder is deur hulle in die openbare domein as Nazi’s af te maak, word van die tafel gevee. Die kritiek is kwansuis pogings om Nazi-praktyke te regverdig en AfriForum is skuldig aan selektiewe moraliteit omdat die organisasie sterk standpunt inneem teen die gebruik van die “skiet die Boer”-lied, maar nie bereid is om die Pukke te veroordeel nie.

Intussen is dit ooglopend dat die skrywer nie die hofstukke in die Skiet die Boer-saak of die tersaaklike wetgewing gelees het nie. Basson, wat die hofsaak wel bygewoon het, het ook geen poging aangewend om die feitefoute wat onder sy toesig in Beeld gepubliseer word reg te stel nie.

Hier is die feite:

  • Haatspraak word in die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (in Engels afgekort as PEPUDA), artikel 10 verbied. In leketaal kan haatspraak op grond van hierdie bepaling definieer word as die kommunikasie van woorde, gebaseer op een of meer van die verbode gronde (ras, geslag, kultuur, geloof, ensovoorts) wat redelikerwys gesien kan word as dat dit ’n bedoeling demonstreer om kwetsend of skadelik te wees, of om haat teen ’n bepaalde groep te bevorder. Ek is baie nuuskierig of Basson of die skrywer van die artikel werklik glo dat die Puk-eerstejaars se primgroet redelikerwys die bedoeling om haat te verkondig demonstreer.
  • Dit wat deur Basson en kie as ’n “Nazi-saluut” beskryf word, is uitgevoer om deel te vorm van ’n primgroet. Die bedoeling daarvan is om studentegees te bou, ’n gevoel van eensgesindheid onder eerstejaars te kweek en, uiteraard, om die voorsitter van die koshuis (oftewel die primaria) in ’n studentegees van eerbetoon te groet. Die bedoeling agter die “Skiet die Boer”-lied is egter ’n heel ander storie. Tydens AfriForum se haatspraaksaak oor die lied het Malema herhaaldelik verklaar dat hy die lied sing met die bedoeling om mense tot stryd aan te hits. Hy het openlik verklaar dat hierdie lied gesing word om mense teen die vyand op te sweep. Die vyand, het hy verduidelik, is “wit kapitaal” en dit word vergestalt in wat hy beskryf as ’n stelsel van onderdrukking waarteen oorlog gemaak moet word. Hy het die sing van hierdie, en ander struggle-liedere ook vooraf in die media as ’n oproep tot sy idee van ’n oorlog beskryf. Groot verskil.
  • Nog ‘n verskil is die politieke klimaat waarbinne die twee uitdrukkings plaasgevind het. Terwyl “Skiet die Boer” van podiums af geskreeu is, was die realiteit dat boere op plase vermoor is en steeds word. As hoofgetuie in die saak teen Malema het ek namens AfriForum verduidelik dat die realiteit van plaasmoorde groter gewig aan Malema se uitlatings gee en dat ons moontlik nie so sterk teen die gebruik van die lied standpunt sou inneem as plaasmoorde nie ’n probleem was nie. Konteks is dus belangrik. Wat die Puk betref, is ek nie bewus van enige aanduiding deur byvoorbeeld die Joodse gemeenskap dat die eerstejaars se optrede haat aanhits nie. Inteendeel, tot dusver is Basson en die verslagspan wat onder die dekmantel van gewone studente die kampus ingestuur is en goedgesinde individue wat hulle vir kommentaar genader het bykans die enigste gegriefdes oor dít wat by die Puk gebeur het. Hulle, en die minister van hoër onderwys wat nou ’n verskoning gekry het om die kampus radikaal te transformeer natuurlik.
  • Verder, ’n sterk argument wat tydens die haatspraaksaak teen Malema aangevoer is, is dat Malema (deur AfriForum) in kennis gestel is dat minderhede en Afrikaners in besonder, die gebruik van die “Skiet die Boer”-lied as haatspraak beskou. In plaas daarvan om die gebruik van die lied summier te staak, het Malema moedswillig met die gebruik daarvan voortgegaan. Hy het selfs verder gegaan deur my persoonlik met die dood te dreig toe hy verklaar het dat ’n herhaling van die sogenaamde “Shell House-massaslagting” sal plaasvind as AfriForum voor sy kantoor kom betoog oor die gebruik van die lied. Dit het die argument van haatspraak aansienlik versterk. By Potchefstroom het die teenoorgestelde gebeur. Die rektor reeds ’n tyd gelede aan die studente verduidelik dat die tradisionele eerstejaarsgroete moontlik verkeerd interpreteer kan word en dus (foutiewelik) as kwetsend beskou kan word. Daarna is die gebruik daarvan summier gestaak. Beeld het ou nuus as nuwe nuus voorgehou, wat ’n verdere getuigskrif is van ’n aktivistiese agenda om die Puk te diskrediteer.

Basson val graag daarop terug dat Beeld ’n koerant is en dat dit ’n koerant se taak is om nuus te publiseer, of jy nou daarvan hou of nie. Dit is waar. Van AfriForum en Solidariteit se kant af was daar egter nog nooit ’n versoek dat Basson moet ophou om nuus te publiseer nie, maar eerder dat hy opgehou het om nuus te publiseer. Deur ’n halfsekonde uit ’n ou video van twee minute buite konteks te neem, ’n gevolgtrekking te maak dat die studente met Nazi-praktyke besig is en dan ’n stuk of twintig artikels daaroor te publiseer, is ’n aktivistiese boelietaktiek en gewis nie die onskuldige publisering van nuus nie. As die optrede onsmaaklik is, kan dit gerus gestaak word, net soos enige ongesonde studentepraktyke. Dit is iets wat deur die plaaslike kampuskoerant waarskynlik as nuus beskou sal word. Basson se optrede was egter soos om ’n vlieg met ’n atoombom te blaas.

Dit is dus makliker om tot die gevolgtrekking te kom dat die optrede van Beeld se redakteur met die destydse sing van die Skiet die Boer-lied vergelyk kan word as die optrede van die Puk se eerstejaars.

Ernst Roets

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae