Lesersbrief: Brugbouers of brugbranders?

‘n AfriForum-lid van die Wes-Kaap skryf:

In sy artikel “Hier staan ek, ek kan nie anders nie …” beweer Frans Cronje dat die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV):

1) ’n klassieke liberale organisasie is wat in vryheid glo;

2) altyd beginselvas optree; en

3) brugbouers vir die middelgroep is.

Ek is van mening dat die IRV op al drie gebiede beslis beter kan doen.

Vryheid

Die opskrifaanhaling bevestig dat ons van die natuur en God “die reg ontvang om ons persoon, ons vryheid en ons eiendom te verdedig”. Dit sluit blykbaar nie die reg in om ons vryheid van godsdiens te verdedig, soos AfriForum dit gedoen het, teen die aanval van die IRV nie?

Hoekom wil die IRV ons beoordeel “op grond van jou eie oortuiging”, terwyl ons Grondwet vryheid van geloof en vryheid van spraak beskerm? Almal moet juis vry wees om te glo wat hulle wil. Dit is hoegenaamd nie liberaal om Ivo Vegter se standpunt dat my godsdiens uitgeroei (gedekoloniseer) moet word, op hul platform te verkondig nie.

AfriForum glo ook in vryheid van spraak, maar ook in sensitiwiteit daaroor. Al glo ek in vryheid van spraak, sal ek my dogter wat met die Kersete oor seks wil praat, versoek om dit op ’n ander tyd en plek te doen. Is dit nie al wat AfriForum gedoen het ná Ivo se aanval nie?

Hoekom sonder Frans die Afrikaners uit as die enigste mense wat nie klassieke liberalisme goed verstaan nie? Wys vir my ’n groep wat meer in klassieke vryhede glo as die Afrikaner met sy anti-imperialistiese, anti-monargale, godsdienstige, inklusiewe en vryemark-kultuur.

Beginsels

Frans beweer “die regering het nie die reg om by jou … persoonlike aangeleenthede in te meng nie”. Wie gee dan vir Ivo of die IRV die reg om afbrekend in te meng in die godsdiens van AfriForum-lede?

Hy sê verder dat hul liberale waardes “gegrondves is in die Joods-Christelike etiek.” Hoekom produseer en publiseer die IRV dan ’n artikel wat smeek vir die dekolonialisasie (lees verwydering) daarvan uit Afrika, waar ons worstel met ’n morele krisis en ’n gebrek aan liberale waardes?

Die stelling dat die IRV “byna eiehandig” onteiening sonder vergoeding afgeweer het, is hoogs aanvegbaar. Waar was die IRV toe Ernst Roets in die parlement amper daarvoor gekruisig is?

Die IRV “verkies om noukeurig en stilweg te werk” sê Frans. Hoekom is Ivo toegelaat om neerhalende veralgemenings oor Christenskap op hul platform uit te basuin?

Op grond waarvan beweer Frans dat “AfriForum en Solidariteit ’n veldtog teen die IRV van stapel stuur”? Om een twiet en ’n Facebook-plasing misleidend as ’n AfriForum-veldtog te beskryf, is ’n belediging vir hul veldtogspan. Die arsenaal van publikasies waarmee die IRV in hierdie saak losgebrand het, terwyl hulle slagoffer speel, laat baie vrae ontstaan. Om vir AfriForum die skuld te gee vir personeelvermindering “indien AfriForum se veldtog slaag”, klink soos die ou wat nadat hy die hond geskop het, nou die eienaar aanspreeklik wil hou vir sy mediese kostes omdat die hond teruggebyt het.

Omdat Frans bekommerd was dat dit “vele godsdienstige mense aanstoot sou gee”, het hy van sy personeel aangemoedig om Ivo se argumente “aan te val”. Jy kan nie jou kwaai hond in die straat loslaat en dan jou kinders met ’n boks pleisters agterna stuur vir dié wat gebyt word nie. Dit klink soos ’n siek speletjie. Hoe weet ons waar die IRV oor Christenskap staan, as hulle uit twee of drie monde daaroor praat?

Die IRV het ’n groot probleem as “’n rassistiese regering alles wat vir u dierbaar is … aanval” maar voel bedreig wanneer AfriForum sy lede ondersteun wie se godsdiens, wat vir hul dierbaar is, aangeval word.

Frans sê nie presies waarom hy bekommerd is oor AfriForum en waarheen dit sy lede lei nie. Tog erken hy dat daar “nog altyd ’n diepgaande verskil tussen die IRV en AfriForum” was. Omdat die organisasies verskillende doelstellings, ledebelange en befondsers het, moet Frans miskien vrede maak daarmee.

Brugbouers

As die IRV sulke groot brugbouers is, hoekom het eers Gavin van Onselen en nou Ivo Vegter uit hul pad gegaan om Christenskap uit te sonder vir openbare diskreditering? Hoekom kom, byvoorbeeld, die Moslemgeloof skotvry daarvan af? Wel, wetende, ná die van Onselen-voorval, hoe sensitief AfriForum oor godsdienssake is, gaan die IRV onbedagsaam voort en laat Ivo toe om weer ou wonde oop te krap. Die IRV kan nie in die een asem sê hulle wil die gematigde middel konsolideer, maar Christenskap met die ander asem verdag maak, terwyl meer as 80% van die gematigde middel waarskynlik Christene is nie.

“AfriForum wil nou hê dat ek Ivo afdank” se Frans. Van waar Gehasi? Ondanks Kallie Kriel se ontkenning, word hierdie vernederende fopnuus die wêreld ingestuur. Is dit soos brugbouers optree? Hierdie is ’n strooiman wat Frans bou en dan skouspelagtig deurboor met die afgryse van apartheid teenoor swart mense, as die regverdiging vir David Bullard se afdanking omdat hy “oor die K-woord ’n grap gemaak het”. Gerieflikheidshalwe ly hy aan totale geheueverlies oor die afgryslikhede wat al teenoor Christene gepleeg is wanneer Ivo met hul spot.

Dit is uiters verdelend vir ’n brugbouer om AfriForum daarvan te beskuldig dat hulle “speletjies speel” en “hul mense versaak”, terwyl hulle hul lede se geloof teen openbare aanvalle verdedig. Dit is AfriForum se grondwetlike reg en Godgegewe plig om dit te doen en dit is wat hul lede van hulle verwag. AfriForum se lede weet presies waarvoor AfriForum staan, want hulle tree onbeskaamd op tot voordeel van hul lede omdat niemand anders doen dit nie.

Frans insinueer neerhalend en sonder voorbeelde, dat AfriForum nie hul groot mag verantwoordelik bestuur om hul lede te beskerm nie en dat hulle hierdie mag “ligtelik of ligsinnig opneem om reklame- en politieke of magspeletjies mee te speel”. Om te beweer die “leierskap van die Solidariteit Beweging sien die IRV se doelstellings as ’n bedreiging vir hul strewe om ’n nuwe apartheid op die as van Suid-Afrika se demokratiese eksperiment te bou deur speletjies met hul ondersteuners se vrese en emosies te speel en hulle te lok na ’n donker en gevaarlike plek, waarvoor die Afrikaner ’n duur prys gaan betaal”, plaas die karakter en integriteit van die leiers wat Frans wil verenig, onder verdenking. Dit klink meer na die taal van ’n brugbrander.

Indien die IRV die vereniging van die gematigde middel as die enigste oplossing sien, het AfriForum dan, volgens die IRV, nog enige bestaansreg? Waar was hierdie gematigde stille meerderheid die laaste 26 jaar? Waar is hul leiers? Wat het die DA met presies daardie beleid en oogmerke in die laaste verkiesing bereik? Hoekom het die stille meerderheid nie tot Zimbabwe se redding gekom nie? Wat gaan ons doen as hierdie gematigde stille meerderheid bly sit en nie opstaan nie? Wie gaan dan die AfriForum-lede en hul kultuur beskerm? AfriForum probeer baie hard om die SAS Suid-Afrika drywend te hou, maar hulle begin solank met hul eie geld vir hul lede reddingsbootjies bou, indien (soos in 1994) die IRV se beloftes nie realiseer nie.

Watter verkeerde advies gee AfriForum aan sy ondersteuners wat tot “geweld en armoede” gaan lei? Die IRV wil soos klassieke liberale, lyk dit my, eerder vir AfriForum en hul lede se geloof dekolonialiseer, sonder om iets in die plek daarvan te sit.

Die bewering dat AfriForum die IRV aanval en dit probeer sink, dui op ’n reuse vertrouensbreuk. As die IRV so min vertroue in die Solidariteit Beweging se leierskap het, is daar nie veel respek meer oor om brûe mee te bou nie en moet die IRV maar dagvaar vir egskeiding.

Tragedie

Ek vind die hele situasie tragies en betreurenswaardig. Hierdie aangeleentheid moes privaat op ’n leierskapsvlak aandag gekry en opgelos gewees het. Die IRV lyk desperaat om hierdie storm in ’n teekoppie in ’n openbare orkaan te verander. Ek wonder hoekom?

Dit is moedswillig en geniepsig om te beweer dat AfriForum wegloop en hul volgelinge “die donker nag” inlei. Dit is nie AfriForum wat wegloop nie, dit is die IRV wat wil hê AfriForum-lede moet eerder hulle koers inslaan. AfriForum moenie van koers verander nie. Hul groeiende ledetal onder moeilike omstandighede, bevestig dat hul op die regte pad is. Die IRV se resep toon ’n afname in gewildheid. Die IRV sal altyd welkom wees om weer saam met die Solidariteit Beweging te stap, in hul poging om ’n lig van hoop in die donker Afrika-nag te wees.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannes ·

Dis nou weer n goeie voorbeeld van hoe Afrikaners dikwels rede soek om van mekaar te verskil I.p.v. saam te werk

Therese ·

‘n Algeheel skitterende skrywe, met die vyfde laaste paragraaf wat treffend uitstaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.