Lesersbrief: Die probleem met kinderpartytjies

(Foto: Joshua Hoehne/Unsplash)

Wilhelm Lutjeharms van die Wes-Kaap skryf:

Kinderpartytjies … Dit bring verskillende gevoelens en denke by elk van ons op. Daar is die klein kinderpartytjies. Dié waar daar vyf of ses maatjies is. Dan is daar die groot kinderpartytjies waar die hele klas genooi word.

Gewoonlik speel kinders eenkant, ouers sit en gesels anderkant. Pa’s gesels oor politiek, sport, werk, vakansieplanne, jag of finansies. Ma’s dalk oor dinge by die skool, huis, die kinders en allerlei ander dinge – gegewe, ek is minder in laasgenoemde se gesprekke as eersgenoemde.

Daar is ʼn deurslaggewende eienskap by al hierdie partytjies: lekkergoed. Natuurlik, dit is immers ʼn partytjie. Daar moet sekerlik ʼn groot koek, Fizzers, skyfies, Coke, sap en so aan wees? Wel, nee, daar hoef nie. Hoeveel soetgoed kan een kind nou eet? Daar is versnaperinge vir die ouers; dalk ʼn paar vingerkositems en iets om te drink. Dit is gaaf en word natuurlik altyd waardeer. Dit laat my wel wonder … Daar is kos vir die ouers, maar net lekkergoed vir die kinders. Hoekom?

Deesdae se koeke is werklik iets besonders. Jy kan ʼn koek laat handmaak wat lyk asof dit ʼn spesiale klein stukkie kunswerk is – jy wil dit amper nie eet of breek nie. My rede hoekom ek dit nie wil eet of breek nie, is omdat ek aan al die suiker en chemikalieë dink wat daarin is. Die kinders eet so ʼn stukkie koek, en dalk nog ʼn stukkie. Sommige vergryp hulle meer as ander. Sommige ouers probeer hulle kinders keer en ander ouers rep nie ʼn woord aan hul kinders nie. In vyf jaar van talle partytjies bywoon, moet ek nog een bywoon waar meer as die helfte van ʼn koek opgeëet is.

Dan probeer sekere ouers nog koek saamstuur huis toe ook, wat jy dan so vriendelik as moontlik van die hand probeer wys. Dit is wel nie al nie; daar is ook die “party packs”. Dit is boksies wat nóg lekkergoed bevat, nie een of twee nie, maar sommer ʼn klomp. Geen normale kind gaan dit by die partytjie opeet nie, en gevolglik word dit saam huis toe gestuur. Dus word die las indirek op elk van die ouers geplaas om die beheer van die lekkergoed by die huis te hanteer. Maar dit was die ander maatjie se partytjie, so hoekom sit ék met ʼn boksie vol lekkergoed in my kar op pad huis toe?

Nou die dag bereik my siening van hoe belaglik, en belaglik ongesond, kinderpartytjies geraak het ʼn nuwe hoogte. Ek sit heerlik en gesels by ʼn kinderpartytjie toe ek hoor hoe een ouer vertel dat een kind nou die aand hospitaal toe gevat moes word. Die ouer(s) van die kind het toegelaat dat die kind na drie partytjies gaan … op een dag. Die aand het die kind dikdermprobleme ontwikkel, want blykbaar het al die koek (of sekerlik stysel in die algemeen) daarin vasgesit en kon die liggaam dit nie verwerk nie.

Ouers kan om verskeie redes gearresteer word, en hierdie moet een daarvan wees. Dit is niks anders as kindermishandeling nie. Watter gesonde, regdenkende ouer wat die beste vir sy kind wil bied, vat hulle op een dag na drie partytjies toe en laat die kind dan toe om koek en/of gemorskos by al drie te eet?

Dan vertel ʼn mens vir iemand dat dit 2022 is. Die navorsing en bewyse is daar; die statistiek is vir almal om te lees. Sommige ouers beskik egter net nie oor common sense nie. Dink, tree op en moenie julle en ons kinders soveel gemors voer nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

alice ·

Balans is die antwoord en dalk net ‘n bietjie toesig oor jou kind.

VaalDonkie ·

Kinderpartytjies is eintlik om die ander mamma’s te beindruk. Dit gaan nie meer om die kinders nie. Die dat koeke met fondant en goeters gemaak word wat glad nie so lekker soos daai “kommin” botter-versiersel smaak nie, maar wel mooi lyk. Mens kannie eens deesdae meer soos besadigde mense die nuus deel dat iemand swanger is nie. Daar MOET ‘n uitspattige paartie gehou word en dan is daar ‘n “gender reveal” en almal is geforseer om hande te klap wanneer die blou of pienk konfetti uit die ballon skiet.

Chantel ·

Jy is absoluut reg. Die ma’s kyk wie kan hulle beindruk, dit gaan glad nie oor die kinders nie eerder oor haar eie selfbeeld.
Dis vir my totaal en al absurt dat ouers sulke astronomiese bedra betaal vir partytjies.
Genade, wat het geword van stuur ‘n lekkergoedpakkie skooltoe en die hele klas sing vir my.
Dankie tog my kinders is groot.

Deni ·

Ek sou dit nie beter kon stel nie!! Die een ouer probeer beter wees as volgende een.

Swerwer ·

Hededaagse ouers het lankal die bus onder die eend uitgeruk as dit by kinderpartytjies kom. Nie eens te praat van die “venues” wat gehuur word om dit by aan te bied nie. Dit is omdat kinders nie meer tyd gegun word om kinders te wees nie. Dan praat ek nie eens van St 5 afskeid (Graad 7) nie. Daar moet die dogters en seuns al aantrek of hul na ‘n matriek afskeid toe oppad is. Die goeie ou waatelmoen kinder patytjie was die lekkerste met ‘n watergat vir die maatjies om in te speel. In die winter was dit ‘n lekker koppie sop of ‘n “hotdog” met warmsjokolade.

VaalDonkie ·

Ek beoog om vir my kind se 4de verjaardag al die maatjies te nooi om te kom swem terwyl ek braai. Wat meer het ‘n kind nodig?

Chantel ·

Neh, dis nou ‘n goeie punt. Matriekafskeid lyk veeleerder of die “couple” verloof raak, ek kan my vergaap aan die tipe foto’s wat geneem word op ‘n matriekafskeid. HEL, dis wild

VaalDonkie ·

Oh my goodness. Ja die arme outjie moet mos deesdae “propose” voor die hele skool.

JouPa ·

Stem 100% saam. Dit is letterlik gif al die hoë verwerkte suiker kosse, net omdat dit jou nie dadelik dood maak nie dink mense dis nie gevaarlik nie

RS ·

Kinderpartytjie is lankal nie meer soos dit was in die 80’s of 90’s nie. Dis n afshow parade. Dis mamma’s wat in n wedren in om te wys wie kan die grootste en beste partytjie hou vir hul bloedtjie wat nie eens weet wat om hom of haar aangaan nie.

ABDP ·

In ons huis bak ouma ‘n lekker bokskoek en die beplanning vir die kleur of basiese prentjie wat sy moet illustreer begin so maand voor die tyd (dood gewone versiersuiker), net 6 maats mag genooi word en ons hou lekker skattejag waar ‘n paar lekkergoed pakkies weg gesteek word. Na 2-3ure se lekker buite speel kan mamma’s kinders kom haal. Niks meer, Niks tema pakkies (tema is slegs die koek) en my dogtertjies is gelukkig, tevrede en voel steeds baie spesiaal. As iemand vra wat soek my kind vir haar verjaardag, is dit ‘n storieboek. Kom nou julle, kry prioriteite reg! Sê nee vir partytjies van ouers wat jy weet die nes onder die hoender uitruk. Een partytjie ‘n maand is mos genoeg van ‘n maatjie wat regtig egtig na aan die hart van jou kind lê. Die maatjie moet ook mos darm regtig my kind daar wil hê. Nie net sodat hy of sy ‘n persent kan kry nie.

Antjiepat ·

Wens meer ouers kon jou insig weerspieel… daardie partytjie klink vir my soo lekker!

Antjiepat ·

Ja nee gee my weer ‘n kinderpartytjie met ‘n lekker koek met botterversiersel, 1 hotdog per maatjie, kaas krulle en lekker oros of sommer net rooi koeldrank en o ja my all time gunsteling: jellie in lemoene (bootjies) … en dan die kids so gespeel en buite rondgehardloop met vrot eier en bok in die hok en middel mannetjie en kids het nog nie aangetrek soos wannabe gangsters of hul bywywe nie… so ja ek stem heeltemal saam met jou. Wie wil jy nou eintlik deesdae beindruk, om dan nie eers te praat van die geskenke vir hierdie verjaarsdag maatjie nie ??

Adeline ·

Dis nie net kinder partytjies wat hand uitruk nie. So ‘n paartjie word verloof, dan is dit die “Engagment shoot” en partytjie. Voor die troue word soms ‘n kombuis tee gehou vir die meer volwasse mense in die familie en ‘n partytjie vir die meer jonger mense. Die groot troue. Dan kom die eerte baba, dis “Pregnancy shoot”, dan die gender reveal partytjie, nie lank daarna die baba tee wat deesdae by ‘n venue gehou word en nie meer by iemand se huis nie. Dan is dit die fancy “New born Shoots” en by die eerste verjaarsdag is dit die “cake smash shoot” en die grooooot eerste partytjie. Met al die photo shoots en partytjies vanaf verloofde tot die eerste kind se eerste verjaarsdag kon jy al amper jou huis halfpad klaar betaal gehad het.

Vonkprop ·

Ek stem ongelukkig nie saam met die brief nie. Toe ons kinders was, het ons baie partytjies gehad met tonne soetgoed. Ons het niks oorgekom nie, want ons was aktief en het konstant buite gespeel. Die probleem deesdae is dat ons kinders passief geraak het. Speel af en toe buite maar alles gaan oor skermpies en speletjies op die konsoles by die huis. Ja suiker is sleg maar ‘n kind het suiker nodig vir energie. As ek terugdink hoe baie koek en lekkers ek op partytjies geeët het en het glad nie sleg gevoel nie, want ek het dadelik die energie verbrand. Deesdae eet ek een sny koek en dit is genoeg, want ek is minder aktief. Hou tog asseblief net op om so oor sensitief te wees en alles sleg te maak. En ek stem saam met ‘n kommentaar hier. Matigheid voor oë.

Tonginmykies ·

Maar is dit nie hoe ons Generation Alpha moet voed nie? Of is dit nou Generation Z?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.