Die waarde van papiergeld

johan-smit

Johan Smit. Foto: Verskaf.

Johan Smit van Bellville skryf:

 Sommige Afrikaniste glo dat die Weste ryk is omdat swart mense arm is. Dus is swart mense in Suid-Afrika arm omdat wit mense ryk is.

Dit is natuurlik bog, maar tog so lekker om te glo. Veral as jou selfbeeld broos is. Die waarheid is egter dat die Weste ryk is omdat dit grondwetlike en ekonomiese stelsels bedryf wat papiergeld waarde gee. En papiergeld het hoofsaaklik waarde as gevolg van eiendomsreg.

Kom ek verduidelik kortliks. Kommersiële banke leen papiergeld teen ʼn rentekoers by die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) met dien verstande dat dit terugbetaal moet word. Dit kos die SARB  omtrent niks om die geld te druk nie, en heeltemal niks om dit uit te leen nie.

Kommersiële banke kan hierdie “waardelose” geld slegs uitleen aan leners en entrepreneurs wat kredietwaardig is. Met ander woorde, leners moet die vermoë hê om die lening terug te betaal en banke neem dus die bates wat leners aanbied as sekuriteit (vir ingeval die lener nie kan betaal nie). Die bates wat as sekuriteit gebied word, het natuurlik waarde omdat dit aan iemand behoort en/of skaars is, en die moontlikhe terugname van die bate(s) (soos byvoorbeeld jou huis) kan katastrofiese gevolge vir die eienaar hê.

As jy wonder hoekom die SARB nie net eenvoudig meer geld druk en beskikbaar maak aan banke om uit te leen nie, is dit omdat daar nie genoeg kredietwaardige leners is nie (en kommersiële banke dit dus nie kan uitleen nie). Dit is hoekom kredietwaardige leners en entrepreneurs van uiterste belang is om ʼn ekonomie te laat groei. Daar moet dus leners wees wat kredietwaardig is en bates wat aan hulle behoort as sekuriteit beskikbaar kan maak.

Bates en eienaarskap is dus een van die belangrikste boustene van ʼn papiergeldstelsel waar note werklike waarde het en dit behou. As eienaarskap in gedrang kom, tuimel die waarde van bates én die geldeenheid, soos wat in Zimbabwe gebeur het. In ʼn mate het dit reeds in Suid-Afrika begin gebeur.

Soos wat die mense wat juis die ekonomie moet laat groei, die land verlaat of nie bereid is om te belê nie, hou die ekonomie op met groei en droog die regering se fondse op. Dit, saam met stygende en onrealistiese verwagtinge, skep verder die klimaat vir sosialistiese idees wat elke keer faal. Wanneer die beloftes nie nagekom kan word nie, sal die tweespalt toeneem. En dan gaan die grootbekke moet bontstaan, want dis dán wanneer die skaal baie vinnig en ongunstig kantel.

Mugabe het klaar gesink en ek lees Maduro in Venezuela “wants to dollarize his economy”.  Net ʼn kwessie van tyd voor hy ook sink aangesien sy geldeenheid klaar gesink het.

Kan dit wees dat wanneer die Filistyne onder mekaar inklim, die Afrikaner weer ʼn “kans” sal kry?

Wie weet?

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

John ·

Aai as logika tog maar kon seevier in SA, maar die tafel is klaar gedek op ‘n tafeldoek uit nuttelose ou papiergeld. Die reserwe- en ander banke gaan dit binnekort ontgeld, want Afrika, soos Suid-Amerika, wil nie weet waar geld vandaan kom nie. As Johan se dit kos niks om geld te druk nie. So? Druk die vervlakste note en hou op kerm… Witmense met hul stories… weer ‘n truuk om ons…

Dina ·

Dankie vir die eenvoudige verduideliking van hoe belangrik eiendomsreg is. Die massas weet dit nie en het nie die vermoe om dit te snap nie, daarom moet ons voorbereid wees vir wanneer dit gaan gebeur. Ek dink selfbeskikking gaan die maklikste opsie vir ons wees.

JMC ·

Wanneer mense nie die nodige opvoeding en/of intellek het om hierdie te verstaan nie gaan dit niks baat nie. My vraag bly altyd, as die mensdom dan almal op gelyke voet begin het, hoe het ons hier opgeeïndig? Hierdie artikel maak dit duidelik hoekom. Ek het nog altyd twee menings. Eerstens, indien al die rykdom in die wêreld gelykop verdeel word, sal ons almal meer as genoeg hê. Na ‘n dekade gaan ons egter terug wees waar ons tans is want tweedens, jy gaan nie mense uit armoede kry voor jy die armoede uit mense kry nie. Dis ‘n feit wat vir alle kleure geld. Mense soos Richard Maponya, David Molapo en Billy Selekane teenoor die wit plakkers van Krugersdorp en Witbank bewys dit.

Fanie ·

As ons eiendomsreg wil beskerm , en die artikel verduidelik baie goed waarom ons moet, sal selfbeskikking die enigste oplossing wees.

Rynhardt ·

Fanie,jy gaan geen selfbeskikking kry nie.Anc en SAKP het al die mag!Jy het daarvoor gestem in ’94!

Hennie ·

Jy kan nie namens ons besluit of ons selfbeskikking gaan kry of nie, daar is baie meer besluitnemers as net jy en die ANC betrokke.

Rynhardt ·

Wat die Anc-ondersteuners nie besef nie,is dat die Mandela-note 💸💸💸 gaan so waardeloos word dat jy jou badkamer daarmee kan uitplak!

jaco ·

toe die ou Nasionale Party met so n paar kosmetiese hervormings van apartheid begin het in 1980, het n paar klein regse groepe reeds gesien wat die uiteinde sou wees en begin agiteer vir n volkstaat. almal het vir hulle gelag. Toe die hervormings begin toeneem, het die NP geskeur en is die Konserwatiewe Party gestig. hulle wou ‘n verkiesing wen en volle apartheid terugbring, so hulle het ook gelag vir die volkstaatidee. in 1990 is die ANC gewettig. ALMAL het toe reeds geweet hoe die wind sou waai, maar tog was daar skaars 60 mense teenwoordig toe Orania in 1991 gestig is. daar bly vandag skaars 1200 mense. 1 miljoen nee stemme in 1992 is in 1994 af na 425 000 vir die Vryheidsfront. En dieselfde party se aantal stemme staan nou maar op iets soos 170 000. Tog het Afriforum en Solidariteit, wat maar dieselfde as die VF-Pus dink, saam meer as 600 000 lede. So almal wat soos die VF-Plus dink is toe nie dood of in Australië of by die DA nie. ‘n Reusagtige persentasie van ons eie mense stel net eenvoudig nie belang nie. Hulle is wel gou om te kla oor die land wat so verval, maar kom die verkiesing dan kry die VF-Plus maar weer net 170 000 stemme. ONS grawe ons eie graf met ons apatie en gebrek aan deelname en belangstelling. So HOE gaan ons nou werk vir selfbeskikking???

Zaan ·

Wanneer ons als gaan verloor het ons geen meer keuse as om hard te druk vir selfbeskikking nie, en die ANC gaan te bankrot wees om dit vir ons te moeilik te maak.

Gerhard ·

Die mense wat agter grondonteiening sit weet baie goed wat gaan gebeur. Hulle doen dit omdat hulle al die mag wil bekom. Hulle plan sal wees om wanneer die ekonomie weer “regkom” sit hulle met alles. Dit maak nie saak of dit so sal wees nie. Dit is wat hulle dink en daarom gaan hulle voortgaan met wat hulle doen.

Jack Klok ·

Daar heers groot onkunde by Jan en Sannie Alleman oor wat geld is en spesifiek wat papiergeld is. Papiergeld het geen intrinsieke waarde nie, anders as byvoorbeeld ‘n goue munt. Papiergeld is eintlik ‘n kwitansie wat jy ontvang het vir die waarde wat jy as individu aan die ekonomie toegevoeg het deur iets te produseer of een of ander diens te verrig. Die noot in jou beursie kan jy dan ter gelegener tyd weer verruil vir iets wat jy wil hê?

Hierdie stelsel kan slegs werk as almal die ekonomie op so ‘n wyse bedryf dat die houers van geld vertroue het dat die beloofde sigwaarde van geld behoue sal bly en gewaarborg sal word deur die owerheid. Dit gaan alles om VERTROUE.

Daar is geen instansie wat rykdom kan skep deur meer geld (kwitansies ) te druk nie. Trouens die hoeveelheid geld in omloop moet altyd ondersteun word deur goedere en dienste van ekwivalente waarde wat in die ekonomie geproduseer word. Indien geld vinniger gedruk word as wat produksie geskied veroorsaak dit inflasie, dws die papiergeld word minder werd.

Ongelukkig is politici nie bereid om hierdie eenvoudige feit aan die kiesers as gedragsreel voor te hou nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.