Dissipline in skole?

Argieffoto

Alten du Plessis van Stellenbosch skryf:

Die onlangse mediaverwikkelinge rakende die Hoër Jongenskool Paarl se beweerde toediening van lyfstraf, ’n praktyk wat al vir 23 jaar in Suid-Afrika onwettig is, en die gevolglike reaksie op sosiale media, het ’n paar vrae rakende dié taboemetode en die skoolstelsel by my laat ontstaan.

My ondervinding

Hoewel ek nie ’n leerder aan die Hoër Jongenskool was nie, het ek in my graad 7-jaar aansoek gedoen om daar skool te kan gaan. Ná afloop van die aansoekprosedure is ek genooi om ’n onderhoud met die vakhoof van Afrikaans te kom doen. Tydens hierdie onderhoud het my pa – bewus van die aantygings van lyfstraf wat daardie tyd reeds gemaak is (en aangehits deur die feit dat ek kennisse binne die skool gehad het wat reeds aan lyfstraf blootgestel was) – reguit die vraag aan die onderwyser gerig oor of lyfstraf nog by die skool toegepas word.

Daardie tyd, soos nou, was die antwoord dieselfde: die skool ontken enige sulke aantygings en, indien daar waarheid sou steek in enige sulke beweringe, die betrokke personeellid onmiddellik aan die toepaslike dissiplinêre proses onderwerp sal word.

Die huidige situasie

Uit wydverspreide mediaberigte verneem ek dat daar tot soveel as ses leerders is wat aantygings van lyfstraf teen, onder andere, die adjunkhoof maak wat agt jaar gelede reeds by die skool was toe ons verseker is dat geen sulke praktyke by die Hoër Jongenskool plaasvind of geduld sal word nie.

Weer eens was die skool se onmiddellike reaksie een van verontwaardiging en ontkenning – met die voorsitter van die Oudskolierebond wat selfs sover gegaan het om te sê dat hy “versteur” is deur hierdie aantygings.

’n Vinnige soektog deur die opmerkings op ’n verskeidenheid plasings oor hierdie beweringe op sosiale media, skilder egter ’n heeltemal ander prentjie. Vind hieronder ’n “keur” van hierdie opmerkings:

  • “As jy dit nie kan vat nie… verdien jy nie die eer van die blou blazer Ons almal het dit gemaak, en ek glo ons het nie te sleg uitgedraai nie.” – Charl Serdyn
  • “Die seuns in HJS weet presies hoekom hulle moet buk. Myne was daar en het geen probleem daarmee gehad nie!” – Salome Bouwer
  • “… Arme kinders aangerand? Regtig? ’n Plat hand tussen die skouers? Ag, shame, mamma se arme bloedjie…” – Erika Nortier
  • “I went to Paarl boys [sic], and let me tell you as an old boy I 100% agree, I was on the receiving end of a plank in the dungeon. And let me tell you that is completely acceptable…” – Jayson Wolfaardt
  • “Hierdie hele situasie is ’n skande. Ek is skaam as ’n Old Boishaaier [sic]… Die ouers wat gaan klag lê het moet asb. hulle onopgevoede self met hul onopgevoede kinders vat en land uit trek sommer. Julle is aandag soekers… Mnr R Visagie en kie wat in ons tyd ons sommer met die hand bygekom het, het 100% my respek en ondersteuning.” – Dawie Smit
  • “Skool waar die kinders nog geleer word wat die woord respek beteken… bou so voort HJS!” – Adalene Visser

Wat duidelik blyk uit hierdie opmerkings, is dat, hoewel die skool die bestaan van lyfstraf ontken, ouers en oudskoliere bewus daarvan is en dit ondersteun.

’n Kultuur van dissipline

Die hoofverdediging vir die aanwending van lyfstraf as strafmaatreël, deur oudskoliere en ouers wat, soos bo vermeld, die bestaan daarvan erken, is dat dit die beste manier is om dissipline in so ’n omgewing te handhaaf. Die probleem wat egter met hierdie argument bestaan, lê in die implisiete boodskap wat deur die beoefening van hierdie praktyk aan leerders oorgedra word. Deur aan te hou om onwettige straf toe te dien, word ’n minagting van die reg onder leerders gekweek.

Dit is tog onmoontlik om terselfdertyd “dissipline te handhaaf” en die wet te breek? Noodwendig moet die breek van ’n wet die “dissipline” in só ’n aksie ontsluit, uitsluit.

Die sukses van HJS

Die tweede mees oorstemmende argument vir die voortgesette toediening van lyfstraf deur belanghebbendes voorgehou, lui dat die sukses wat HJS behaal, beide in opsigte van respek en andersins, as gevolg van die toediening van lyfstraf is.

Die ooglopende probleem met hierdie manier van argumentering is die totale gebrek aan ’n kousale verband. Laat ek verduidelik: is HJS die enigste skool in die land waar respek geleer word? Is HJS die enigste skool in die land waar die meerderheid van leerlinge meeste van die tyd respekvol optree? Die antwoorde op beide hierdie vrae is natuurlik nee. In ag genome dat lyfstraf nie by elke skool waar respek gehandhaaf word, toegepas word nie, moet die vraag gestel word of sukses by HJS behaal word as gevolg van die toediening van lyfstraf of ten spyte daarvan?

Ter illustrasie van hierdie punt: Almal wat in die 1950’s grootgeword het, het sonder veiligheidsgordels in motors rondgery. Die wat nog lewe, het uit die aard van die saak nie gesterf nie. Sou mens kon sê dat hulle oorleef het omdat hulle nie veiligheidsgordels gedra het nie, of ten spyte daarvan? Met nuwe navorsing, kan ons daadwerklik sê dat dit ten spyte daarvan is.

Nuwe navorsing rakende lyfstraf blyk dieselfde resultate te toon. Egter, of daar met die navorsing saamgestem word of nie, kan die volgende logiese stelling gemaak word: Gegewe die feit dat ander skole dieselfde, of selfs beter, resultate behaal sonder om lyfstraf toe te dien, wil dit voorkom asof HJS se sukses ten spyte van, liewer as gevolg van, lyfstraf is.

“Giftige manlikheid”

Een van die gonswoorde wat mens dadelik op universiteit mee gekonfronteer word, is die sogenaamde toxic masculinity (“giftige manlikheid”). Aangesien ek ook in ’n seunskool was, het ek lank teen die bestaan van hierdie mantra vasgeskop. Nadat ek egter die kommentaar gelees het wat sê dat seuns wat nie “dit… kan vat nie”, nie die skoolbaadjie verdien nie, moes ek my kop in skaamte namens HJS en namens ons wyer gemeenskap laat sak.

Vir die eerste keer het ek werklik besef waarvan mense praat as hulle van hierdie “giftige manlikheid” praat. Meet ons regtig hoe manlik ons is aan hoe goed ons ’n pak kan vat? Of aan hoeveel strepies ons op ons dasse het? Is dit ’n toonbeeld van die algehele gebrek aan volwassenheid en emosionele beskawing binne ons samelewing?

Die kultuur wat binne ’n instelling geskep word waar oudskoliere sulke opmerkings maak, moet ook bevraagteken word: is dit regtig ’n kultuur van respek of is dit net nog ’n tentoonstelling van die machomentaliteit wat die Afrikaner al vir eeue lank kniehalter? As daar na sulke opmerkings gekyk word, voel dit regtig asof die horlosie teruggedraai word en al die vooruitgang wat oor die afgelope paar jare gemaak is, ongedaan gemaak word.

Ter afsluiting

Of mens nou ten gunste van die toediening van lyfstraf in skole is of daarteen, bly die beoefening daarvan teen die wet.

Indien u is, doen uself ’n guns en gaan lees na oor die “effektiwiteit” daarvan. Die Amerikaanse Vereniging van Pediaters het in 2000 die volgende stelling gemaak: There is no benefit to spanking, we know that children grow and develop better with positive role modelling and by setting healthy limits. We can do better.

Ek hoop van harte dat die skool ’n sorgvuldige ondersoek sal doen en dat oudskoliere wat so gretig is om hul stories op sosiale media te deel, ook betrek sal word. Indien hierdie praktyk al vir so lank plaasvind soos wat dit uit die kommentare blyk, hoop ek van harte dat die skuldiges aan die pen sal ry, want dan was dit vir hopeloos te lank onder die mat gevee.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Koos

En ek dag dis afgeskaf omdat in die nuwe SA hulle in skole wou verhoed dat een kleur lyfstraf aan ‘n ander kleur uitdeel.

Fanie

Snaaks dat iets wat vir eeue al deel van die mensdom is, nou ewe skielik “boos” is. En alhoewel ons voorouers aan hierdie “bose” behandeling onderwerp is, hulle niks daarvan oorgekom het nie. Inteendeel. Dekades gelede was daar minder moord, verkragting, ens. Nee wat, my “gutt feel” sê vir my die manlike geslag kan nie meer die “punch” vat nie. My gutt feel sê ook vir my dis die rede hoekom die lewe hulle so maklik onderkry.

Schalla

O ja, en hierdie hele “toxic masculinity”-beweging irriteer my grensloos! Ek wens dit wil nou einde kry. As James Bond (Pierce Brosnan) eers oogroom begin adverteer dan weet jy daar is ‘n skroef los in die wêreld! G’n wonder ons leef nou in ‘n samelewing waar party mense hulle kinders so deurmekaarmaak en wil wysmaak dat hulle op een of ander manier hul geslag kan “kies” as hulle oud genoeg is nie! ‘n Vrou is ‘n vrou en ‘n man is ‘n man. Hy is “rough around the edges” maar is ook sterk en as sy pa hom goed grootgemaak… Lees meer »

R Lombard

Ag shame aan die skrywer van hierdie artikel. Gaan kuier in die klasse waar skool gegee word en sien hoe onskuldig hierdie kinders is. Partykeer moet jy die boompie buig om hulle te wys daar is gevolge vir jou dade. En dan kry jy slapgat ouers wat die skole wil aanvat, ipv vra wat het aanleiding gegee dat die pakslae.

Ny

Die ou KAN skryf!