Lesersbrief: Herskryf jou storie

Wendy Smith skryf:

(Foto: Fanatic Studio/Gary Waters/SCIEN / FST / Science Photo Library via AFP)

My rolmodel het Alzheimer se siekte gehad. Baie mense sal frons, want vergeet-siekte kan nie enige stories vertel nie. Soms dink ʼn mens dat hierdie ongenooide siektes verskriklik is, dat alles in ʼn oomblik net gaan ophou en dat ons nie meer oor die aarde kan loop met fluister-voete nie.

Maar wanneer jy oplet na die klein dingetjies, wanneer jou hart en siel jou woorde oorvat, en jy praat sonder om eenkeer ʼn geluid te maak – dit is dan wanneer jy enige storie kan herskryf.

My pad met Alzheimer se siekte was nie maklik nie, nêrens het enigiemand ooit bevestig dat dit mooi gaan wees nie. Almal kry die nuus met ʼn tikkie droefheid en treur dadelik oor alles wat met sekerheid verlore gaan raak. Kyk met hartseer oë na die geliefde, wat miskien oor ʼn jaar van nou nie eers meer jou naam kan onthou nie.

My storie het wonderwerke in gehad. Elke keer as ek gaan kuier, was daar nog minder onthou, nog minder beweging, nog minder praat. Maar daar was altyd hoop in ons ou wat heeltyd na bo gekyk het. Taal het gebare geword wat ons almal verstaan het. My pa het stories vertel oor wie hy was. Sy Bybel, bril en tande het hy gaan begrawe onder ʼn dik-stam boom waar daar skadu’s was. Weggeloop na die bome waar die uile gebly het en soms probeer om skelm by die hek uit te dans sodat hy die Here kan gaan kry waar daar water was.

En ek het verstaan. Ek het geweet dat sy Bybel die boek was wat sy voete gerig het sodat hy nie bang hoef te wees terwyl hy vasgevang word in sy eie denke nie. Dit moes immers beskerm word deur die skadu van ʼn boom wat die Skepper vir hom gemaak het. Sy bril het hom laat kyk na alles wat geskape is met soveel deeglikheid en deernis. Sy tande was die glimlag wat hy wou bêre vir die een mens wat hy net kon onthou as “Little One”.

Hoe sal ek dan kies om dit te onthou? Sal ek dink aan die feit dat hy goed gaan staan en begrawe het en dan moet sukkel daarsonder, of kan ek bly dink dat dit sy manier was om vir my te sê dat hy onthou, dat hy dit wat vir hom kosbaar was vir my wil bêre daar waar hy altyd vir God gaan haal het.

Ek sal eerder onthou dat ek eendag woordeloos gelukkig gekyk het hoe my pa “ontsnap” met ʼn dans. Ja, ek dink dis hoe ek dit sal onthou. My rolmodel het my miskien vergeet, maar steeds onthou dat dans my wêreld was.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.