Lesersbrief: President Ramaphosa, wanneer het ons ophou omgee?

(Foto: ANC/Twitter)

Karin Oakes skryf:

Beste mnr. Ramaphosa

Ek vertrou dat hierdie brief u tafel sal bereik en veral dat u dit sal lees en die inhoud hiervan u sal aanspoor om die nodige besluite en aksie te neem.

Sommige mense mag dalk dink dat ek hierdie brief skryf om aandag te trek. Hulle is doodreg – ek hoop om veral u aandag te trek.

Ek wil graag die vraag aan u stel: Wanneer het ons ophou omgee?

Dit is ʼn gelaaide vraag en u mag dalk nie dadelik die antwoord hierop hê nie.

Na die 1994-verkiesing en tydens die wittebroodtydperk van ons demokrasie, was almal opgewonde en het uitgesien na ʼn beter lewe vir almal. Die ekonomie was sterk, die mense was positief en daar was ʼn gesindheid van nasiebou oral te bespeur. Dit is werklik jammer dat die realiteit na die wittebrood gou deurgeskyn het.

Eintlik gaan alles nou net oor die mense wat in magsposisies is en hulle wat toegang het tot die beste van die beste – dit is al wat saak maak. Die mense maak nie meer saak nie – aldus dit is wat ek as Suid-Afrikaanse burger ervaar.

Ek is tans amper 60 jaar oud. Dit behoort ʼn tyd te wees van uitsien na ʼn lewe ná beroep en werk, maar dit is juis toe nou nie die geval nie. Almal sê as ʼn mens iets gedoen wil hê, moet jy jou stem dik maak of inspring en self help.

Natuurlik verwys dit ook na mense se stemreg, en dat dit gebruik kan word om verandering te kanaliseer. In dié geval is 2024 heeltemal te ver op die horison. Terug by my vraag – wat doen ons (ek) om dan werklik die erns van die saak van die ontnugterde burger aan u te verduidelik?

Ons sit met werkloosheid wat meer as 35% is. Ek tel nou onder daardie syfer – al is ek amper op pensioen. Die feit is, ek het my werk verloor na die maatskappy waarvoor ek gewerk het besluit het om hulle belegging en werkskepping in Suid-Afrika te staak.

Ons het werk verrig en oplossings verskaf aan die Suid-Afrikaans Poskantoor. Ons was oortuig dat die feit dat ons sagteware voorsien aan meer as 30 poskantore wêreldwyd, toegepas sal kan word in Suid-Afrika. Dit het ook goed begin, totdat die Poskantoor nie meer hul rekeninge kon betaal nie. Dit, ten spyte van feit dat die Poskantoor hier in die vroeë 2000’s wel wins getoon het.

Wat het gebeur? Winsbelang op persoonlike vlakke het oorgeneem. Almal was meer besorgd daaroor om ‘bestuurder’ te wees as om werklik te bestuur. Nou kan die Poskantoor skaars Post Bank bestuur.

Mediese sorg waarvoor pensioenarisse bydra (aftrekkings gedoen word), bereik nie die mediesefonds nie. Dieselfde geld vir personeel wat skielik sukkel om medies sorg te kry, omdat die Poskantoor ook nie hulle bydrae oorbetaal het nie. Die betaling van Sassa-pensioene is ook ʼn probleem, want een oomblik ‘werk’ die Poskantoor en die volgende oomblik nie.

Geen wonder mense het begin om hulle Sassa-kaarte iewers anders te kry nie. Nou is ek amper ʼn Sassa-pensioenaris en weet nie hoe dit gaan werk nie. Sal daardie geld wel uitbetaal word wanneer ek ook deel raak van die wat om staatshulp aanklop?

Die dame wat my uithelp in my huis neem ʼn rukkie gelede haar seuntjie na die staatshospitaal/ kliniek om medisyne te kry vir erge diarree en naarheid. Na ʼn hele paar ure se wag, is sy uiteindelik voor in tou. Sy kry ʼn botteltjie Panadostroop en dis al. Sy moet huis toe gaan met haar seuntjie en dit vir hom gee om te drink. Werklik? Sou u slegs ʼn Panado neem indien u maaggriep het? Ek twyfel sterk.

So, hier is ons nou. Wanneer het ons ophou omgee? Niemand gee om nie – dit is hoe dit voorkom. Die departement van gesondheid wil blykbaar ʼn ‘versekering’-tipe produk loods in die vorm van nasionale gesondheidversekering. Hoe gaan hulle dit doen as die basiese dinge vandag nie kan gebeur nie?

Die wat in beheer is, vir wie ons stem, blyk niks te doen terwyl ons land inmekaar stort nie. Waar is die aksies – nie planne nie, maar aksies met tydlyne wat gemeet word om die probleme van ons land aan te spreek? Hoe lank gaan Eskom gewone burgers se geld nog misbruik? Hoe lank gaan staatshospitale géén daadwerklike diens lewer nie? Wanneer sal die Poskantoor weer ʼn instansie wees om op trots te voel?

Wanneer sal ons weer begin om om te gee?

Groete,

ʼn Ontnugterde Suid-Afrikaanse burger

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die land is te groot, divers en ingewikkeld vir die ANC se beperkte vermoë.

Prikkie ·

‘n Mens hoef maar net te kyk na die uiters uitspattige en peperduur uitrustings wat deur die parlementslede en hulle gades vertoon word by die “SONA”.

Natuurlik gee diesulkes NIKS om vir die armmens wat sukkel om sy gesin te voed en te klee.

Indien hulle omgegee het, sou hulle nie so uitspattig uitgedos het en die swaarkry van mede landsburgers bloot ignoreer nie.

Ons (veral die ANC en sy meelopes) het na 1994 opgehou omgee.

Miss J ·

So waar, en ek hoop saam dat hierdie sy tafel bereik. Aksie sal beter wees!!! Behalwe energie is alles ‘n GEMORS. Mense probeer sover hulle kan, maar te veel mense sit terug en kyk maar net toe hoe hulle dorpe en alles rondom verval. Daar is instansies wat hard werk om hand te gee, maar sonder burgers se hulp, sukkel dit maar ook. In my opinie is ook die feit dat soveel mense sonder krag, sonder skoon water en met riool in die strate sit, nog ook n gesondsheids krisis en teen ons basiese mense regte. Waar is die gesondheids departement, waar is burgers wat sê genoeg is genoeg!!!! Ons gee nog steeds om, maar respek vir ANC en Mnr die presdident is daar lanklal nie meer nie.

Groen Ghoen ·

Dit ruk aan die hartsnare, Karin. Myns insiens het die 1994-skikking slegs die brutale oorname van mag behels. Lees gerus dr. Anthea Jefferey se “The people’s war.” Terme soos “omgee” en ”n beter lewe vir almal” is skaamteloos misbruik om die goedgelowiges te paai. Waarom skryf ek dit? Omrede die leuens van 1994 en die gevolge daarvan nou oop en bloot daar is vir almal om te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.