
Foto: pixabay.com
Deur Anni van Zijl
Ek wil graag my getuienis met jou deel, omdat ek glo dit sal ook ander mense help om te weet Jesus los ons nooit nie. Hy kom haal ons op plekke waar gewone mense nie sal gaan nie. Hy maak ons vry en sement ons voete vas op die Rots. Jesus gee nie net hoop nie, Hy is ons Hoop, ons Verlosser en ons Saligmaker. Hy is die middelpunt van alles.
Ek is Anthea (Anni) en ʼn voormalige dwelmverslaafde wat vir tien jaar heroïen, crack en dagga gebruik het en ook betrokke was by prostitusie, heksery en die okkulte. Ek was ook in ʼn lesbiese verhouding. Dis ʼn lang lys, maar my lewe was ʼn gemors. Ek was ook in motor- en motorfietsongelukke en het probeer selfmoord pleeg. En tog het ek bly lewe. Die laaste ongeluk was met ʼn motorfiets, waarin ek baie erg beseer is. Weer ʼn keer het Jesus my uitgehaal.
My seun was ses jaar oud toe sy pa ons gelos het vir ʼn ander vrou. Ons was stukkend en gebroke, maar ons moes aangaan met die lewe. Ek het nie ʼn inkomste gehad nie en kon ook nie werk kry nie. Aangesien ek nie kon werk om ons te onderhou nie, het ek my na prostitusie gewend. Dit het my hele menswees afgebreek.
Aangesien ek nie baie geld gemaak het in bordele nie, het ek my na die strate gewend. Hier het ek ook met dwelms deurmekaar geraak. Dit het deel van my lewe en bestaan geword.
Ek dank God ek het my seuntjie nooit verniel nie. Hy was altyd my eerste prioriteit en ek het altyd seker gemaak hy is versorg. Hy het grootgeword en op twaalf begin drink. Op veertien het sy vriend hom uitgenooi na ʼn jeugkamp, waar hy tot bekering gekom het en gedoop is.
Op die kamp het hulle ʼn kruistog gehou. Hulle het ʼn vuur gemaak en elke kind het ʼn kruis uit tamatiekisplankies gemaak. Hulle moes hul gebedsversoek op die kruis skryf en daarvoor bid en dit dan in die vuur gooi. Hy het letterlik op sy knieë geval en God gesmeek om sy ma te red. Hy het vier jaar lank elke jaar die kamp bygewoon waar hulle vir my gebid het.
Terwyl hulle vir my gebid en hy God vertrou het met my redding, het ek ʼn paar keer byna gesterf. Na die vierde kamp het my seun my die soveelste keer gevra om net een kruistog saam met hom te doen en ʼn versoek vir God te gee.
Ek het ingestem net om hom uit my hare te kry. Al wat ek daar gesê het was ‘Here ek is moeg, red my.’ Ek het die papiertjie toegevou en in die vuur gegooi. Vyf maande later het God my seun se gebed van vier jaar beantwoord.
Hy het my uit die hel gehaal en my vasgesement op die voete van Jesus Christus. Ek het nie rehabilitasie gehad nie, geen medikasie nie, niks. God het alles in ʼn oogwink verander. Hy gee my wilskrag en deursettingsvermoë.
Binne die eerste drie dae van ontrekking het ek my lesbiese verhouding beëindig en ek was ook vry van die okkulte en alles wat daarmee saamgaan. My lewe het verander van wanhoop na hoop.
Dit is nou drie en ʼn half jaar later en ek is nou ʼn geesvervulde kind van God. My kind se gebed het my lewe gered. Hierdie is maar net die oppervlak. Die groeiproses was moeilik en dit was moeilik om vergifnis te vra en te gee. Die moeilikste was om myself te vergewe en om te leer Sy genade is vir my genoeg.
God se krag het my gedra toe ek op my swakste was. Jesus het my hoop en liefde gegee toe almal gedink het daar is geen hoop nie. God het Sy hand uitgesteek en gesê: ‘kom My kind, jy is Myne’. Hy het my vry gemaak en my ʼn toekoms vol hoop gegee.
My seun het op 27 Julie 2016 gesterf terwyl hy in ʼn diabetiese koma was. My pappie het ʼn week later gesterf. My hart is stukkend. My hele wese voel asof ek uitmekaar val, maar ek weet God is goed. God is genadig en groot. Ek sal treur, maar nie gaan lê nie. Ek sal Jesus dien en Hom liefhê. Ek sal op God vertrou en op Hom steun om my deur hierdie verskriklike seer te dra. Hierdie getuienis sal voortgaan tot eer van God, want daar is lewe na die dood wat Jesus moontlik gemaak het toe Hy aan die kruis gesterf het.
Dit is totsiens, my kind en my pappie, maar nie vaarwel nie.
- Anni van Zijl is een van die sprekers by die kongres “ʼn Hoopvolle toekoms”-vrouekongres wat op 29 Oktober vanjaar in Rustenburg aangebied word. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor dié geleentheid.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
20 Kommentare
Dankie vir die awesome getuinenis Anni..jy is ‘n voorbeeld van SY LIEFDE EN GETROUHEID
Sterkte vir die pad vorentoe!
Dit is n wonderlike getuienis.Jesus red en genees.Dit is weer n bewys dat ons net moet aanhou bid,glo en vertrou.Die woord se Jesus is getrou en regverdig,en op Sy tyd sal ons gebede beantwoord word.Ek het n baie lang lysie van al die wonderwerke wat Hy al in my lewe gedoen het,en nogsteeds daagliks doen.Vir elkeen daar buite wat moedeloos is,en voel die lewe het nie meer sin nie,JESUS IS DIE ANTWOORD!!!!!!
Jesus het my ook opgetel. Ek was vir 30 jaar aan toonbank medikasie verslaaf. Hy het my ook verlos. Sonder enige rehabilitasie. Die pad was moeilik, maar danksy my man wat my met liefde bygestaan het is ek al vir 4 jaar skoon. Sterkte vir jou Anni. Ek is dankbaar saam met jou.
Ek was ook deur ‘n dwelm hel en prostitusie, tronk straf en ander misdade. Ek was ook menigmale amper dood. Ek het op ‘n Vrouekamp gegaan (teen my wil… ) en het daar ook teruggekeer!! Jesus is besig met SY groot plan terwyl hy ons voorberei vir die ewigheid. Prys die HERE, want HY is Groot en Goed. Liefde!!
Jy is ‘n amazing mens – dankie vir jou storie. Jy gee soveel mense nuwe HOOP!