‘n Ope brief aan UP-visekanselier oor Covid-19-inenting

Deur Philip de Bruin 

Prof. Tawana Kupe (Foto: UP/Facebook)

Geagte professor Tawana Kupe

Ek vertrou dit gaan goed met u.

In u skrywe gerig aan studente op 16 November 2021 met die titel UP UG 2021: UPDATE ON PLANNING TO FACILITATE A RETURN TO THE WORKPLACE AND RESUMPTION OF FACE-TO-FACE TEACHING AND LEARNING AND OTHER ACTIVITIES sê u dat daar duidelike bewyse is dat studente en personeel graag na normaal en kampus toe wil terugkeer. Ek kan dit ook inderdaad bevestig.

U erken burgers se grondwetlike regte, maar maak die verwagting dat almal moet inent baie duidelik. U gee vrywaring aan diegene wat nie wil inent weens mediese of godsdienstige redes nie, solank hulle ten alle tye ʼn N95-masker dra, ʼn weeklikse negatiewe polimerase-kettingreaksietoets (PKR) verskaf ongeag of die individu simptome toon of nie, sowel as ʼn gesondheidsondersoek ondergaan voor toegang tot kampus toegestaan sal word. U noem verder dat sogenaamde “oningeëntes’’ nie toegang tot sekere geleenthede en fasiliteite sal hê nie.

Ek is sedert 2018 ʼn student aan die Universiteit van Pretoria. Weens verskeie redes is ek nie van voorneme om in te ent nie, onder andere uit ʼn regsbeginsel, godsdienstige oortuigings, gepubliseerde wetenskaplike bevindinge en empiriese gebeurtenisse. Omdat die debat oor die laasgenoemde drie redes ʼn oneindige een kan word – debatte word al gevoer sedert die pandemie begin het – sal ek my skrywe aan u tot die eersgenoemde rede beperk.

Die Republiek van Suid-Afrika is ʼn grondwetlike demokrasie. Ons Grondwet word deur kundige internasionale regslui as die beste ter wêreld beskou. Ek wil graag u aandag op ʼn paar van hierdie grondwetlike regte vestig wat u so vlugtig in u skrywe genoem het. Artikel 9 van die Grondwet stel dit duidelik dat nóg die staat, nóg enige ander persoon regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op een of meer gronde mag diskrimineer, onder andere op grond van godsdiens, gewete en oortuiging. Artikel 12(2) waarborg burgers se liggaamlike en sielkundige integriteit, en stel dit duidelik dat burgers die beheer oor hulle eie liggaam het. Artikels 15 en 16 bepaal dat burgers die reg op vryheid het betreffende godsdiens, oortuiging en mening, sowel as vryheid van uitdrukking. Artikel 21 waarborg die vryheid van beweging, en Artikel 29 die reg op verdere onderwys.

Die verlede het ons as moderne samelewing ʼn paar lesse van onskatbare waarde geleer. Byvoorbeeld, die Jode moes tydens die Tweede Wêreldoorlog sterre op hulle moue dra, wat segregasie in ʼn vredeliewende samelewing bevorder het en eindelik tot die tragiese Holocaust gelei het. Alhoewel dit ʼn drastiese voorbeeld is, het vele ander geskiedkundige gebeure bewys dat diskriminasie nie positiewe resultate oplewer nie. Ook hier in ons eie land is ʼn groot deel van ons bevolking as gevolg van diskriminasie benadeel. Mense is deur hulle velkleur gekenmerk en sodoende van die “in-groepie” uitgesluit. Hierdie mense is van sekere regte en voordele ontneem. Niemand kan oor die onregverdigheid en onsinnigheid van diskriminasie stry nie. Vandaar ons huidige Grondwet.

U is duidelik bewus van ons grondwetlike regte, anders sou u dit nie in u skrywe genoem het nie. Wat ek nie kan begryp nie, is hoe u bereid is om teen mense wat om welke rede ook al nie wil inent nie te diskrimineer. As die meerderheid van studente ingeënt is, soos in u skrywe beweer, en sonder maskers mag rondloop, terwyl die sogenaamde oningeëntes forseer word om maskers te dra, gaan die laasgenoemde groep soos ʼn seer vinger uitstaan. Dink u eerlikwaar dat daar nie teen hulle gediskrimineer gaan word nie? U wil nog verder teen hulle diskrimineer deur te verbied dat hulle sekere geleenthede bywoon, wat hierdie individue uitsluit op gronde wat uitdruklik in die Handves van Regte genoem word. Dit is nie al nie. Die weeklikse PKR-toets wat u verwag, kos ongeveer R1 000 … weekliks! En dan wil u boonop hê dat hierdie mense dit op eie onkoste moet doen, met of sonder simptome! Hoe op dees aarde kan u dan dink dit is ʼn goeie idee om blatant teen ʼn groep te diskrimineer? En ja, ek glo dat die uitkenning van sogenaamde oningeëntes deur om hulle te forseer om ʼn masker te dra, diskriminerend is. Ek glo verder dat die voorgestelde voorwaardes vir vrywaring drakonies is, en dat dit nie in lyn met die Handves van Regte is nie. Nie eers ʼn professionele werkende sal u voorwaardes kan bekostig nie, wat nog te sê ʼn student.

Gestel die inenting is wel teen Covid-19 doeltreffend en dat dit geen newe-effekte op mense het nie. Gestel verder dat die meerderheid van mense wel ingeënt is. Waarom moet die klein minderheid ook dan ingeënt word? Is die meerderheid van mense dan nie van gesondheid gewaarborg nadat hulle ingeënt is nie? Is dit nie na bewering die klein minderheid wat die risiko loop om dodelik siek te word nie? Waarom die moeite doen om hulle te forseer om in te ent? Dit is tog hulle keuse, en u hoef geen aanspreeklikheid vir hulle aksies of die gevolge te aanvaar nie. So gepraat van aanspreeklikheid, hoe vêr strek u vertroue in hierdie inenting? Is u ten volle ingeënt, en kan u die universiteit se gemeenskap met bewyse daarvan voorsien? Is u bereid om volle verantwoordelikheid en volle aanspreeklikheid in ʼn persoonlike hoedanigheid of namens die universiteit vir enige newe-effekte van die Covid-19-inenting te aanvaar?

Philip de Bruin

Ek begryp heeltemal dat die bevordering van studente en personeel se veiligheid aan die universiteit geen maklike taak is nie. Uiteraard is niemand wat siek is veronderstel om die kampus te besoek nie – dit is tog logies. Dit moet egter nie beperk wees tot slegs Covid-19 nie, maar geld vir alle siektes. As iemand simptome van welke aard ook al toon, moet hulle tuis bly en/of ʼn geneesheer besoek. In hierdie lig gestel kan ʼn gesondheidsondersoek regverdig word – nie net vir sommiges nie, maar vir almal – soos wat tans die geval is. Om egter ʼn weeklikse PKR-toets te eis ongeag die gesondheidstoestand van die individu, en dit nogal diskriminerend van slegs die sogenaamde oningeëntes eis, is skokkend. Om dan verder hierdie sogenaamde oningeëntes duidelik te kenmerk deur die geforseerde dra van ʼn masker is kommerwekkend op meer as een vlak, en herinner boonop aan baie negatiewe gebeurtenisse in die verlede.

As daar eers op grond van ʼn inenting gediskrimineer kan word, wat kom volgende? Ras? Godsdiens? MIV-status? Dit sal so maklik en eenvoudig wees om die diskriminasie te ekstrapoleer na ander vlakke, en dit is presies wat die Grondwet keer!

Ek doen dus ʼn beroep op u om u voornemens te hersien. Ek doen ʼn beroep op u om die Grondwet te bevorder en te onderskraag. Ek doen ʼn beroep op u om die demokrasie van die Republiek van Suid-Afrika uit te bou in plaas van in te perk. Ek doen ʼn beroep op u om as visekanselier en prinsipaal van die universiteit die regte keuse te maak in plaas daarvan om die gewilde keuse te maak.

Ek skryf hierdie brief aan u in goedertrou, en hoop dat u dit ook so sal aanvaar.

Vriendelike groete

Philip de Bruin

  • Philip de Bruin is ‘n student aan die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

nikkel ·

Dit is goed en wel om self te kan besluit of jy die inspuiting wil vat of nie.

Ek persoonlik gee nie om of mens nog steeds ander mense kan aansteek of nie aansteek nie.

Wat ek wil verhoed is om uit die ICU en van ventilators af weg te bly.

Covid 19 is nie net ‘n verkoue of griep nie.
‘n Baie naby familielid is oorlede daarvan.
Dan troos die ‘feit’ dat minder as 1% van die bevolking daarvan sal sterf of moontlik kan sterf glad nie.

Hoekom geloofsoortuigings ‘n rede moet wees om dit nie te neem nie maak ook glad nie sin nie.

Laastens, Covid 19 en die vaksiene is nie ‘n ANC idee, fabrikasie of sameswering nie.
Dit is wêreldwyd. Die ANC is nie gebore in staat tot so ‘n fabrikasie nie.

Ek het die vaksiene geneem en die newe effekte was minimaal. Ek sal aanvullende inspuitings ook vat.

Dit is doodeenvoudig. Ek wil uit ICU en van ventilators af bly.

Die keuse is joune.

Dewald ·

Daar is baie wetenskaplike data wat dui dat die entstof die risiko van ernstige siekte kan beperk, maar soos jy tereg se, die keuse moet bly by elke individu.

Die grondwet laat wel toe vir die redelike beperking van hierdie grondwetlike regte (byvoorbeeld, word jou reg tot vryheid beperk sou jou skuldig wees aan ‘n misdaad en tronkstraf kry). Persoonlik, voel ek nie dat hierdie beperking van regte in terme van jou dwing om die entstof te ontvang redelik of regverdigbaar is nie.

Ek hoop maar dat UP, Old Mutual and ander wat hierdie stappe neem, tog sal heroorweeg.

Danie ·

Maar jy noem dan nou self dat die ernstigheid van C19 baie laer is as jy gespuit is. Is dit nie genoeg aanmoediging om wel dan te gaan vir dit nie?

moonchild ·

Goed gesê jong man. My jongste is tydelik goedgekeur om te studeer aan UP in 2022. Voor hom was sy sussie en boetie ook deur UP geskool. Oor hierdie beleid sal ek hom nie na hierdie Universiteit toe stuur nie en dit gaan sy drome vernietig. Elke woord wat jy sê staan ons ook agter jou. Soveel jong opkomende briljante jong mense se drome word vernietig deur hierdie gedwonge vaksinering.

Dewald ·

Om die entstof “ongetoets” te noem, is ongelukkig oningelig. Met respek, dink ek mense moet hulle minder skaar by die “Twitter kenners” en eerder self deeglike navorsing doen oor hoe entstowwe as ‘n geheel ontwikkel word.

Daar is genoeg steun in wetenskaplike data om te wys dat die entstof doeltreffend (alhoewel nie 100% nie) en veilig is.

Hierdie argument gaan nie oor “anti-vaxxers” nie, maar jou reg tot die vryheid van keuse, opgeweeg teen die reg (tot gesondheid) van die groter samelewing om jou.

Ek stem wel heelhartig saam dat hierdie drakonies is, en geen plek het in ‘n demokrasie nie.

Gods ·

Baie goed gestel! Ons het nog steeds regte in hierdie land en ons moet opstaan daarvoor!

piet ·

Die regte van die gemeenskap in sy geheel dra swaarder gewig as individuele regte. Dit behoort jy in Konstitusionele Reg 101 te geleer het. Ek stem saam met die professor.

Dewald ·

Dit is juis ‘n kwessie, wat Covid entstof spesifiek betref, deur die konstitusionele hof oorweeg moet word. Daar is ‘n geldige argument na albei kante toe.

My vraag is, as ek self kies om nie die entstof te neem nie, maar jy (as deel van die gemeenskap doen wel), hoekom skend ek jou regte? Jy is immers dan beskerm, en jy behoort ook verdere stappe te neem om jouself te beskerm (afstand hou, hande was ens.). Hierdie besluite moet deur data en feite gestaaf word, kan die wetenskap al vir ons wys dat jou risiko op infeksie so drasties verlaag as ek ook ingeent word, dat dit die beperking van my regte regverdig? Onder normale omstandighede, sonder enige voorkoming, beloop jy risiko skaars 2%.

Volgens vandag se artikel, het ongeveer 0,03% van die populasie in SA tans Covid.

Na my mening, staaf sulke statistieke nie ‘n argument dat die gemeenskap se regte geskend word as ek nie ent nie.

(Ja, ek het Covid gehad en was ernstig siek, dit verander nie my opinie nie)

Kobus ·

Elkeen se onstandighed is uniek en dit is dus vir my ‘n belankrike beginsel dat elke individue die reg het om sy eie situasie te evalueer en dan te besluit om ingeënt te word al dan nie. Op die ou-end gaan die individue tog sy of haar eie kort sowel al lang termyn nagevolge moet dra.

Verder is dit nie aanvaarbaar dat daar gediskrimineer word op grond van die individu se besluit nie net soos dit nie aanvaarbaar sal wees as daar teen iemand gediskrimineer word op grond van watter party hy/sy voor gestem het in die afgelope verkiesing nie.

Laastens vind ek dit baie vreemd dat instansies soos UP (en ander) geen oorweging skenk aan die waarde van natuurlike imuniteit nie. Veral in die lig daarvan dat ‘n teenliggaam toets gedoen kan word word teen bykans 25% van die koste van ‘n PKR-toets.

Charlene ·

Ek wens daar was nog ‘n duisend ander studente soos Philip De Bruin: mense wat die moed het om as individue op te staan en onbeskaamd hul opinie te lug. Ek stem 100% saam met hom en sal help om sy hande omhoog te hou. Vir vir my gaan dit, meer as enigiets, oor die skandalige idee dat ons as volwasse mense, in hierdie moderne era, geforseer word om toe te gee: om teen ons wil saam met die stroom te swem, om ons eie logika te ondermyn, en om onsself te verraai. Dit voel of ek ‘n terugflits kry van ‘n outydse fliek uit ‘n era waarin ek nog ‘n tjokkertjie was. Beweeg ons agteruit? Gun elkeen asb. die reg om asem te haal, kos, beskerming en ‘n opvoeding te kry: die basiese menseregte waarvan kinders op skool leer in LO. Deur hierdie streng onsinnige wettiese optrede, word almal wat die status quo durf uitdaag (asook die wat bloot meer tyd benodig om inligting deeglik te analiseer en na te vors), ingehok en behandel asof ons besmet is. Klink dit nie belaglik nie? Wat leer die jeug hieruit?

Miskruier ·

N siekte waaraan weinig jong mense sterf. N vaksiene wat nie verhoed dat die siekte versprei, inteendeel die gevaksineerde voel nie siek en versprei die virus.

ONTPS ·

Ek het drie familielede en vier vriende onder 30 wat ernstig siek geword het (almal ook anti-vaxers). Ongelukkig is een niggie oorlede aan Covid, twee sukkel nog met erge komplikasies. Daar is waarde aan die inenting

Christelle ·

Dit is welgedaan geskryf! Bravo!!! Ek ondersteun jou!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.