Lesersbrief: SA’ners se China-uitlatings maak haar skaam

Anja Piketh skryf uit China:

Anja Piketh

Op 9 Februarie 2019, net minder as ‘n jaar terug, het ek die besluit geneem om my vlerke in die onbekende in te sprei en China toe te kom.

Bang-opgewonde en reg vir die nuwe fase in my lewe. Reg om my kennis oor te dra aan my studente, reg om nuwe mense te ontmoet, uit my gemaksone uit te kom en om geestelik en emosioneel te groei.

Ek het nie veel kennis oor China of die Chinese kultuur gehad nie, behalwe die bietjie navorsing wat ek gedoen het en die absolute verkeerde idee wat ons as Suid-Afrikaners oor China en sy mense het.

My mond het van die oomblik wat ek van die vliegtuig afgeklim het, oopgehang. Van dag een af is ek met ope arms ontvang en met soveel liefde en respek behandel. Die Chinese is behulpsaam en so ongelooflik vriendelik teenoor ons as buitelanders. Ek was absoluut verstom, want dit is nie wat vir my van die Chinese vertel is nie. Die Chinese is egter die gaafste mense wat ek al ontmoet het.

Ek het natuurlik nie ʼn jaar terug gedink ons gaan in die situasie sit waarin China tans is met die uitbreking van die nuwe koronavirus nie. Nie in my wildste drome het ek gedink dat ons vir twee weke lank in ons huise gaan wegkruip, dat dit soos ’n spookdorp gaan wees en dat mense gaan vrees vir hul lewe nie.

Die dodetal styg daagliks – sommer oornag – en mens is elke oggend te bang om na die jongste statistiek te kyk.

Vandag sit ek letterlik met my hart in my hand… die dodetal het weer skerp gestyg. My hart bloei, my hart is seer en ek kan nie help om in trane uit te bars nie. Soveel families wat deur soveel seer gaan en dan moet ek nog die aaklige uitlatings van my eie mense lees en hoor.

Nooit sou ek kon dink dat ek skaam sal wees om ’n Suid-Afrikaner te wees of dat ek sou skaam kry vir my mense nie. Ek het in twee gevalle – in ʼn sogenaamde Facebook-oorlog – met Suid-Afrikaners betrokke geraak. Mense wat sê “die Chinese verdien dit” en “hulle kry wat hulle toekom” – dit van mense wat hulself Christene noem. Ek het soveel gemengde gevoelens beleef, maar trots (om ʼn Suid-Afrikaner te wees) was beslis nie een van hulle nie.

Op my Facebook-blad het ek geskryf oor Suid-Afrika wat nie te lank terug nie ʼn listeriose-uitbreking gehad het. Die dodetal was aansienlik laer, maar nie een keer het enige iemand, veral nie ʼn Chinees, enige lelike- of seermaakdinge oor ons as Suid-Afrikaners uitgespreek nie.

Wat sê dit van ons as Suid-Afrikaners?

Hier is ʼn dodelike virus wat al honderde mense doodgemaak het en steeds voel ek veiliger in China as wat ek ooit in Suid-Afrika gevoel het. Ek hoef nie konstant oor my skouer te loer en my te bekommer oor my eie veiligheid nie. Ek hoef nie om 01:30 in die oggend my ma te bel om haar te vertel dat ons by die hospitaal is en so pas die slagoffers van ʼn gewapende roof was nie. Hier behandel die rykste persoon my, ʼn gewone mens, soos sy of haar gelyke. Niemand kyk op mekaar neer nie en almal het respek vir mekaar.

Ek glo en vertrou dat beter dae aan die kom is vir China, want wat tans gebeur, verdien die land en sy mense beslis nie.

Hou op om fopnuus te versprei en as jy niks goed, mooi of ondersteunend het om te sê nie, moet eerder niks sê nie. China gaan deur genoeg op die oomblik. Gebed, hoop, liefde en mekaar bystaan is al wat nodig is. Hulle is mense net soos ek en jy. Wat maak jou beter?

  • Anja Piketh is 30 jaar oud en woon in Nanjing, China waar sy die afgelope jaar Engels gee vir kinders tussen drie en 12 jaar oud.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Snowball ·

Solank gebed, geloof en hoop net so hard aangewend word om ons renosters te beskerm teen die wreedste dood denkbaar. Terwyl jy jou so skaam vir jou mede Suid Afrikaners, dink ook asb aan jou land se wildlewe wat ‘n absolute aanslag beleef danksy o. a Chinese se hunkering na renosterhorings. Kyk asb die film Stroop en kyk hoe voel jy as ‘n reuse dier lewend geslag lê en wag vir sy dood, terwyl sy kalfie in sy ma se bloed staan en wag vir haar om op te staan.

Wilhelm ·

Dit is nie die Chinese wat die renosters stroop nie!! Dis Afrikane ingesluit wittes wat hierdie wrede goed doen, dit op die mark aanbied en Oosterlinge, nie net Chinese nie, koop dit. Is jy net dom of verskriklik onnosel?

Strandloper ·

Miskien moet jy maar daai doepa try…you never know…

Misky ·

Ek stem saam met Anja. As jy niks goeds te se het van ander nie, dan bly jy eerder stil.

Ek het ook oor die laaste paar weke vandat die krisis uitgebreek het, gesien dat sommige mense aaklige goed skryf en amper asof hulle hulle verlekker in die krisis wat China beleef.

Kulture verskil en so ook eetgewoontes. En dis ons eie mense wat meestal renosters doodmaak vir eie gewin en geldgierig is.

Ek dink Mila en Snowball mis die punt – baie SAners verlekker hulle in ander se pyn en moet pasop, want karma is n snaakse ding

Snowball ·

Ek glo nie in karma nie, ek is ‘n Christen, daarom respekteer ek lewe, dié van mens en dier. Eetgewoontes en kultuur is een ding, bygeloof wat tot die verminking en dood van soveel diere ly, is iets anders.
Ongelukkig bestaan die stigma rondom die wreedheid en handeldryf met wildlewe reeds; en dis nie agv mense wat die pot mis sit, of nie die punt verstaan nie, maar agv beskikbare inligting aan almal wat toegang het tot die internet.
Die mens is verantwoordelik vir hoe hy met God se Skepping omgaan. Mors daarmee en dit het gevolge. So eenvoudig soos dit.

Erik ·

Anja, ek stem heeltemal saam met jou. Suid-Afrikaners, en veral Afrikaners, oordeel heeltemal te maklik.
Alle Chinese is nou sleg agv renosterstropery? Watter belaglike denkwyse! Dis soos om te sê alle Suid-Afrikaners is moordenaars, of alle Afrikaners is rassisties of vermoor hul gesinne uit.
Ek hou skool by ‘n multikulturele skool en die asiërs is by verre die slimste, hardwerkendste, vriendelikste en goed gemanierde kinders.
Ek voel jammer vir die ‘narrow minded’ Afrikaners wat hul eie lewens so beperk met hul eie suurgeid. Gelukkig is die meeste van ons nie so nie.

Smiley ·

Ag nee ou Erik daar veralgemeen en tipeer jy dan nou self. Hoe kom jy van ‘Suid Afrikaners’ by Afrikaners. Swak, baie swak.

Cherokee ·

Erik: “dankie tog èk is beter!”.
Een van daai ‘down thumbs’ was (ja jy raai reg) myne.

SomeOne ·

sterkstaan jonge dame, geniet jou tyd daar, ek bid ook vir die mense daar wat vrees vir hul lewens, die virus sal verslaan word, glo en bid saam met my

Jan ·

Hoe seker is julle dat die virus bestaan dit klink vir my na n grrot klugstorie met die doel om lekker geld te maak met die inentings wat op pad is..

Strandloper ·

Sjoe…hoe kry ek nou skaam vir myself…dankie kind dit was lekker om iets te lees wat opreg bedoel word. Ek dink jou ouers se harte swel van die trots!

Cherokee ·

Toe ek op skool was, was dit nog Sjina en Sjinese gewees.

Jeeper ·

My liewe Anja en jou ondersteuners,
Dit is duidelik dat jy en jou ondersteuners heeltemal geskei is van wat in China gebeur.
Dit is miskien tyd dat julle julle Sandton oogklappies afhaal en kyk wat regtig gebeur in China. Ek voel jammer vir die mense wat sterf / gesterf het en aangesteek is met die virus en nie deel was van die siek manier waarop diere behandel word. Die wat deel was daarvan het ek geen simpatie voor nie.
Mense in SA plaas die blaam vir die renoster stropery op die “locals” maar waar kom die aanvraag vandaan? Dink bietjie mooi hieroor, ons almal weet ons regering is maklik vir die tipe korrupsie.
Ons het twee siek gevalle gehad van honde wat mishandel was die afgelope twee / drie maande en die media het voluit gegaan. Kan ek vir jou videos stuur oor hoe diere geslag word in China? Ek neem aan dit gebeur nie in jou oogklappie visie nie.

Erik ·

So die virus tref hulle agv renosterstropery? Seker dan hoekom ons vandag so swaar kry…word gestraf vir apartheid.

Frank ·

Nee, omdat ons nasie so ver van Gof afgedwaal het. Short and sweet

Strategos ·

Anja, jy maak wilde aantygings en aannames en veralgemeen daarmee saam ook. Jy kan nie ‘n argument bou op een of twee sg. Facebook-oorloë nie. In plaas daarvan om ons wat hier in Suid-Afrika sit te kritiseer, pas jou eerder op waar jy in die reikwydte van die virus sit.

Snowball ·

Navorsing bewys nou dat die Ietermagog die draer is van die Coronavirus verantwoordelik vir die uitbreek tans in China. ‘n Spesie reeds gestroop tot op die rand van uitwissing. Hopelik sal wat nou in China gebeur, lei tot die verbanning van handeldryf in wildlewe, veral wildlewe wat gestroop word tot by uitwissing.

Hermann P ·

Ek het ‘n skrywe geplaas oor die Chinese se eet gewoontes. Dit is nie geplaas nie. Ek het geen idee hoehom nie, maar so het ek MM oor die jare leer ken.

Piet Snot ·

Anja, wil jy nie asb nou en dan (sê so elke week of twee) vir ons briefies stuur wat vertel wat jy in China beleef nie.
Om die gemiddelde Chinees meer mens te maak vir ons wat hulle nie ken nie.

Renier ·

Eks jammer, ek is keelvol vir die “ek skaam my vir my mense” nonsens. Ek volg al baie lank Winston van ADV China se kanaal, en het ‘n deeglike indruk van die sogenaamde gaafste mense ter wêreld waaroor die skrywer praat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.