Talle reageer op soekende student se vrae

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Die antwoorde stroom omtrent in na aanleiding van A de Jonge se brief – ʼn student wat belangrike vrae oor die lewe vra. Lees gerus haar brief hier.

Beste A de Jonge

Ek is van die ouer geslag, so dalk sal my aantekeninge in verband met die lewe en lewensgeluk jou nie aanstaan nie. Ek kan nogtans net vertel hoe ek die lewe ervaar het en hoe ek ook deur die jare sekere ambisies bevredig het, maar dit was belangrik dat ek dit nie gedoen het om ander mense tevrede te maak of in hul oë status te bereik nie. En ek kan jou verseker dat ek tevrede anderkant uitgekom het, terwyl dit vir my lyk of jy verwag om ontevrede en onvervuld anderkant te land.

Laat my begin by jou vakkeuses en jou loopbaankeuse. Soek leiding en raad, en besluit dan self, moenie iets doen omdat ander mense dink jy moet dit of dat doen nie. Kies die vakke om by jou gekose loobaan van die toekoms te pas, en jy sal sien as jy hierdie twee eers bymekaargebring het, sal jy uiteindelik in jou loopbaan ook gelukkig wees.

Ek het 40 jaar in my beroep, die joernalistiek, gestaan nadat ek, die telg van brandarm naoorlogse ouers, met bloedmin geld deur die universiteit moes beur. Daar wás eenvoudig nie geld vir jolyt en daardie ekstra plesiertjies waarvan jy praat nie. Ek wou bo uitkom, en ek hét bo uitgekom, want ek wou eendag gelukkig wees in my werk. Ek wou nie net werk om aan die lewe te bly nie. My loopbaan was 40 jaar van harde werk, op vakansiedae, op Sondae, dikwels snags, maar die hele 40 jaar was my beroep my stokperdjie. Dit was vir my heerlik en vervullend om dit te doen. Ek was gelukkig daar, want dis waar ek wóú wees, terwyl van my familie vroeër gedink het ek behoort eintlik ’n Spoorwegwerker te word, want dit bied darem ’n goeie en gereelde inkomste wat nie maklik sal doodloop nie. Probeer dus anderkant jou vakkeuse jou beroep raaksien, die beroep waarin jy gelukkig sal wees, en mik dan soontoe, dan sál jy uiteindelik gelukkig wees.

Toe het die lewensmaat-soekery gekom – ek is so half uit die ouerhuis gedwing omdat my ma kanker gekry het en elders moes gaan woon om versorg te kan word. Maar kies versigtig en moenie mislei word nie, en veral, moenie verlei word nie. Wees jouself, hou by jou beginsels, moenie verander omdat iemand anders jou anders wil hê of om iemand anders tevrede te stel nie. Wees jouself en jou lewensmaat sal dit waardeer en jou ook so behandel. Mits jy natuurlik dieselfde beginsel ook teenoor hom toepas. Maar hierdie wedersydse saamgroeiery sal net moontlik wees as daar sterk beginsels in jul lewe is, ’n sterk geloof in die hemelse Vader en sy leiding, en julle altyd saam na sy leiding soek.

Wanneer hierdie band gesmee is en daar gedink word aan ’n huis en ’n gesin, sal dit weer ’n kwessie wees van saamgroei en saamsmelt, want ouers en kinders kan ook nie apart groei en ontwikkel en dan verwag om gelukkig te wees nie. Die ouers ontwikkel as ouers, en die kinders ontwikkel as hul kroos, maar almal doen dit sáám en uiteindelik sal julle sáám gelukkig wees.

Moenie jou in jou jong dae steur aan boksies waarin jy regmerkies moet maak omdat iemand anders dit van jou verwag nie. Die lewe bestaan nie uit regmerkies nie, die lewe bestaan uit gelukmerkies. En hulle moet almal jou eie wees. Aanvaar dat daar nie elke dag net gelukmerkies sal wees nie, want dis nou maar soos die lewe is. Hy stel ook sy eise, partykeer onaangename eise.

Maar selfs daardie dae sal help om jou lewensgeluk wat baie groter en sterker en standhoudender sal wees as daardie eise nog verder te veranker.

En later in jou lewe sal jy die stadium bereik wanneer jy en jou geluk juis die bron sal wees waaruit ander weer húl geluk sal put, want hulle sal teer op wat hulle by jou beleef het, by jou gesien het, en hulle sal óók gelukkig wees as hulle die leiding volg wat jy vir hulle deur jou met geluk vervulde lewe uitgestippel het.

Hoeveel geluk jy in jou lewe beleef en opgaar, hang alles van jouself af, nie van die boksies waarin jy regmerkies maak omdat ander mense dit van jou verwag nie. Ek wens jou alles van die beste toe vorentoe. Mag jou keuses reg wees en jou visier ingestel wees op daardie geluk. En mag jy uiteindelik ’n kol skiet!

Groete

Ludwig Visser

Lees gerus nog briewe wat lesers aan A de Jonge geskryf het hier.

Hierdie rubriek is ʼn lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Johan Oosthuizen ·

Liewe A,

Toentertyd het ek vir elke duif wat ek geskiet het, ‘n kerfie op my kettiemikstok gemaak en onder my maters was dit ons statussimbool. Ek het ook gehoor hoe grootmense gepraat het van mense wat te veelop hulle kerfstok had. Nouja, die tyd het aangestap en deesdae tiek mense boksies af. Op die oog af kan daarin seker nie fout gevind word nie maar ‘n goeie ding kan ook onverwagse, verpletterende gevolge hê. Alles hang af van die ware rede waarom boksies afgetiek word. Gaan dit oor wat JY kan kry en bereik in die oë van ALMAL wat staan en kyk, of gaan dit oor wat jy kan GEE …? Tiek jy jou boksies met jou kop of jou hart af …?
Kom sit by my, dan vertel ek jou my storie. Ek het op hoërskool gou agtergekom dat ‘n mens boksies moes aftiek om “bo” uit te kom. My eerste boksie was om met die mooiste meisie in standerd 7 “gekys” te raak terwyl ek nog maar ‘n nikswerd standerd 6’ie was. Daarna is ek gekies as lid van die gesogte Volkspele demonstrasiegroep en het ‘n rol in die opvoering van ‘n Kantate losgeslaan – nogal! Toe formidabele redenaar, later CSV voorsitter en uiteindelik Prefek. Ek het baie gewroeg omdat ek nie die Eerste Rugbyspanboksie kon aftiek nie. Ook nie die voltal onderskeidings toe die matriekeksamenuitslae bekendgemaak is nie!
Op Onderwyskollege het ek gou agtergekom dat dat daar hope boksies was wat kon en afgetiek MOES word. Wenner van die eerstejaarsredenaarskompetisie. Voorsanger in die Ambassadeurskoor. Voorsitter van die CSV. Stigter van die Avonturia bergklim- en voetslaanklub. Huiskomiteelid en uiteindelik lid van die Studenteraad. ‘n Gesiene en gewaardeerde lid van die studentegemeenskap …
Ek het begin skoolhou en die opgestapelde boksies MOES afgemerk word. Sommer gou jeugdiaken en toe leierdiaken, lid van die Heldedag- en Geloftefeeskomitees, Voortrekkeroffisier en later kommandant. As onderwyser was ek gou senior-assitent en toe het ek tot die bevorderingswedloop toegetree. Elke paar jaar het ons (eintlik EK) agter bevordering aan getrek. Die boksies is een na die ander afgetiek. Departermentshoofposte, Adjunkhoof en toe Skoolhoof.
Daarbenewens was daar die stapel boksies vir diens aan volk en vaderland. Nasionale Party Jeugbond, Junior Rapportryers, Rapportryers, FAK, Landsberade, geheime organisasies en die soort goed. Ek was ‘n gesiene man wat die regte boksies afgetiek het en sekerlik die TROTS van my vrou en kinders. So het ek gedink. Hoe dan nou anders?
Dis toe ek skoolhoof geword het het dat ek begin wonder het of die laaste boksie wat ek afgetiek het, die moeite werd was. Ek was nie ‘n kantoormens nie. Intussen was ek vir jare lank betrokke by die aanbieding van leierskursusse by die destydse Veldskole en toe een van die hoofde my genader het om Veldskole toe te skuif, het ek die geleentheid aangegryp. Weer eens het ek my gesin ontwortel, onder die waan dat ek dit alles ter wille van hulle doen en bowendien was daar nuwe boksies af te tieke om te bewys hoe ‘n suksesvolle pa en eggenoot ek was.
My oudste dogter was op Tukkies en my tweede dogter was met die intrapslag in die nuwe skool op die leerlingraad verkies. Nog twee goue boksies afgetiek. My oudste seun was nie aanvaarbaar vir die modelseuns nie en die amokmakers het hom vinnig ingetrek. So min of meer ‘n skande en die bitterste pil wat ek nog gesluk het. Vir die eerste keer is ek vir die verkeerde redes deur die skoolhoof na sy kantoor ontbied. Ondenkbare vernederings … My seun voorbok onder die molesmakers.
Dis toe een aand dat die beste ding wat ooit met my kon gebeur het, gebeur het. ‘n Verpletterende neerslaanhou wat my die geleentheid gegee het om op te staan en voor te begin. Die skoolhoof het my gebel en verwittig dat my seun en sy maters die aand by die sokkiejol gedrink het. Ek het by die huis op sy tuiskoms in die deur vir hom gestaan en wag. Hy het my in die deur sien staan en voordat ek ‘n woord kon inkry het hy aangeval. “Die hoof het pa seker gebel gebel en vertel dat ek gesuip is maar dis alles Pa se skuld!” Ek was te uit die veld geslaan om terug te slaan en het verslae en verslane geluister. Hy het onstuitbaar onder my ingeklim en toe onder vriende, onderwysers, ouderlinge, predikante en andere ingeseil. “Julle is die hoog heiliges maar ons ken julle soos julle regtig is!” Vreesloos het hy alles tot op die been oopgevlek en ek was te verslae en skuldig om terug te veg. Ek en al my hogere vriende se boksies was aan flarde geruk. Ek was kaal gestroop – die afwesige pa vir my kinders en die afwesige man vir my liewe vrou.Die res van die storie is nie nie ter sprake nie maar dit was die beste ding wat ooit oor my pad kon kom. Dit het die weg gebaan om voor te begin nadat ek myself deur die oë van my kind, wat slagoffer was terwyl ek boksies afgetiek het nie, kon sien.
Kort daarna het ek en my ou groot maat by ‘n vuurtjie sit en murgbene uitstamp en oor die groot LEWE gesels. Ek het hom my storie vertel en ons het diep besin. Voordat die kole as geword het, het hy sy hand op my skouer gesit en iets gesê wat my lewe verander het. “My ou maat, dit gaan nie oor hoeveel boksies ons aftik nie. Dit gaan oor hoekom ons boksies aftik. Dit gaan nie oor wat ons kan KRY nie, maar dit gaan oor wat ons kan GEE. Dit maak nie saak hoeveel en watter boksies ons aftik nie maar as ek vanaand my kop op die kussing sit en ek het nie vir iemand ‘n verskil gemaak nie, het ek ‘n dag van my lewe gemors.” Sy kosbare, waar woorde het die weg gebaan vir ‘n nuwe begin – nie om te kyk wat ek kan kry nie maar wat ek kan gee.
Vandag staan ek nie trots en selfvoldaan, dalk verwaand, voor my boksiemuur nie, maar ek sit dankbaar en delf in my mandjie van herinnering. ‘n Ma staan jare nadat ek afgetree het voor my uitstaltafel tydens die KKNkunstefees en kyk na my sleutelhouers. Sy tel toe ‘n leersleutelhouer met die woorde “Ek het die arendlewe gekies” op en kyk my in die oë met die vraag: “Jy’s nie dalk oom Johan nie?” Ek het bevestigend geantwoord, haar oë het vogtig geraak en haar woorde was musiek in my ore: “Dan is jy die man wat my afvlerkkind weer laat vlieg het. Vandag sweef sy tussen die arende!”
In 2002 het ek tydens die Londonse UKkasiefees weer ‘n stalletjie gehad en ‘n jong dame het my goedjies deurgekyk. Toe sy by die sleutelhouers kom het sy skielik uitgeroep: “Oom Johan! Onthou oom my?” Voordat ek verleë ontkennend kon antwoord, het sy verder oorgeborrel: “Onthou oom in 1991 tydens die hoofleierskursus, die oggend, na die arendlesing, het oom onder Sommerreg se akkerboom vir my gevra hoekom my oë nie blink nie. Toe’t ek mos in trane uitgebars en oom het my uit die diep gat uitgehaal en weer leer vlieg!” Sy haal toe ‘n sleutelhouer uit haar handsak met die woorde “Ek het die Arendlewe gekies”, en wys dit vir my. “Oom het die sleutelhouer vir my gegee die dag toe ons gegroet het. Ek het begin sweef en ek sweef vandag nog! Ek het medies gaan swot en ek praktiseer in Suid-London.” Nog musiek in my ore!
Later het ek weer in Engeland begin skoolhou en ‘n pad met ‘n kollega se seun begin loop. Nou die dag kry ek toe ‘n E-pos van sy ma: “Just to let you know. Trevor has just graduated. Thanks to you who, for four years, were the Dad he never had.” Dit was my voorreg!
Vir oulaas het ons twee jaar van ons lewe gegee om in Thailand te gaan help met kerkplanting. Om die pot aan die kook te hou het ek weer skoolgehou. Na ‘n ruk is ek dikwels nie meer as Teacher aangespreek nie, maar Dad. Terug in S.A. korrespondeer ons nog met die Koreaanse sendelinge en gemeentetjie se predikant en ons word steeds “Father and Mother” genoem.
Nou na dertien jaar in die buiteland en oppad tagtig toe is ons terug op Riversdal met ‘n uitdaging wat in ons harte brand: Om ‘n verskil te maak vir bejaardes wat afgeskeep, weggegooi en vergete is. Om te gee, verruim die hart van die gewer en verbly die hart van die ontvanger.
Met groot vreugde kyk ek vandag na my kinders wat almal hulle boksies afgetiek het maar met harte om vir ander ‘n verskil te maak. En my rebelseun? Hy is gelukkig getroud met sy droomvrou en hulle spog met ses woelwaters wat tuisskoling ontvang. Vroeg soggends geniet hulle vrolike gesinsuursaamwees voordat die dagtake begin. Later sien ek hom as hy ‘n kleinding wat in die dorings beland het optel, dorings uittrek, trane afvee, vertroos en verder op sy rug dra. Ek hoor hom wanneer hy sy kinders leer wat reg en verkeerd is. Saans sien ek hoe kleingoed op sy skoot aan die slaap raak voordat hy hulle bed toe dra.
Ons mag maar boksies aftiek want ons moet nooit ophou strewe nie, maar in ons strewe om te bereik en te verwerf moet ons aan ander GEE want dit word ons bron van ware vreugde. Ons wonder nooit of wat ons gedoen het dalk verkeerd was nie. Ons WEET dit was reg. Ons GEE maak dit moontlik vir ander om hulle boksies wat saakmaak af te tiek en uiteindelik kan ons saam skep uit ’n onuitputlike bron van lewensvreugde.

Peet Schabort ·

Sjoe, ware woorde van Ludwig en Johan en waarop A. de Jonge gerus kan ag slaan.
In my engelse klas jare gelede onthou ek die volgende: “Small things make perfection but perfection is no small thing”.
Onthou ook dat wat vir jou ‘n klein probleempie is kan vir iemand anders ‘n bykans onoorkomelike probleem wees. Handel daarvolgens en luister na die seer van ander want mense in nood en wat seer het wil gesels daaroor. Moet nooit die spot dryf met iemand anders se gebreke want onthou dat jy ook joune het.
Wees ten alle tye net jou eie self want jy is uniek in hierdie lewe. Voor jou was daar niemand soos jy en na jou sal daar ook nie weer iemand wees soos jy. Dit ook is die WONDER van die SKEPPING.

Magda ·

Goed gesë Peet. Stem saam met Oom Johan gee is lekkerder as om te ontvang

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.