500 jaar van die Protestantse gesangeboek

Die agt-liedere-druk van 1524 (Foto: Wikipedia)

In 2017 het die Protestantisme die 500-jarige herdenking van die Reformasie gevier met talle spesiale feesgeleenthede reg oor die wêreld. Min mense (minstens in suidelike Afrika) weet egter dat volgende jaar weer ʼn jaar van groot historiese belang gaan wees.

Die 500-jarige bestaan van die Protestantse gesangeboek word dan herdenk en gevier; en hopelik met talle luisterryke musikale geleenthede in kerke, skole en teaters. Aangesien 2024 ʼn groot en belangrike jaar vir Protestante (of evangeliese Christene soos wat hulle aanvanklik na hulle self verwys het) is, verskaf ek graag historiese inligting vir gebruik deur mense met ʼn musikale en historiese belangstelling, in die vertroue dat hierdie saak van hier af die nodige aandag sal geniet.

Oorsprongdatum van die gesangeboek

Volgens die nuutste navorsing[i] word die eerste stap in die ontstaansgeskiedenis van die Protestantse gesangeboek gevind in ʼn brief[ii] wat Martin Luther (1483 – 1546 n.C.) teen die einde van 1523 aan Georg Spalatin (1484 – 1545 n.C.), die sekretaris van keurvors Frederik die Wyse van Sakse, gestuur het.

In hierdie brief versoek Luther vir Spalatin om by die keurvors voorspraak te maak om ʼn projek te ondersteun wat sou uitloop op die publisering van ʼn gesangeboek. Hy versoek Spalatin self, om as ʼn begaafde skrywer saam te werk aan die skryf van bruikbare gesange en die omdigting van Psalms. Spalatin moet ook sy invloed gebruik om ander begaafde Duitse digters te oorreed om aan hierdie projek saam te werk. Hy beveel aan dat die digters sy uitleg van die sewe “Boetepsalms” asook die Psalms wat oor genade en barmhartigheid handel (Psalm 6, 32, 34, 51, 104, 130, 143) gebruik vir hulle eerste pogings.

Luther wou dus aanvanklik ʼn Psalmboek produseer, met singbare tekste en melodieë. Hierdie ideaal is nooit verwesenlik nie. Talle Psalms, soos Psalm 130[iii] “Uit diepe nood roep ek na U”, is egter wel in gesangeboeke opgeneem.

Volgende stappe na die ideaal

In 1524 verskyn die eerste liedere in druk; en wel as een-blad-drukke, waarvan net vier manuskripte in bewaring gebly het. Die volgende liedere het die drukpers gehaal: “Nou verheug julle, liewe gemeente van Christus”; “God wil ons genadig wees”; “Geloof sy U, Jesus Christus en Jesus Christus, ons Heiland”.

Die volgende stap was die Agt-liedere-druk, ʼn oornag versameling van die een-blad-drukke, deur die drukker van Nürnberg, Jobst Gutknecht. Hierdie druk kan nie as ʼn boek gereken word nie, aangesien dit slegs ʼn saamgroepering van die enkel-blad-drukke was. Een lied wat nie van Luther was nie, maar van Paul Speratus, “Dit is die heil wat na ons gekom het”, het ʼn verduideliking gehad oor hoekom die gemeente hierdie lied met ʼn goeie gewete kan sing: Hierdie, soos ook die ander liedere, is Skrifgetrou en dien die saak van die Reformasie. ʼn Drukker uit Augsburg, Melchior Ramminger, het in 1524 nog ʼn eksemplaar gedruk, aangesien hy die winsgewendheid van hierdie bedryf besef het.

Martin Luther kap sy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg vas (Foto: Wikipedia)

In Erfurt, verskyn daar gedurende 1524 twee uitgawes van ʼn Enchiridion of ʼn Handboekie van geestelike Gesange [Handbuchlein geistlicher Gesänge]. Die eerste was waarskynlik van die drukker Johann Loersfeld, terwyl ʼn latere, konkurrerende uitgawe uit die stal van Matthes Maler was. Spoedig daarna, is talle versamelings van kerkliedere in Nürnberg, Breslau, Augsburg en Zwickau gedruk. Hierdie gesangeboekies het almal die titel van Christelike gesange en Psalms gehad. Hulle was almal tussen 16 en 96 bladsye lank, en daarmee het die Protestantse gesangeboek-kultuur begin.

In dieselfde jaar, 1524, is daar ook in Wittenberg, by Josef Klug, ʼn gesangeboek gedruk. Die Geestelike Gesangeboekie (Geystliche gesank Buchleyn), saamgestel deur die “oerkantor van die Reformasie”, Johann Walter het 32 liedere, waarvan 24 uit Luther se pen afkomstig was, gebruik. Hy het ook ʼn lied van ʼn vrou, Elisabeth Cruciger, ʼn vriendin van Philipp Melanchthon, in hierdie publikasie opgeneem (ʼn ongekende stap vir daardie tyd). Met hierdie koorgesangeboek wou Walter en Luther die Duitse bevolking deur kerkkore leer sing.

Luther het ook ʼn belangrike voorwoord vir hierdie publikasie geskryf wat die rigting aangedui het wat van toekomstige gesangeboeke verwag sou word. Almal moet weet dat dit goed en aanneemlik vir God is, dat die gemeente Psalms en gesange tot sy eer sing (1 Korintiërs 14:15-26; Kolossense 3:6). Skrifgetroue gesange is ook evangelieverkondiging, en kan daarom nie gering geskat word nie. Laastens kan alle musiekinstrumente gebruik word ter begeleiding van die koorsang.

So het Luther die fondament gelê vir ʼn singende Christendom, en is dit geen verrassing nie dat die Lutherse Kerk komponiste soos JS Bach en GF Händel kon oplewer nie; beide kenners van Luther se teologie.

Die koorgesangboek van Walter was nie bedoel vir gemeentesang nie. Eers in 1526 is daar ʼn gesangeboek vir die gemeente in Wittenberg gedruk met die titel ʼn Handboek van geestelike gesange en Psalms vir die gemeentelede (Enchyridion geistlicher gesenge vnd psalmen für leyen). Die bundel het 42 nuwe gesange bevat, plus ʼn aanhangsel van Bybelse liedere soos die Magnificat en die Benedictus, asook liedere waarin die Onse Vader uitgelê is, en ander wat geskik was vir gebruik tydens sakramentsbediening. Teen 1526 was die kerk gereed om gesangeboeke te produseer, en alles danksy die fondament wat in 1524 gelê is.

“Wees nou bly” deur Martin Luther (Foto: Wikipedia)

Luther se gesange[iv]

Binne die beperkte ruimte tot my beskikking, wil ek tog één opmerking oor Luther se digwerk maak. Sy eerste lied, was ʼn reaksie op die moord op twee Vlaamse lede van die Augustynse emeriete-orde (die Roomse orde waaraan Luther behoort het), op 1 Julie 1523.

In die lig van die openbare verbranding van Hendrik Vos en Johannes van Esschen in Brussel, het die gesang “Ons laat ʼn nuwe lied opklink” (Ein neues Lied wir heben an), ontstaan. Naas Bybelse temas, was Christen-martelaarskap en bestaansbedreigings motiverings vir die skep van gesange. Die “volkslied” van die Reformasie, “ʼn Vaste burg is onse God” (1529)[v], is die bekendste voorbeeld vir die motief van bedreiging.

Die belangrikheid van ʼn gesangeboek

Die Reformasie het die Christendom leer sing en het die Protestantse Kerk (of die Evangeliese Kerk) ʼn singende kerk gemaak. Vanselfsprekend is daar vóór die Reformasie ook per geleentheid gesing, maar sang was nie ʼn vaste element van die liturgie nie.

Martin Luther het op 5 Oktober 1542, met die inwyding van die kasteelkerk in Torgau (die eerste kerkgebou wat deur die Protestante self gebou is), die volgende gesê oor gemeentesang: “ʼn Kerkgebou is ʼn ruimte waar God met ons deur sy Woord praat, en ons met Hom deur gebed en sang. ʼn Erediens is daarom aktiewe verhoudingsgebeure tussen God en mens, waar mense saam met ander, met God kan kommunikeer. In die lig hiervan moet gesê word dat gemeentesang ʼn kenmerk van die ware kerk is, en daarom het hulle gesangeboeke nodig.”

Daar word beweer dat daar tot hede 100 000 Duitse gesange geskryf is, waarvan 30 000 in gesangeboeke opgeneem is. Na die Tweede Wêreldoorlog, het ʼn Christelike jeugvereniging byvoorbeeld 14 miljoen eksemplare van ʼn gesangeboekie van 64 bladsye, genaamd Die Mundgordel, teen 50c elk verkoop. Dit is onmoontlik om ʼn skatting te maak hoeveel liedere in die res van die Protestantse wêreld gedig en in gesangeboeke opgeneem is. Die getal verkoopte gesangeboeke moet miljarde wees.

Martin Luther (1483-1546) bespeel die lier, soos uitgebeeld deur Emilio Castelar (Foto: leemage / Leemage via AFP)

In Suid-Afrika alleen, is daar seker sedert die sewentiende eeu miljoene der miljoene eksemplare verkoop. Onthou, ons praat nie net van Afrikaanssprekende kerke nie, maar ook van die Engelssprekende Protestantse kerke soos die Presbiteriaanse Kerk!

Naas die Bybel, was die gesangeboek ʼn kosbare besitting van Christelike huishoudings. Al word daar deesdae min van hardekopie-gesangeboeke gebruik gemaak, sien kerkgangers, begrafnisgangers en trougaste die Psalms, Gesange en VONKK-liedere op ʼn skerm en sing saam. Al kan ons nie as ʼn singende volk beskryf word nie, is kerksang, koorsang en solo-sang van geestelike liedere tog ʼn belangrike element van ons volkslewe. Minstens om hierdie rede behoort 2024 ʼn jaar van die kerklied te wees.

ʼn Beroep word op kerkrade, orreliste, koorleiers en solo-kunstenaars gedoen om 2024 te vul met ou en nuwe gesange wat aan hoë taalkundige, estetiese en teologiese standaarde voldoen.

Geen datum word vir ʼn fees voorgeskryf nie, aangesien die 1524-publikasies nie ʼn dag of maand op die voorblad afgedruk het nie. ʼn Vaste oorsprongdatum in 1524 bestaan ongelukkig nie, en daarom moet daar self op ʼn gepaste dag en datum besluit word.

Bronne

[i] Johannes Schilling en Brinja Bauer, 2023, Singt dem Herrn ein neues Lied: 500 Jahre Evangelisches Gesangbuch, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

[ii] WA Br 3, 220, nr. 698.

[iii] Hierdie Psalm is alreeds vóór 1524 deur Luther omgedig, en toe later as  ʼn een-bladsy-stuk gedruk en verkoop.

[iv] Betroubare inligting oor die Luther-gesange kan gevind word by: Jürgen Heidrich & Johannes Schilling, 2017,  Martin Luther: Die Lieder, Reclam-Verlag, Stuttgart asook Martin Geck, 2017, Luthers Lieder: Leuchttürme der Reformation, Georg Olms Verlag, Hildesheim.

[v] Die lied is in 1527/28 geskryf, maar is eers in 1529 gepubliseer. In hierdie lied kom Psalm 46 en die eksistensiële bedreigings van daardie tyd saam. Die melodie is vermoedelik ook uit Luther se pen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Waar pas die Hallaluja-liedere in wat die oumense so gereeld gesing het ook by huisgodsdiens. Daar is pragtige melodieë met sielsverrykende versies.

Willem ·

Ongelukkig is die Psalm en Gesange boek nie meer goed genoeg nie . Daar moet nou ‘n dansende melodie wees met tromme /kitaar / simbale / ens by wees – om nie te praat van die dansende dames met hande omhoog. God moet met respek en eerbied behandel word – wonder wat sal jou aardse pa se as jy so’ met hom praat – miskien onmiddelik stuur vir mediese behandeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.