60 jaar gelede: die Berlynse Muur verrys

(Foto: GERARD MALIE/AFP)

Wanneer ʼn mens “Berlyn” hoor, is die eerste gedagte wat by die meeste mense opkom seker die val van die muur. Dis nou al meer as 30 gelede (sedert die einde van 1989) dat die muur geval het – langer as wat dit bestaan het.

Dit is byna oornag op 13 Augustus 1961 opgerig toe die Koue Oorlog op sy hoogtepunt was. Die besluit om ʼn muur regdeur Berlyn asook reg rondom Wes-Berlyn te bou, is deur die leierskap van die destydse Sowjet-Unie geneem, maar deur die Oos-Duitse kommunistiese leierskap uitgevoer.

In Oos-Duitsland, oftewel die “Duitse Demokratiese Republiek” (DDR) het Walter Ulbricht, aardskommunis, en sy Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (SED) nog kort voor die bou van die muur ontken dat daar sulke planne bestaan. Toe dit wel inderhaas opgerig is, het Ulbricht en sy opvolgers dit as die “beskermingswall teen fascisme” verdedig, in die tipiese kommunistiese verdraaiing van feite. Fascisme het lankal nie meer bestaan nie, en die muur was nie ʼn beskerming teen iets nie; dit was bedoel om die DDR se eie burgers in gevangenskap te hou.

Dit het vir die wêreld gewys dat sosialisme net met dwangmaatreëls in stand gehou kan word, want min mense bly vrywillig in ʼn stelsel wat armoede en onderdrukking bied. Uit die oogpunt van Oos-Duitsland was die muur vir hul eie behoud nodig, om te keer dat die land deur die vlug van sy bevolking deur die skuiwergat Wes-Berlyn doodbloei, al is die oprigting na buite ook met kamstige “imperialistiese aggressie” en die Weste se onwilligheid om in te stem dat Berlyn “‘n verenigde vrystadt” (onder de facto-beheer van die DDR) word, geregverdig.

Op 13 Augustus 1961 het veiligheidsmagte van die DDR, ondersteun deur Sowjetse troepe op gereedheidsgrondslag, alle pad- en spoorverbindings tussen Oos- en Wes-Berlyn beset. Dit was in verbreking van die Berlyn-statuut van die vier oorwinnaarsmagte, maar die Weste was nie bereid om dalk ʼn Derde Wêreldoorlog oor ʼn halwe stad te ontketen nie en het net verbaal protes aangeteken.

Nadat die verbindings deur troepe afgesper is, het die bou van die eintlike muur langs die grens van die Sowjetse sektor wat in die middel van die stad deurgeloop het, begin. Messelaars is aangewys om alle oorgange tussen die twee dele toe te bou. Mense het inderhaas uit Oos-Berlyn probeer vlug waar die muur nog nie voltooi was nie. Selfs deure en vensters van huise teenaan die muur is toegemessel om die vlug te keer en die eintlike muur is nog versterk deur die “Todeszone” (doodsone) – met wagtorings, doringdraad en skietinstallasie.

Vir die stad, wat ten spyte van die politieke verdeling tussen die Westelike sektore en die oostelike deel onder beheer van die SED ʼn organiese geheel was met veel daaglike heen-en-weer beweeg vir werk, inkopies en/of kuier, was dit ʼn groot ontwrigting. Families en vriende is skielik uitmekaar geskeur, en woonbuurte het hulle eenheid en funksionaliteit verloor. Honderdtalle pogings het plaasgevind om die muur op allerhande maniere te oorkom, soos om tonnels te grawe, deur die Spreerivier te swem, oor die muur te vlieg met selfgeboude vliegmasjiene, of deur mense in kratte uit te smokkel. Meer as 5 000 vlugpogings was suksesvol, waarvan meer as 10% deur DDR-grenssoldate was wat gedeserteer het. Meer as 200 mense moes hulle drang na vryheid met hulle lewens betaal, want die grenswagte is aangewys om op voortvlugtendes te skiet.

Met die inploffing van die Sowjet-Unie en sy satellietstate soos die DDR het massas betogers in Oos-Duitsland die opening van die grense geëis, wat op 9 November 1989 eerder terloops tydens ʼn perskonferensie toegestaan is en ’n massabeweging aan die gang gesit het wat nie meer gekeer kon word nie.

Die muur is fisies in die volgende maande opgebreek deur mense wat oral gate ingekap het, of deur amptelike verwyderings van die betonpanele. Vandag is daar min sigbare spore van die muur oor, trouens, as ʼn mens nie weet waar dit eens gebou was nie, sal jy nie die oorgang tussen Oos- en Wes-Berlyn sien nie. Daar is wel heelwat herinnerings in die vorm van die Muurmuseum by Checkpoint Charlie, die Muur Herdenkingsplek by Bernauer Strasse en die East Side Galery, waar muurstukke met skilderye op meer as ʼn kilometer lank strek. Betonbrokstukke van die muur is ʼn gesogte aandenking. Daar is ʼn stap- en fietsroete langs die voormalige muur, asook langs die grens rondom Wes-Berlyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

sydney ·

Dankie vir die verfrissing van die geheue! En die stelling dat die muur gebou is om die mense van Oos-Berlyn in gevangeneskap te hou, inderdaad korrek wat die Oos-Duitsers betref; tog wil ek glo ons sal in die toekoms soortgelyke stappe moet neem om ons eie staat te beskerm!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.