70 jaar gelede: Volksopstand in Oos-Duitsland

‘n Banknoot van die destydse DDR met ‘n portret van Karl Marx (Foto: Wikipedia)

Sewentig jaar gelede, op 17 Junie 1953, het in Oos-Duitsland, ook bekend as Duitse Demokratiese Republiek (DDR), ʼn opstand teen die kommunistiese bewind uitgebreek.

Dit was die eerste opstand in een van die kommunistiese state van Oos-Europa. Ook in ander kommunistiese satellietstate in Oos-Europa sou nog soortgelyke opstande uitbreek, soos in Hongarye in 1956 en in Tsjeggo-Slowakye in 1968, wat eweneens bloedig onderdruk is.

Die kommunistiese bewind van die DDR was nog nie sterk gevestig nie en was nog in die proses om die samelewing om te keer deur middel van die afskaffing van die federale stelsel, deur grondonteiening en die uitskakeling van Christene en burgerlikes as faktor.

Die onmiddellike oorsaak van die opstand was die verhoging van die produksiedoelwitte. Dit het beteken, dat die werkers meer produktief moes wees sonder om meer betaal te word. Ook op die platteland was groot ontevredenheid onder die boere wat deur die kommuniste onteien sou word. Die opstand het op 16 Junie begin onder die bouers in Oos-Berlyn, die hoofstad van die DDR.

Hier wou die bewind ʼn argitektoniese vertoonvenster, die Stalinallee-pragstraat, oprig en het die bouers gedruk om die werk aan woonstelle vir die elite vinniger klaar te maak. Die bouers het daarteen betoog en die opstand het vinnig versprei na ander bedrywe en ander dele van die land. Die eise van die opstandelinge het wyer gestrek as die terugname van die verhoogde arbeidsnormes. Dit was ʼn algehele verwerping van die kommunistiese bewind van die leier Walter Ulbricht en sy Sowjetunie-meesters.

Die mense het vrye verkiesings, vrylating van politieke gevangenes en selfs ʼn hereniging van Duitsland geëis. Daar was betogings en stakings, openbare geboue is bestorm en beset. Sowat een miljoen mense het op een of ander manier aan die opstand deelgeneem, wat sy hoogtepunt op 17 Junie bereik het en wat geen leier en geen organisasie gehad het nie. Die ontevredenheid was nie net in die boubedryf nie, maar feitlik orals en oor alle klasse van die samelewing. Dat veral die werkers, vir wie se belange die kommuniste na bewering veg, in opstand gekom het, was vir hulle ʼn bitter pil. Dit het al destyds gewys dat kommunisme een gruwelike misleiding en onderdrukking onder die dekmantel van gelykheid en beter lewensomstandighede was.

Die troepe van die DDR was nie opgewasse om die opstand te onderdruk nie en het die hulp van die Sowjetunie ingeroep, wat die opstand op sy gebruiklike brutale en genadelose manier met tenks en sowat 20 000 soldate onderdruk het. Meer as 50 betogers is gedood en meer as 15 000 is in hegtenis geneem. Dat die Westerse magte VSA, Brittanje en Frankryk, wat in Wes-Berlyn gesit het en nie ingemeng het teen die Sowjetiese opmars nie, was teleurstellend.

Aan die een kant wou niemand ʼn Derde Wêreldoorlog so kort na die Tweede Wêreldoorlog waag nie, aan die ander kant kon dit die kommunistiese mag laat tuimel het, die opstand na ander kommunistiese lande laat versprei en die Koue Oorlog net daar beëindig het. 1989 se gebeure sou al in 1953 plaasgevind het en ons sou ʼn heel ander wêreld gehad het sonder kommunisme met al sy wandade.

Die DDR-bewind het daarna sy binnelandse onderdrukkingsapparaat, by name die berugte Staatssicherheit (“Stasi”), massief uitgebou. Die mense se vryheidswil was gebreek en ʼn nuwe generasie het 36 jaar later, in 1989, eers weer in opstand gekom. Toe was die internasionale omstandighede egter heel anders en die Sowjetunie het nie meer sy satellietstate militêr te hulp gesnel nie.

Vir amper 40 jaar was die 17de Junie in Wes-Duitsland, oftewel die Bondsrepubliek van Duitsland, die nasionale gedenkdag onder die naam “Dag van die Duitse Eenheid”. Eers in 1990, met die werklike vereniging van die twee Duitse state, is dit vervang met 3 Oktober as nasionale gedenkdag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joe ·

Mooi geskryf, Sebastiaan! Dit som ons eie situasie perfek op. Die ANC ‘regering’ is ‘n spul deurtrapte self-erkende kommuniste en Putin-apologete. Wat Mnr Biehl hier beskryf is die mislukking van die kommunistiese droom. Dit is ook wat ons ‘regering’ vir ons beplan. Dieselfde onderdrukkende outoritêre regime wat Putin vir die res van Europa beplan. Dink maar mooi voor jy hom ophemel en sy gedrag probeer goedpraat. Putin het eenkeer in ‘n onderhoud gese die grootste teleurstelling in sy lewe was die ineenstorting van die Sowjet-Unie. Dit is sy droom om dit ‘in ere’ te herstel. Gaan vra maar enige persoon op die strate van Praag, Budapest, Oos-Berlyn, ens. of hulle graag weer onder so ‘n bewind wil wees. Ek het dit gedoen. Hulle kyk jou aan of jy mal is deur so ‘n vraag eers te vra. Die Oekraniers se reaksie op die aanval op hulle land is dus glad nie ‘n verrassing nie. Hulle besef baie goed wat hulle nie wil he nie en is bereid om die hoogste prys te betaal om dit te keer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dan is die keuse eenvoudig. Dis óf Neo-Nazis óf ‘n kommunistiese regime. So was dit ook voor 1939. Snaaks hoe die geskiedenis homself herhaal.

Joe ·

Ons herken almal Marx se gesig aan die regterkant van die banknoot bo-aan die artikel, maar ek wonder wat die simbool direk links van die woord “Hundert” beteken??

Andre ·

Dis die simbool van die DDR- die hamer (vir die werkers in die fabrieke), die kompas/passer (vir die intelligentsia) en die ring van rog (vir die boere)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.