Absa-lening: Reserwebank se rol in banksektor

sa-reserwebank

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Foto: Resbank.co.za

Deur Adam Jacobs

Die afgelope paar weke woed daar ʼn hewige debat, soms met eienaardige sienings, oor die lening wat die Reserwebank in die vroeë negentigerjare aan Absa toegestaan het.

Ek gaan die vraag in perspektief probeer stel sonder om te poog om aan te dui wie reg is en wie is verkeerd. Ek was in daardie tyd ʼn personeellid van die Absa-groep, maar was geensins betrokke by die gebeure en onderhandelinge wat tot die transaksie aanleiding gegee het nie. Elk van die partye moet dus maar die nodige inligting verskaf.

In die vroeë sestigerjare was ek ʼn student aan die Universiteit van Pretoria en was bevoorreg om in die geld-en-bankwesekursus vir prof. Gerhard de Kock as mentor te hê. Ek onthou dit soos gister dat hy dit aan ons verduidelik het dat 90% van wat in die Bankwet staan, nodig is om deposante, dit wil sê spaarders, se geld te beskerm. Om dié rede is daar by die Reserwebank die banktoesighouding-afdeling, wat moet toesien dat banke aan sekere vereistes voldoen om primêr na deposante se belange om te sien.

Hierdie saak staan sentraal in die verhouding wat die Reserwebank met die banke het bo en behalwe die ander funksies van die Reserwebank waarop nie nou ingegaan word nie.

Oor die jare het die reëls van toepassing op banke verander, juis met voorgaande doel voor oë. So byvoorbeeld, moet banke tans deurgaans ʼn minimum van 12,5% eie kapitaal en reserwes handhaaf teenoor lenings wat toegestaan word en word lenings geklassifiseer volgens hul risikoprofiel. Hoe hoër die risiko, hoe groter ook die bedrag aan eie kapitaal en reserwes wat gehou moet word. Dit beperk banke se vermoë om onbeperk en veral hoër risikokrediet te verleen. Dan is daar likiditeitsvereistes waaraan banke moet voldoen. Dit is om te verseker dat deposante ten alle tye toegang tot hulle geld kan bekom indien op aanvraag gehou of by vervaldatum van deposito’s.

Ten spyte van streng beheermaatreëls kan dit tog gebeur dat banke probleme ervaar en dat deposante se geld dan in gedrang kan kom. Om dié rede gaan die Reserwebank verder, nie net by ons nie maar ook internasionaal, om as lener vir banke in die finale instansie op te tree. Sou die Reserwebank weier om hulp te verleen, deur tydelik geld beskikbaar te stel, kan daar grootskaalse onttrekkings van geld deur deposante voorkom wat dan die probleem vererger en daartoe kan lei dat ʼn bank bankrot speel. Dit kan die stabiliteit van die hele finansiële sektor en die ekonomie in gevaar stel. Daarom sal die Reserwebank dan ook tydelike hulp verleen om vertroue te herstel as die res van die banksektor so ʼn bank nie van geld met sogenaamde interbanklenings kan help nie.

Banke het in die verlede die Reserwebank genader vir tydelike oorbruggingsgeld. Sover my geheue my toelaat het Barclays Bank, toe nog ʼn bank beheer uit Brittanje, in die vroeg vyftigerjare oorbruggingshulp ontvang. Nedbank was ʼn keer of twee ook bygestaan en so ook die Bankorp-groep. (Trust Bank was hier die grootste speler.) Onlangs het die Reserwebank ook toegetree om African Bank te red van bankrotskap. Let wel, nie net slegs vir likiditeitsbystand nie. Sover my kennis strek was dit nooit vir Standard Bank en vir Volkskas nodig om likiditeitsbystand van die Reserwebank te ontvang nie. (Dit laat egter die vraag ontstaan waarom aan Saambou, wat ook likiditeitsprobleme ervaar het, nie bystand verleen is nie. Blykbaar wou die Reserwebank dit wel doen, maar is deur die minister van finansies verbied.)

(Ek was voorheen ook by Volkskas as ekonoom werksaam en wil u tog ʼn interessante storie vertel wat ook ʼn belangrike les inhou. Ná sy aftrede het dr. Jan Hurter ons van tyd tot tyd besoek om hom op die hoogte te hou van wat in die ekonomie aangaan. Vir ons was dit ʼn geleentheid om hom uit te vra oor die geskiedenis van Volkskas. Dit blyk dat Ernest Oppenheimer, die grootbaas van Anglo American, in die vroeg vyftigerjare ʼn rekening by Volkskas se Markstraat-tak wou open en ʼn aansienlike bedrag op deposito wou plaas. Hurter het dit geweier. Oppenheimer was hewig ontsteld en het Hurter geskakel en gevra waarom hy dit weier. Hurter deel hom toe mee dat Anglo te groot vir Volkskas was, wat toe nog ʼn klein bank was. As Volkskas die geld sou inneem moet dit uitgeleen kan word om rente te verdien om die rente op Anglo se deposito te kan betaal. Wat sou gebeur as Anglo skielik die geld sou onttrek? Dit kon groot probleme vir Volkskas beteken. Oppenheimer was tevrede en het toe blykbaar ʼn heelwat kleiner bedrag belê. Dit net terloops, maar wie van ons sou die insig gehad het om dit te doen?)

In 1990 het Trust Bank se leningsboek met ongeveer 45% toegeneem en dié van Volkskas met sowat 15%. Ons het voorspel hier kom moeilikheid want kliënte wat ons as onkredietwaardig beskou het, is daar geholpe geraak. Dit was toe ook so. Intussen het Absa tot stand gekom bestaande uit die United- en Allied-bouvereniging en Volkskas Bank. Kort daarna was daar groot probleme by die Bankorp-groep weens slegte skuld en het bankrotskap die groep in die gesig gestaar. Die Reserwebank moes noodgedwonge ingryp. Likiditeitsbystand sou nie meer help nie. Bankorp moes oorgeneem word deur ʼn ander bankgroep wat dit kon bestuur. In die onderhandelingsproses met banke is ʼn lening deur die Reserwebank aangebied teen ʼn relatief lae rentekoers as aansporing vir banke om hulp te verleen. Uiteindelik het Absa aangebied om Bankorp oor te neem en is ongeveer 20 sent per aandeel aan Bankorp se aandeelhouers betaal.

Met my skakeling in die korporatiewe afdeling van Absa het kollegas my later meegedeel dat die omvang van slegte skuld wat Absa geërf het, só groot was dat die bank eintlik nie meer as 10 sent per aandeel moes betaal het nie. Indien waar, en ek glo dit is die geval, het Ansa se aandeelhouers selfs met die bystand van die Reserwebank geen voordeel uit die transaksie getrek nie. Hou immers in gedagte dat as ʼn bank R1 miljoen se slegte skuld ervaar, dit die volgende jaar R100 miljoen se voorskotte sonder probleme moet toestaan om R1 miljoen wins te kan maak om die slegte skuld uit te wis. Dit tas dan uiteraard ook ʼn bank se vermoë om nuwe voorskotte toe te staan aan. Dit laat mens dink, nie waar nie?

  • Adam Jacobs is ʼn onafhanklike ekonoom.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Scalla ·

100% korrek Mnr Jacobs, net jammer Saambou se kliente het hul geld verloor en African bank is ” gered ” deur alle kliente met n persentasie te penaliseer op hul geldmarkfondse by alle finansiele instellings.

Hennie Scott ·

Mnr Jacobs, baie dankie en baie goed
saamgestel en gedoen vir die gewone ou op die straat. Ekself was destyds werksaam by TrustBank op Bethal met die oorname van Bankorp.

John ·

Die Reserwe bank is meer korrup as wat enige persoon wil voorgee.

John ·

Die NWO wou juis ons banke oorneem en SA banke in duie laat stort. ABSA en FNB is nou in privaat besit deur die wereld mag

Waghond ·

Baie insiggewende artikel. Ook insiggewend is die besluit om Saambou nie te red nie. Wonder hoekom? Het Saambou kliente wel geld as gevolg hiervan verloor? Is daar iemand wat lig op die saak kan werp?

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Waghond

Dankie vir jou navraag! Hiermee die skrywer se terugvoer:

Ek merk dat daar navrae is of deposante by Saambou geld verloor het.

Gelukkig nie, want FNB het Saambou se deposito-boek oorgeneem weer eens nadat die Reserwebank as tussenganger die saak beredder het. Die punt is egter dat Saambou myns insiens direk bygestaan moes gewees het. Dit is egter ʼn verhaal vir ‘n ander dag en storie op sy eie.

Groete

Adam Jacobs

John ·

Groot druk is oor die afgelope meer as twee dekades op banke geplaas om die sg agtergeblewens te help. Lenings is welwetende dat dit probleme gaan oplewer, toegestaan. Hoeveel slegte skuld deur banke afgeskryf is, sal net hulle weet. Banke het deurgaans goeie verhoudings met die regering nagestreef. Gulsigheid en manipulasie tree nou op die voorgrond. Banke moet skielik nou hul oe sluit vir misdrywe, of… Selfs die Reserwe Bank moet a la #fees… die aftog blaas. Sommer so. Graderingsgroepe word as rassisties uitgekryt. Gaan ‘n trommeltjie onder die bed nou weer mode word of moet slim burgers met die trommel onder die arm vinnig wikkel landuit, dalk ‘going west’ oor die grens net hier naby…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.