AfriForum en die konstitusionele hof se UV-taalbeleid uitspraak

alana bailey afriforum

Alana Bailey is die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur. Foto: Verskaf.

Die meerderheidsuitspraak van die konstitusionele hof in die saak van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit teen die eentalige Engelse taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) op 29 Desember 2017, het reeds vir heelwat kommentaar en kritiek gesorg. Soos deur dr. Theuns Eloff in sy ontleding genoem, vereis respek vir die reg en regbank dat die uitspraak aanvaar word, maar dit beteken nie dat ’n mens daarmee hoef saam te stem of dit onkrities hoef te laat verbygaan nie. Verdere plaaslike en buitelandse regsaksies is nodig om Suid-Afrikaanse taalregte effektief te bly bevorder en beskerm.

In Suid-Afrikaanse sake wat oor taalregte handel, speel persepsies soms so ’n groot rol dat feite uit die oog verloor word. Só het regter Johan Froneman byvoorbeeld in die minderheidsuitspraak kommentaar oor Afrikaans en AfriForum se betrokkenheid by die saak gelewer wat reaksie regverdig.

Hy het tereg beklemtoon dat die kwessie van taalregte uiters gekompliseerd is en dat die beskerming van minderheidstale tans wêreldwyd aandag geniet.

Hierdie is ’n terrein waarop AfriForum se taaleenheid, ons medewerkers en ons regsverteenwoordigers sedert ons ontstaan in 2005 intensief fokus. Ons is bewus van die groeiende invloed van Engels. Ook neem ons kennis van studies wat bevind het dat Frans teen 2050 Engels in die skadu gaan stel.

Wat meer spesifiek van toepassing op Suid-Afrika is, is die stryd van voormalige kolonies om die balans tussen inheemse tale, sterk koloniale tale en die eise van internasionale markte te vind. Dit is nie net die geval in Suid-Afrika nie, maar ook regdeur Afrika en elders. Ons gesels dus gereeld met onderwys-, taal- en regsdeskundiges wat in lande soos Algerië, Kameroen, Indië en Aruba met die vraagstukke worstel.

Jaarliks herinner die herdenking van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie ons daaraan dat onderrigtaal so ’n belangrike en emosionele kwessie vir mense is, dat hulle bereid is om daarvoor te sterf. Op 21 Februarie 1952 het Bengali-sprekende studente wat gedwing is om in Oerdoe te studeer, teen die onderdrukking van hulle taal geprotesteer. Van hulle is deur die owerhede gedood. In 1999 het Unesco 21 Februarie tot Internasionale Moedertaaldag verklaar om aan hulle en ander taalregtestryders se regte en opoffering erkenning te gee.

Pas ’n week voor die konstitusionele hofsaak se uitspraak in 2017, was ’n groep Khoisan aktiviste besig met ’n eetstaking voor die Uniegebou in Pretoria, onder meer om amptelike erkenning van hulle taalregte te eis.

Hierdie is feite wat goed aan AfriForum bekend is, en juis omdat ons weet hoe belangrik taal is, aanvaar ons nie diskriminerende en uitsluitende eentalige beleide by universiteite nie, maar pak dit op alle moontlike maniere aan.

In die publikasie Afrikaans en taalaktivisme (2004), noem prof. Theo du Plessis dat eers wanneer ’n “vloedgolf van litigasie” voorkom, taalregte-aktivisme in Suid-Afrika ’n wesenlike faktor in die land se politiek sal word. Regsaksie is dus ’n noodsaaklikheid en daarom is dit een van die wyses waarop AfriForum taalregte probeer bevorder, maar nie die enigste wyse nie.

Regter Froneman kritiseer AfriForum vir ’n sogenaamde gebrek aan voorstelle oor moontlike oplossings vir die taalprobleme van UV. Hy neem nie kennis van die deurlopende aksies waarmee ons besig was (en is) om juis dit te probeer bewerkstellig nie.

AfriForum Jeug is al jare lank besig om veral op die Bloemfontein-kampus aan studente ’n stem te bied. Gefrustreerde studente word bygestaan om wanneer hulle voel dat hulle regte geskend word, die saak onder die aandag van die owerhede te bring en oplossings te probeer vind. So word plofbare situasies ontlont, ten spyte van, en dit moet ongelukkig gesê word, die dikwels vyandige houding van die universiteitsbestuur. Dit is nogal interessant om te sien dat, soos wat die druk deur veral die #mustfall-bewegings op die kampus toegeneem het, verskeie van die bestuurslede van werkgewer verander en Kovsies aan hulle lot oorgelaat het, maar dat AfriForum Jeug nog steeds daar is vir enige student wat wil aansluit.

Let wel, lidmaatskap is nie eksklusief nie, al skep regter Froneman se uitspraak daardie indruk. Ook nêrens in AfriForum se manifes, of in enige van ons hofstukke word aangevoer dat ons net een ras eksklusief verteenwoordig nie, en anders as die meerderheid regters probeer ons ook nie voorgee dat net een ras Afrikaans praat nie. Ons ken die demografie van Afrikaanssprekendes op die kampus én in die land.

Van meet af aan het ons deelgeneem aan UV se openbare raadpleging oor hulle taalbeleid. In die voorleggings van AfriForum en van AfriForum Jeug is toegegee dat ’n kampus ’n veranderlike omgewing is en dat ’n taalbeleid dus gereeld hersien moet word, maar ook gewys op die redes waarom Afrikaans op die kampus parallel met Engels steeds die beste oplossing bly. Daar was geen sprake in die praktyk, of in enige voorlegging van ons dat Engelse opsies nie beskikbaar moes wees nie, of dat studente wat in Engels wil studeer, uitgesluit moes word nie. Die drie regters wat die saak in die hoër hof aangehoor het, het dit ook erken.

AfriForum Jeug het aktiewe deelname aan peilings oor studente se taalbehoeftes by die universiteit aangemoedig. Deelnemers van AfriForum en AfriForum Jeug was ook by openbare raadpleegsessies aanwesig.

Verder het AfriForum ’n groot bydrae tot die uitbou en kennisverspreiding oor die rol van taal en taalregte in tersiêre onderrig gelewer. Ons het selfs internasionale deskundige advies ingewin, soos navorsing wat namens AfriForum deur prof. Fernand de Varennes onderneem is. Sy navorsingsresultate is gratis aan alle belanghebbendes beskikbaar gestel. Terloops, hy is nou die Spesiale Rapporteur vir die VN se Forum van Minderheidsaangeleenthede – daar kan dus nie twyfel oor sy kundigheid of onafhanklikheid op die terrein wees nie.

Ons het plaaslike kenners gevra om meningstukke oor die onderwerp te skryf. Dit is vir enigeen toeganklik op AfriForum se webwerf. Net in 2017, is die stukke meer as 18 000 keer deur lede van die publiek geraadpleeg. Nog meer mense het dit deur Facebook gelees. Ons het vergader en gesprek gevoer met universiteitsbesture, onderwysministers, studenteleiers, politici en instellings soos die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die sogenaamde 185-kommissie en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad. Ons het deelgeneem aan verskeie taalorganisasies se aktiwiteite. Ons het met aktiviste vir ander inheemse taalgroepe gesels. Ons het konferensies oor die tema aangebied en ander instellings se konferensies nasionaal en internasionaal bygewoon. Deur mediaberiggewing het ons beste onderwyspraktyke wat oplossings bied en ons bereidwilligheid om universiteitsbesture hiermee te help, bekend gemaak. Litigasie was dus ’n laaste, en helaas onvermydelike uitweg om Afrikaanse studente se regte te beskerm.

Ten slotte, ’n paar kernbelangrike opmerkings wat nie in die konstitusionele hof se uitspraak aandag geniet nie, maar genoem moet word:

  • In 2010 het UV ’n internasionale universiteitstoekenning ontvang, onder meer vir “die rasse-integrasie en harmonie” wat op die kampus bestaan het. Die aanbod in en aanvraag vir Afrikaanse onderrig was toe groter. Waarom is Afrikaans dan nou skielik sogenaamd die rede vir onoorkombare verdeeldheid? En soos talle kritici, insluitend die regters van die hoër hof uitspraak en regter Froneman, vra, waar is die bewyse dat Afrikaans inderdaad verantwoordelik is?
  • Segregasie in klasse met parallelle Afrikaanse en Engelse onderrig was ongedwonge. Die hoër hof se uitspraak het dit ook erken. Kan gedwonge integrasie geregverdig word en bied dit enige blywende oplossing vir spanning tussen gemeenskappe? Ek vind wêreldwyd geen bewyse vir laasgenoemde nie.
  • UV se bestuur voer aan dat die enigste wyse waarop spanning op kampusse ontlont kan word, geïntegreerde klasse is. ’n Universiteit is egter veel meer as klasse – daar is byvoorbeeld ook die terreine van studentebehuising en buitemuurse aktiwiteite. Waarom kon die bestuur niks doen om integrasie en harmonie juis daar te bevorder nie?
  • Woordelyste en tutors bied nie hoëvlak onderrig aan studente in enige taal nie. Tutors is byvoorbeeld dikwels nagraadse studente wat nog redelik onervare in hulle vakgebied en in die loopbaanwêreld is. Om voor te gee dat die beskikbaarstelling van hierdie opsies oplossings vir studente se behoefte aan moedertaalonderrig is, is belaglik. Dit is bloot maar ’n tweederangse hulpmiddel met moeilik evalueerbare uitkomste. Die bestaan van die opsies gaan ook weinig doen om enige taal op akademiese vlak professioneel uit te bou en ’n taal wat ophou groei op hierdie vlak, is ’n sterwende taal.

AfriForum en AfriForum Jeug gaan voort met al die aksies wat bo genoem word. Afrikaans is vir ons eenvoudig te kosbaar om handdoek in te gooi omdat ideologiese druk tans swaarder as feite weeg. Ons is verder, soos ons nog altyd was, bereid om saam met enige ander taalgroep en gemeenskap wat taalregte wil bevorder, te werk. Privaat instellings en -aksies bied opsies, maar as regte eers in die openbare sfeer ontken word, is die stryd om dit in die privaat sektor te behou, des te moeiliker. Die pad van taalberegtiging in die land gaan lank en steil wees, maar ons stap met die moed van ons oortuiging voort.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

22 Kommentare

Eish ·

Ek het groot waardering vir die Burgerregte organisasies se werk veral in die tydsgleuf waarin ons, onself bevind.
Die konstitusionele hof is die hof van finale appél soos ek verstaan. Dié is veronderstel om die bedoeling van die wetgewer weer te gee waar onsekerheid is. Wat dit dan ook gedoen het.
Die meerderheidsregering se doel met Afrikaans in die openbare sfeer is aangespreek en ons vermoedens is bevestig.
Ek het ook Prof. Eloff se skrywe op die FW de Klerk stigting se webblad gelees, in Brits.
Desondanks al die uitgewysde, wettige besware, bly die uitspraak ongelukkig staan. My vraag is dus hoe wil die Burgerregte organisasie deur voortgesette litigasie die situasie omkeer aangesien hierdie uitspraak nie deur n ondergeskikte hof ongedaan gemaak kan word nie.
Afrikaansprekendes se kritieke massa is net te klein myns insiens om deur die regstelsel erkenning van grondwetregte af te dwing.
Ek is n voorstander van Afrikaans as onderrigtaal, maar ek kan nie sien hoe verdere litigasie enigsins die meerderheidsregering se ideologie gaan verander nie.
Dit voel alteveel of ons n vlieg is wat wil in by die venster en nou vlieg ons volspoed, keer na keer teen die venster vas, terwyl die huisbewoners hul verkneukel oor ons nuttelose pogings. Ek verstaan nie hoe voortgesette litigasie die saak gaan help nie. Moet bronne nie liefs aangewend word vir eie Afrikaanse instansies nie? Litigasie is n baie duur wyse van protes.

Bert ·

Voortgesette litigasie sal die onreg behoorlik notuleer en kan ook dien as gesag indien daar na oorsese jurisdiksies toe gaan. Laat ons nageslagte nie wonder of ons darem probeer het nie.

John ·

Dis jammer dat die regspan vir Afrikaans nie werklik voorbereid was op die moontlikheid van so ‘n uitspraak nie. Dit was ‘n flou voorlegging en nou staan dit vas. Waarom is ons Afrikaners so bang om op ons regte te staan… Nou kla ons… na die tyd… te laat.

Eish ·

Ek het ook daardie gevoel gehad. Minstens, met die volgende saak, kan hul dus voorbereid met bewyse vir die teenargumente gaan, aangesien hul gaan bly litigeer.
Ek het ongelukkig te min kennis van die reg om die rede in te sien vir voortgesette litigasie. Ek is geleer die voorsittende beampte se woord is wet, anders appelleer jy. Dan is dit uitspraak in elk geval wet. Bert het n goeie antwoord gegee.

Alana Bailey ·

Dankie aan almal vir die kommentaar. Bert stel dit akkuraat dat litigasie plaaslik gesag skep vir die internasionale voortsetting van die aksie om taalregte te probeer beskerm en uitbou in die land. Die meeste internasionale platforms en howe aanvaar geen sake as alle plaaslike regsopsies nie eers uitgeput is nie, en dis waar UV se saak nou is – aan die einde van plaaslike opsies. ‘n Klag by die VN soos waaroor ons tans advies inwin, vereis bloot die skriftelike aanlyn indiening van dokumente en nie persoonlike verskyning nie. Ek kan nie die bewerings oor die onvoorbereidheid van die regspan en “flou voorlegging” onbeantwoord laat nie. Aan die saak het van die beste regskenners gewerk, insluitend advv. Johan du Toit, Gretha Engelbrecht, Jerry Merabe, Wim Trengove, Martin Brassey en Alfred Cockrell. Hulle argumente en ons navorsing wat ek bo uiteensit, is gegrond op internasionale taalregtebeginsels en die interpretasie van die Grondwet dat regte swaarder as ideologies-gedrewe transformasie weeg. Die hoër hof het die argument ook so ervaar en in ons guns beslis. In appèlsake mag geen nuwe argumente aangevoer word nie, net bestaande argumente beter beredeneer word. Dis hier waar regters gevoel het die beweerde rassesamestelling van klasse en harmonie op kampusse weeg swaarder as studente se reg tot onderrig in taal van eie keuse. Soos regter Froneman aandui, is bewerings van verdeeldheid nooit deur UV bewys nie. Ons het wel ons studente se behoefte bewys en dat niemand uitgesluit is in die uitvoering daarvan nie.

Hendrik ·

Ek dink dis tyd om op te hou om hulpbronne op regsaksies te mors en eerder tyd om Akademia tot volwaardige universiteit vir alle wetenskappe uit te brei.

Jerry ·

Alana jy en jou span doen uitstekende werk met al die instansies met wie julle skakel en jou skrywe spreek daarvan. Dit ten spyte het ons as Afrikaner n terugslag beleef met die hofuitspraak oor ons taal. Dit is nou al n geruime tyd dat dit lyk asof Afri-Forum nie regtig die dinamika van die situasie in Suid-Afrika begryp nie. Bo en behalwe die kritiek van Johan Froneman is dit duidellik dat daar ernstig iets kortkom in ons manier van dinge doen mbt ons benadering teenoor dit wat ons wil bereik, bv anderskleurige mense wat Afrikaans praat en ander minderheidsgroepeforums kon gebruik word om die hof se meerderheids ideologiese denke te beinvloed. Op sy eie gaan Afri-Forum aanhou sukkel om enige iemand te beinvloed om in belang van die Afrikaner te besluit of uitspraak te lewer of op te tree. Begin om Afrikaner belange te dien met groter insig.

Therese van Schalkwyk ·

Stem saam met die uitstekende werk hier gedoen!

Jerry, oorweeg gerus die herlees van Flip Buys se antwoord op jou navrae by ‘n ander artikel oor die werkswyse wat Solidariteit en AfriForum volg. Dit behoort groter begrip vir ‘n ingewikkelde kwessie aan te wakker.

Jou kommer oor anderskleurige Afrikaanssprekendes word lank reeds deur vele gedeel.
Dit bly egter ‘n taamlike dilemma, want bruin, swart en wit Afrikaanssprekende rektors, dekane, professore, dosente én studente het sonder slag of stoot by drié voorheen Afrikaanse universiteite toegelaat dat Afrikaans uit die lesingsale verdryf word. So hoe nou gemaak?

Is jou voorstel dat AfriForum mense wat Engels verkies aan hul ore gryp en dwing om te veg vir Afrikaans? Enige voorbeelde van hoe jy te werk sou gaan is welkom.

Terloops, die regskenners wat aan die UV-saak gewerk het klink soos ‘n diverse groep en beslis nie asof AfriForum mense uitgesluit het nie.

Joe Hall ·

Afriforum se ywer om die behoud van Afrikaans by die twee voormalige(?) CNO universiteite – PUK en Kovsies – te ‘verdedig’, is heel interessant.

Wonder waarom Afriforum se wil, toewyding en regsaksies om die armsalige drie ander Afrikaanse universiteite te beskerm, indertyd so jammerlik afwesig was.

Nadat Afrikaner belange en status tydens die Kodesa onderhandelinge prys gegee is, is ons muishondbeeld 23 jaar later, steeds van krag tot krag aan’t toeneem.

Miskien moet Afriforum al die futiele regsaksies links laat lê en probeer om ‘n beter en werklike beeld van ons Afrikaners te skep. Ons is inderwaarheid ‘n spul goeie siele en daar is vir seker oorgenoeg voorbeelde en argumente om hierdie feite te bevestig.

Alana Bailey ·

Aan Joe: Ek is nie seker wie die “armsalige” universiteite is nie. Ons het ook nog nooit regsaksie oor PUK/NWU se taalbeleid onderneem nie. AfriForum het eers in 2005 ontstaan en in Maart 2006 begin lede werf. Teen daardie tyd het UWK en RAU/UJ reeds grootliks verengels en was daar geen versoek om bystand vir die behoud van Afrikaans van daar nie. Ons het van 2016 tot 2017 ‘n hofsaak om die behoud van Afrikaans by UP gevoer – dit het noodgedwonge ten einde geloop toe die hof in Mei 2017 toestemming om appèl teen die uitspraak teen Afrikaanse onderrig geweier het. Verder was AfriForum Jeug in 2015 en 2016 ook by verskeie regsaksies op US se kampus betrokke. Gelyke Kanse sit dit nou voort. Ons een hangende saak is dié van Unisa wat in Maart 2018 in die hoër hof in Pretoria aangehoor word. Die Grondwethof se uitspraak in die UV-saak berus op die aanname dat Afrikaanse klasse studente langs rasgrense skei wat spanning tussen rasgroepe op kampusse aanwakker. Unisa het nie klasse nie, dus kan hierdie argument nie daar geld nie. Daar is vele studente by Unisa (meer as 20000 ten tye van die taalbeleid se aanpassing) wat Afrikaanse onderrig verlang. AfriForum tree namens hulle op – dit is een van ons bestaansredes as burgerregte-organisasie. Privaatinstellings het nie kapasiteit om skielik 20000 studente te huisves nie. Die koste van litigasie kan ook nie opmaak daarvoor nie. Litigasie kan wel die reg tot privaat- of openbare onderrig probeer verdedig.

Joe Hall ·

Aan Alana Bailey:
Die 3 ‘armsalige universiteite’ waarna ek verwys het en waar hofsake duidelik geen vrugte afgewerp het nie, is US, UP en UJ.
Ek het nêrens na “privaatinstellings” se betrokkenheid, Unisa, UWK en/of alternatiewe universiteite verwys nie, maar verwys u graag weer na die laaste twee paragrawe van my poging, wat mynsinsiens – en met ‘n goeie skeut respek – meer aandag verdien.

Alana Bailey ·

Hallo Joe, oor die muishondbeeld – die SAIRR het bevind dit geld nie onder die publiek nie. Die Bell Pottinger-skandaal het bewys politici vuur dit aan vir eie gewin. Selfs in die buiteland is dit vervang deur SA onder ANC-bewind as muishond weens korrupsie en die regering se verdediging van lande wat menseregte ontken. Dis waarom meeste kommentators (nie net mense met bande met AfriForum nie) die UV-uitspraak as ideologies gedrewe beskou. Die rol wat AfriForum speel om taalregte te bevorder, vir alle gemeenskappe beskerming teen misdaad te help skep, skoon water te voorsien, ensovoorts, skep verder welwillendheid. Politici en mense met ideologiese agendas verkies egter om dit mis te kyk en persepsies te beklemtoon. Soos ek bo noem, is van die opmerkings in die uitspraak op ongetoetste bewerings geskoei, in plaas van op feite. In al ons aksies is ons uitgangspunt om wedersydse erkenning en respek te bevorder. AfriForum vra ook nooit enige reg ten koste van ander nie. By UV was alle onderrig byvoorbeeld beide in Afrikaans en Engels beskikbaar – geen student wat in Engels wou studeer is gedwing om in Afrikaans klas te loop of is uitgesluit nie. Die voorbeelde en argumente is daar – in ons eie mediakanale, in die openbare media, in die openbaar waar ons met ander saamwerk. Dit is vir almal sigbaar wat dit wil sien. Litigasie is ook ‘n baie klein persentasie van wat ons doen. Hoop dit beantwoord die vrae? Mooi wense vir 2018!

Joe Hall ·

Dankie vir u antwoorde!
Sterkte en voorspoed word julle toegewens op die moeilike weg wat klaarblyklik met geesdrif en oortuiging aangepak word.

Alana Bailey ·

Nog aanvullend: oor koste is al baie gepraat. Ons regskoste tot hede sou twee of drie goeie dosente vir ‘n jaar by ‘n kollege of universiteit kon aanstel. Dit sou min verskil aan die voortbestaan van Afrikaans kon maak. Gaan kyk gerus hoeveel duisende Afrikaanse matrikulante universiteitsvrystelling behaal het – US, NWU en Akademia is al Afrikaanse opsies wat oor is vir hulle en sal ‘n bitter klein persentasie kan akkommodeer. Die uitklaar van regsbeginsels oor taalregte maak wel ‘n verskil. Tans stem ek en vele kenners nie met die meerderheidsuitspraak se interpretasie van die Grondwet saam nie (sien kommentaar van onder andere drr. Theuns Eloff, John Kane-Berman, Rakwena Monareng, HUB van Pansat, plus vele ander akademici en regslui). Ek meen ‘n internasionale, objektiewe blik op die feite is nou nodig, anders verloor ons alle tale in Suid-Afrika, want met geen begronding in moedertale nie, gaan almal se Engels algaande swakker word. AfriForum is nie verkwisters of ‘n hardekop vlieg wat aanhou bots met die ruit nie, maar mense wat opstaan vir wat reg is en vir ons en ons lede belangrik is. Hierdie regsprosesse het die potensiaal om net so oor eiendomsreg uit te speel. Die keuse berus by elkeen of ons onreg wil aanvaar, of daarteen standpunt inneem. Litigasie is by verre nie al uitweg as ons dan wel standpunt inneem nie, maar dis een van die pyle in ons koker wat ons sal aanwend om burgerregte te beskerm.

Eish ·

Die verduidelikings het baie gehelp om n sinvoller begrip op te bou van wat werklik agter die skerms aan die gang is en hoekom. Ek kan eerlikwaar sê ek ondersteun jul pogings ten volle. Groter besef van die passie en kundigheid waarmee die dryfwerk gedoen word, laat my eintlik verleë oor my bevraagtekening van jul aksies. Doet so voort!

Anton ·

Is daar n manier om uit te vind watter taalgroep die meeste Alma Maters het en hoe hulle die universiteit ondersteun? UV oftewel “FU” kan tog nie dink hulle kan hierdie mense ook ignoreer en weggooi nie?

Oud Kovsie ·

As oud student is dit my persepsie dat UV besondere onbekwame bestuur die laaste 10 jaar gehad het. Krises bestuur is deulopend benodig en personeel omset was hoog. Ek sal graag in diepte met Jansen wou gesels en sy enorme foute vir hom uitwys, dalk kan hy daaruit leer wel ten minste kan hy dalk leer luister. Dis nou as sy enorme ego opsy kan skuif.

Jerry ·

Watter belange van die Afrikaner is aanvegbaar en hoekom? Taal is aanvegbaar wanneer dit andere nie in ag neem nie of uitsluit. Aanvegbaar in die sin dat die vinger gewys word dat die Afrikaner rassisties is en diskrimineer en hoe verdedigbaar is dit in die konteks van Suid-Afrika se multi rasse demokrasie? Afri-Forum moet Afrikaner belange wat aanvegbaar is deur die stelsel beskerm deur dit te verskans binne die multi rasse demokrasie. Belange wat onaanvegbaar is kan met hand en tand in die publieke domein verdedig word met groot sukses. Kyk ook watter vooroordele daar teenoor die Afrikaner bestaan en die rede daarvoor en werk daaraan om dit reg te stel. Herstel die Afrikaner beeld na mense wat omgee vir almal. Kry die Afrikaner en sy belange in n onaanvegbare situasie. Moet ook nooit reageer op aantygings of uitsprake van opponente tensy ons onsself in n onaanvegbare situasie bevind.

Danie ·

Iets klein wat ons almal kan doen (hopelik al lankal daarmee begin) is om aan te dring dat besighede jou in Afrikaans ook bedien. Veral aanlyn. Enige programmeerder wat sy sout werd is behoort dit te kan uitvoer. Dit is ‘n swak verskoning dat dit baie kos. Dit is nog ‘n swakker verskoning in Suid-Afrika waar daar 11 amptelike tale is. Engels is een van die minderheidstale. En dit maak nie saak dat dit ‘n wêreldtaal is nie. Soos reeds genoemd is Frans ‘n goeie mededinger, maar ook Spaans en veral Mandereins (Chinees). Statisties word mandereins loshande deur die mense mense gebruik.

Indien iemand dus beweer dat Engels juis omdat dit ‘n wêreldtaal is voorrang moet geniet dan moet die volgende ook uitgevoer word: Die meeste vroue in Afrika word besny, daarom moet Suid-Afrikaans vroue ook besny word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.