Afrikaans buig dalk die knie, maar val beslis nie

Argieffoto

Argieffoto

Deur Elzette le Roux  Akademia Programbestuurder: BCom Ekonomie en Regte

Wanneer ek die beëindiging van Afrikaans as onderrigtaal by universiteite die afgelope week beskou, staan twee aspekte vir my uit.

Een, studente onderskat die belangrikheid van moedertaalonderrig en twee, moedertaalonderrig (nie net Afrikaans nie) gaan voortaan in die privaat sektor gevestig word.

  1. Belangrikheid van moedertaalonderrig

Ek neem kennis van debatte op sosiale media – aan die een kant groepe wat dit handhaaf dat Afrikaanse studente self kies om in Engels te studeer en aan die ander kant groepe wat daarteen argumenteer. Ek moet bieg dat verskeie van my kollegas by openbare universiteite dit bevestig het dat die getal studente in die Afrikaanse klasse die afgelope drie jaar afgeneem het en die getal studente in die Engelse klasse weer toegeneem het. My kollegas het ook opgemerk dat hulle kon sien Afrikaanse studente woon die Engelse klasse by, aangesien daar ʼn klomp Afrikaanse antwoordstelle tussen die Engelse klasse se studente was.

Een afleiding wat ek hieruit maak, is dat Afrikaanse studente ongelukkig in die slaggat getrap het deur die persepsie te huldig dat die sakewêreld Engels is en jy daarom in Engels moet studeer. Die invloed van hierdie wanopvatting kan nie onderskat word nie. Daar bestaan veel meer navorsing wat die teendeel bewys, naamlik hoe beter jou moedertaal, hoe beter jou tweede taal. Voorts, wanneer jy begrippe in jou moedertaal baasraak, kan jy dit toepas in enige ander taal waarin jy magtig is. Die taal waarin jy leer, is die taal wat jy lewendig hou. Taal is nie net ʼn taal nie. Dis ʼn identiteit, dis ʼn verstaan, dis ʼn leer, dis ʼn leef, dis ʼn uitleef, dis ook ʼn laat leef! Moenie in die strik trap om te glo dat voorgraadse studie in Engels, as jou tweede of selfs derde taal, jou meer suksesvol in “Globalish” gaan maak nie. Daar is ’n legio inligting wat reeds die teendeel bewys. Ek was bevoorreg om my studie in Afrikaans te voltooi. Ek het nie een oomblik teruggestaan om my in Engels in die hof te handhaaf, te argumenteer of korrespondeer nie. My moedertaalonderbou het my juis in staat gestel om my ook in Engels in die regsberoep te handhaaf.

  1. Moedertaalonderrig gevestig in privaat sektor

Artikel 29 van die Grondwet, 108 van 1996, plaas ʼn plig op die staat om, onder meer, verdere onderwys beskikbaar en toeganklik te maak. Duidelik het die staat gevind dat dit makliker is om reeds bestaande onderwysinstellings “toeganklik” te maak deur eentaligheid, naamlik Engels, af te dwing in plaas daarvan om onderrig eerder beskikbaar te stel deur nuwe instellings te bou en/of werklik toeganklik te maak deur die ontwikkeling van veeltaligheid.

Derhalwe vestig moedertaalonderrig, soos Afrikaans, sigself in die privaat sektor omdat die staat nie sy grondwetlike plig nakom nie.

Ons land het nie meer net twee amptelike tale nie, maar 11. Die onus rus nou op gemeenskappe om self toe te sien dat gehalte-onderrig in daardie moedertale plaasvind. Dis ook van sleutelbelang dat die belangrikheid van moedertaalonderrig nie net beklemtoon word nie, maar dat gehalte-onderrig ook nagestreef word.

By Akademia glo ons in die belangrikheid van moedertaalonderrig, asook gehalte-onderrig om studente te help bou aan hul eie suksesvolle toekoms – nie net in ʼn Afrikaanse gemeenskap nie, maar in die breë Suid-Afrikaanse konteks, sowel as internasionaal.

Studente wat byvoorbeeld Akademia se BCom Ekonomie en Regte verwerf, behoort nie net begrippe in hul moedertaal, Afrikaans, baas te raak nie, maar deur gehalte-onderrig ook in staat te wees om in byvoorbeeld Engels gesprekke te kan voer, redenasies aan te knoop, te debatteer, te skryf, sowel as dink.

Akademia is ʼn privaat hoëronderwysinstelling wat ʼn verskil in mense se lewe maak, sodat hulle weer ʼn verskil in gemeenskappe kan maak. Bou saam aan gehalte-onderrig in Afrikaans, terwyl jy werk, sodat jy weer kan bou aan jou vry, veilige en voorspoedige toekoms.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

20 Kommentare

CHARMAINE WALL ·

HOEKOM MOET AFRIKAANS NOU DIE KNIE BUIG,HOEKOM BEPAAL HULLE NIE HULLE AANDAG BY AL DIE KORRUPSIE IN DIE LAND,DIT WIL VIR MY VOORKOM HET NIKS ANDERS OM TE DOEN AS OM TE KRAP WAAR DIT NIE MOET.

JC ·

Alles wat gese is , is absoluut waar en ‘n nugtere en objektiewe uiteensetting van die hele onderwerp. :-)

Basson ·

2017 > sal baie Afrikaanse studente besef dat Engels moontlik ‘n hindernis geword het vir graadstudies en prestasie in veral die B.Sc & B.Ing rigtings. Klas en eksamens sal nou nie meer ‘n suiwer toets van vakkennis wees, maar dalk meer bepalend (van prestasie) ‘n toets van Engels aangesien Chemie- / Fisika- / Wiskunde- ens terme nou volkome in (net) Engels gaan wees. Sommige Engelse begrippe mag selfs vir die eerste keer in die eksamen teengekom word wat interpretasie daarvan en antwoorde op vrae kan bemoeilik.
Ja ek besef mens bemeester die Engelse ‘akademiese wereld’ soos mens groei, studeer en latere blootstelling in die werksituasie, maar ek verwys hier na spesifiek eerstejaar studente wie nooit daarmee te doen gehad het, en nou so blootgestel word.

Elize ·

Met so baie handboeke net in Engels hoe moet die kinders in Afrikaans studeer???

Victor ·

Presies… veral in die wetenskap is jou handboeke meestal van Amerika en Engeland. Dis hoekom ek sê – die skrywer het regte geswot en daar is baie boeke in daardie vakgebied in Afrikaans – maar nie in die wetenskap nie

Elzette ·

Elize, hoewel baie handboeke in Engels is, vind Akademia se klasse plaas in Afrikaans. Ons studente kan dus die inligting wat in Engels is, wel in hul moedertaal (Afrikaans) verteer en verstaan. Dit gee studente die kans om deur die werk te gaan, daaroor te dink, dit in Afrikaans te herkou en weer te gee. Sodoende kry student ook blootstelling aan die Engelse vakterme terwyl hul konsepte kan baasraak in Afrikaans. Wanneer daardie konsepte/begrippe baasgeraak is, kan die student ook sy/haar plek in die globale ekonomie volstaan.

Victor ·

So, kom ons kyk na ‘n vakrigting soos rekenaarwetenskap. Die vaders van hierdie wetenskap, Alan Turning, Church, Von Neumann, etc. het almal in Engels gewerk. Daar is geen Afrikaanse handboeke beskikbaar nie, en belangriker selfs, meeste mense wêreldwyd skryf “source code” in Engels. Jy gaan ‘n groot gesukkel hê om dit in Afrikaans te studeer.

En die skrywer vergelyk appels en pere – mens kan duidelik sien hy het regte geswot – daar is ‘n groot verskil tussen ‘n wiskundige wetenskaplike rigting en iets soos regte.

André ·

Stem tot mate saam met jou, maar die artikel praat mos oor moedertaal onderrig in die algemeen.

humor ·

Victor jy benader die saak net soos jy lees. Die skrywer is nie n hy nie sy n sy. In elkgeval dit is nie n suiwer taal kwessie nie . Dit handel hier oor die totaal eiendomlike van n volk.

Victor ·

Wat is jou punt “humor”?

Maak nie saak of dit ‘n hy of sy is nie. As die vakrigting primer Engels is dan is dit so!
Wat is ‘n “eiendomlike”?

zuri ·

Ons as Afrikaners moet nou sterkter op staan, nie net moet ons, onsself kan handhaaf in Afrikaans nie, maar ons moet ook kan bewys ons is net so bedrewe in Engels. Ons moet nou engels nog meer uitbou in Afrikaanse skole sodat ons kinders tenvolle tweetalig is en sonder skroom kan oorskakel van een taal na die ander. Plaas om nuttelose vakke soos LO moet ons kinders nog meer Engels leer, sodat die persepsie kan verander dat ons kinders nie Engels magtig is in die werksplek nie. Alles geskied dus nog in Afrikaans, maar Engels as ‘n addisionele gereedskap om hulle nog sterkter te maak in die arbeidsmark en Afrikaanse ouers wat met daardie verskoning hulle kinders in Engelse skole gesit het weer terug te lok na die Afrikaanse skole. Ons kinders moet dus net leer om die taal 100% met selfvertroue te kan praat, skryf en lees. Onnodige goed soos gedigte moet uitgelos word sodat hulle net op die gramatika kan fokus wat arbeidsmark verwant is. Kinders wat lief is vir tale kan gedigte ens. bestudeer.

Disselboom ·

Artikel “Versugting na Afrikaanse universiteit” raakgeloop. Twee jaar terug al geskryf, maar Disselboom dink dis nogal relevant vir die debat oor tersiêre opleidingstaal, en herkou aan stellings soos: “‘n Afrikaanse universiteit wat herwin word of opgerig word as deel van ‘n groter politieke verskuiwing en dus in die konteks van taal as deel van identiteitsbewustheid as deel van oorlewingstrategie en vryheidstrewe sal wel sin maak.”

Hendrik Havenga ·

Toe ek 35jaar terug buitemuurs gestudeer het was alle handboeke in Engels , party vraestelle Engels ander Afrikaans en dit het my nie vevreem van my taal, denke en leefwyse so wat is die “issue”!!!!

Victor ·

… stem 100% saam met jou. Ek het my eerste graad in Afrikaans gedoen, my tweede graad in Engels. Ek is Afrikaans en het geen probleem gehad nie. A.g.v die tweede graad het my vermoë in Engels beter geword

Andre ·

1. Nog voor ‘n woord (in enige taal) uit jou mond (of pen) kom … moes daar “iets” in jou brein gebeur het. Verstaan / Dink / Redeneer / Kognisie, noem dit wat jy wil. Feit is ‘n mens se DENKE is VLOTTER / SKERPER / OPTIMAAL in jou eerste taal. 2. Die GOEIE DENKE (IDEES) word, nadat die denkproses afgehandel is, vertaal (verpak) in enige taal waarvoor daar ‘n aanvraag is. Bv. Afrikaanse skrywers se boeke word vertaal in tientalle wereldtale! 3. Dit is GOEIE DENKE wat verlore gaan wanneer mense in hul 2de of 3de tale studeer. KWALITEIT DENKE word verwater na gemiddeldheid waarvoor daar ‘n ooraanbod in die wêreld is. 4. KWALITEIT DENKE is in aanvraag in die INLIGTING ERA. 5. SWAK en GEMIDDELDE denkvaardighede benadeel jou selfs as dit in die BESTE ENGELS vertaal word. 6. Die grootste onreg wat ooit aan inheemse Afrikataal sprekers aangedoen is, is om vir kinders te verplig om in hulle tweede of derde tale te leer en te onderrig. Sulke 2de en 3de taal leerders het ‘n permanente agterstand in vergelyking met 1ste taal leerders. (Kyk na die matriekuitslae!) 7. Die hele planeet besef reeds vir honderde jare dat eerstetaal onderrig die volle potensiaal van mense kan ontsluit. Net Afrika, die donker kontinent, glo dit nie – en ‘n paar Hanskakies wat skuldig voel!

Moegviraldiebeloftes ·

Die sukses van die afrikaanse student hang daarvan af hoe goed tweetalig hy/sy is daar hy met lof kan slaag maar word hy opgeneem in die arbeidsmag word dit ‘n reuse probleem daar sy engels nie so goed sou wees nie – het self ondervinding gehad daar my baas as bestuurder en die huidige ene al hulle grade in afrikaans met lof gelsaag het maar nie engels so goed kan praat nie of skryf nie – lees is goed maar as dit by amptelike dokumente kom word ek ingeroep om dit te doen (ek is tenvolle tweetalig en altwee tale se standaard is hg vlakke en hoër. die bestuurder se sektretaress het ‘n 4 jaar kursus gedoen weereens in afrikaans en die engels is gelystaande aan a gr 5 sn. ek sou voorstel dat die student tot en met gr 5 moedertaal onderrig ontvang en dan word die die student verplig om geen afrikaanse boeke te lees nie, net engelse boeke – dit sal hom/haar instaat stel om die volgende 2 jaar gewoond te word aan die engelse taal se grammatika, spelreëls ens – ons het dit met my kinders gedoen met groot sukses hulle vlakke in albei tale is hg en hoër

John ·

Soos swartmense is die meeste van ons vanuit huis, eintlik ‘n ander taal magtig. Nou sit ons almal met ‘n derde taal wat ons baas ‘wil’ word. Dis duidelik dat die swartes sukkel want hulle woon oorbruggingskursusse by om van skoolvlak na die universiteit oor te skakel. Die meeste van die Afrikaanse ouergarde het op skool Engels op laer graad geneem. Wat op ‘n mate van ‘n minderwaardigheidsgevoel dui. Onnodiglik. Hedendaagse kinders wat rekenaargeleerd raak sien taal anders as ons; net as ‘n medium. Die heel kleintjies ken al Engelse terme en lees vroeg-vroeg. TV-programme en die rekenaar bied egter min Afrikaans vandaar dat ons ouers baie leestof in Afrikaans moet aanskaf en tyd moet spandeer om die taalbasis te vestig. Ons kan nie alles op die skouers van instansies(Wolraad) plaas om ons taal en kultuur te red nie.

Marius ·

Jy slaan die spyker op die kop John. Met al die Engelse blootstelling is dit ons as ouers se plig om ons kinders so veel moontlik te laat lees in Afrikaans en dit ‘n daaglikse roetine te maak, veral as hulle klein is. As Afrikaans onderwyser is dit onrusbarend om te sien hoe swak Afrikaanse kinders skryf en lees in hulle moedertaal. Dit was nog nooit so swak nie. Daarom sê ek dit begin by die huis. Ouers maak nie die tyd om die roetines van kleins af te vestig nie. Die skool of universiteit gaan nie Afrikaans lewendig hou nie. Dit begin by die huis.

Johann ·

‘n Paar gedagtes:
1. Privatisering van ons opvoedkundige instansies begin toenemend belangriker te word namate daar onsekerheid oor kwaliteit van opvoeding toeneem.
2. Om ‘n goeie onderbou in Engels te hê is baie belangrik. Die feit moet egter glad nie as argument teen onderrig in Afrikaans gebruik te word soos deur regeringsaksies impliseer nie.
3. Daar is in die 1960’s ‘n omvangryke poging aangewend om tegniese terme (in die wetenskappe, inligtingkunde en ingenieurswese) in Afrikaans te ontwikkel. Daardie poging behoort met nuwe ywer voortgesit te word deur taal- en vakkundiges.
3. Uiteindelik gaan die voortbestaan van Afrikaans van sy sprekers afhang. Tot die mate waarin Afrikaanssprekendes hul taal liefhet, omhels, gebruik en beskerm. Dit gaan aksie neem – kla en kritiseer sal min help.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.