Afrikaans se verdelende (maar ook gedeelde) geskiedenis

Foto: http://travelblog.portfoliocollection.com/Blog/Klein-Karoo-Nasionale-Kunstefees-

In Beeld van 25 November 2011 (bl. 14) lees ek in die hoofartikel oor die strewe van die ANC om weer pogings aan die gang te sit om Pretoria se naam te verander. In die berig staan die volgende woorde:

“Die land (insluitend die ANC) moet aanvaar dat ons ’n verdeelde geskiedenis het en dat een groep se geskiedenis nie bo ’n ander s’n gestel mag word nie. Daar moet ’n balans wees en plek moet gemaak word vir almal se geskiedenis.”

Ek wil my nie uitlaat oor die Pretoria-debat nie omdat ek te min daarvan weet. Ek weet wel dat daar nou gekrap word waar dit nie jeuk nie en dit gaan weer tot baie onnodige onmin en twis aanleiding gee. Die geskiedenis leer ons hieroor één belangrike les: dat ons nooit leer uit die geskiedenis nie. Ek wens die ANC kon Afrikaans lees …

Die bostaande aanhaling het my laat dink aan ’n projek waarmee ons by die Afrikaanse Taalraad (ATR) besig is. Tydens die ATR se jaarvergadering op 18-19 November is in die Paarl hieroor gerapporteer. Wat wil ons hiermee bereik?

Ons moet aanvaar dat die geskiedenis van Afrikaans nie so ‘mooi’ is soos ons dalk dink nie. In die opteken van die geskiedenis is dikwels eensydige perspektiewe gestel, soos dit in enige geskiedskrywing gaan. Daar word mos gesê geskiedenis is die storie van die verlede deur die oë van die wenner. Dit is inderdaad so. So lank is kinders op skole ingelig oor die geskiedenis van Afrikaans vanuit ’n wit perspektief. In hierdie proses is die bydrae van die bruin sprekers van Afrikaans óf geïgnoreer óf uitgeskryf.

Die werklikheid is egter dat dit nie die enigste perspektief is nie. Daar is ’n my-perspektief, ’n jóú-perspektief, maar dit is verdelend en daarom sal ons moet beweeg na ’n óns-perspektief. Wat bind ons as Afrikaanse gemeenskap saam? Tog ons taal. Kom ons beskou dit as vertrekpunt en kom dan ooreen op dit wat ons deel.

Die ATR glo dat ons as liggaam hierdie regstelling moet dryf en daarom het ons ’n tweeledige strategie. Aan die een kant word in skoolhandboeke nuwe materiaal geskryf sodat kinders reeds op skoolvlak kan leer daar is ook ’n ONS-geskiedenis. Die geslagte wat kom, sal leer van dit wat ons bind. Hulle sal nie net leer van die taalbewegings en die GRA se totstandkoming in die Paarl nie, maar ook van die strewes wat op Genadendal rondom Afrikaans na vore gekom het en hoe ’n gemeenskap al lank in Afrikaans gelewe het. Ook van die Moslemskole in die Kaap waar die spreektaal van die tyd gebruik is om te onderrig. Dis nuwe feite en nuwe dinge wat ons van mekaar moet leer en so kan ons saam bou aan ons toekoms.

Die tweede strategie het ten doel om ’n leesbare narratief (’n teks van ongeveer 20-25 bladsye met die hooftrekke van die gedeelde geskiedenis van Afrikaans) van Afrikaans te skryf wat toeganklik is vir die meer volwasse mark. Hierdie boekie neem tans vorm aan en as alles volgens plan verloop, sal dit teen middel 2012 beskikbaar wees. Die plan is om hierdie boekie dan ook in ander tale te vertaal sodat ander ook óns storie in húlle taal kan lees. Beslis iets om na uit te sien. Die teenwoordiges by die ATR se jaarvergadering was opgewonde oor die vooruitsigte van hierdie projek. Ons hoop u as gebruikers van Afrikaans ook!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

UNIVERSALISERING

Wannie ~

Met albei projekte – die skoolhandboeke én die narratief – bevorder die ATR nie kortsigtige eiebelang nie, maar twee lofwaardige universele beginsels, wat ook in Estland, in die Oekraïne en in Kazakstan geldig is: Eerstens, skryf jou geskiedenis! En tweedens, versterk jou eie taal! Jou leierskap stel ‘n voorbeeld vir ons.

Met hoë agting

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.