Afrikaans verdien sy plek

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Hoekom word daar so verbete teen die status van Afrikaans in ons land geveg? Dis deels te wyte (reken ek) aan die feit dat die taal ondanks die aanslae buite verhouding presteer. Dit skep ʼn jaloesie by Afrikaanshaters. Hulle wil Afrikaans aftrek eerder as om saam in vennootskap ander inheemse tale te ontwikkel – beginnende by skole.

Eintlik is onderrig in Afrikaans as moedertaal ʼn navolgingswaardige suksesstorie. Dit kan as voorbeeld dien vir ander tale van wat bereik kan word. Moedertaalonderrig van heel vroeg af lewer ʼn stewige fondament vir beter begripsleer. Maar veel meer moet gedoen word om ʼn taal lewenskragtig te hou, te ontwikkel en te bewaar.

Ek het onlangs die geleentheid gehad om besoek af te lê by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein (NALN). Dis uniek in die opsig dat bykans alles wat in ʼn taal geskryf, gekomponeer of opgevoer is in toegewyde arbeid elke dag geïndekseer en in veilige bewaring gehou word, alles op een plek. Dis nóg ʼn veer in die hoed vir Afrikaanssprekendes dat boek gehou word van alle skeppende kunsverwante werke.

Die meer militante teenstanders van veral wit Afrikaanssprekendes – soos die EFF – sê Afrikaanses moet teruggaan na waar hulle vandaan kom. Na Europa. Jan van Riebeeck en sy skeepsvaarders het nie hier aangekom met skepe vol grond nie. Dus het hulle geen aanspraak op grond in Suid-Afrika nie. Die taal wat ons praat is vreemd aan die vasteland, glo hulle. Dis nie van hier nie. Dis uitheems. En dis ʼn taal wat besmet is met die apartheidskwas.

Daar is natuurlik heelwat argumente wat ʼn mens kan aanvoer om sulke soort uitsprake te weerlê. Die debat oor die status van Afrikaans kom al van vêr. Dit was tydens die Soweto-onluste van 1976 dat die debat soos ʼn pitsweer oopgebars het. Dit het tot uitbarsting gekom weens die besluit van die destydse adjunkminister van Bantoe-onderwys, dr. Andries Treurnicht, dat Afrikaans, naas Engels, voortaan die verpligte voertaal in “swart” skole sou wees. Gegewe die daaglikse stryd met die regering en ander amptelike instansies om die beginsel van moedertaalonderrig te erken, kan ʼn mens verstaan hoekom die afdwing van ʼn vreemde taal as medium van onderrig tot die onluste in Soweto gelei het.

Ek raai die emosionele uitsprake van Afrikaanshaters is ʼn skaamkwaad reaksie, juis omdat die taal so goed doen. Verlede jaar se matriekuitslae het weer bewys dat leerlinge by Afrikaanse skole, in verhouding tot ander, uitermate goed presteer het.

En dit is geen wonder nie. Afrikaanssprekende leerlinge is die enigste van al die inheemse tale wat die geleentheid in openbare skole het om moedertaalonderrig te ontvang – regdeur van graad een tot matriek. Die ander moet vanaf graad vier na Engels as medium van onderrig oorskakel. ʼn Mens kan jou voorstel hoe erg dit moet wees vir sulke leerlinge, in veral veraf plattelandse gebiede, wat daagliks geen blootstelling aan Engels het nie, om skielik na drie jaar van onderrig in jou eie taal na Engels oor te skakel. Te meer nog as so ʼn leerling ingedeel word by ʼn klas van 50 of meer leerlinge en die onderwysers nie spesifiek opgelei is om in Engels onderrig te gee nie.

Dis verblydend dat Theuns Eloff van die Dagbreek Trust in samewerking met die Afrikaner/Afrika inisiatief en die Thabo Mbeki Stigting ʼn voorlegging aan die regering gedoen het dat moedertaalonderrig in beginsel as ʼn noodsaaklike element van goeie onderwys erken word. Dan moet moedertaalonderrig vanaf graad vier, jaar vir jaar, ingefaseer word totdat almal tot en met matriek die geleentheid gebied word om in sy of haar eie taal onderrig te word. Volgens Eloff kan dit kostedoeltreffend gedoen en redelik vinnig ingevoer word.

As so ʼn voorstel amptelik aanvaar word, sal dit in ʼn groot mate die geniepsigheid jeens Afrikaans besweer. So ʼn stap sal ook die geleentheid aan skeppende mense van elke groep bied om moedertaalonderwysmateriaal te lewer. Dan sal nie meer aangevoer kan word dat Afrikaans gebruik word as ʼn middel om mense van ander tale uit te sluit van goeie onderwys nie. So ver my kennis strek, is al wat ʼn Afrikaanse instelling totaal bereid om prakties te help met die instelling van ʼn nuwe moedertaalbedeling vir almal.

Maar moedertaalversterking strek veel verder. Binne taalgemeenskappe moet elke taal aktief skeppende werk lewer. Daar moet toegewyd gewerk word om kulturele geleenthede te skep wat die taal laat ontwikkel. Daar is byvoorbeeld elke jaar ses groot vervaardigende kunstefeeste vir die Afrikaanse gemeenskap. (Dit is nou in “normale tye” sonder die Covid-19-pandemie.) Dit is die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn, Die Woordfees in Stellenbosch, die Suidoosterfees in die Kaap, die Vrystaat Kunstefees in Mangaung, Aardklop in Potchefstroom en Innibos in Mbombela.

Die feeste bied nie net kultuurverwante vermaak van verskeie soorte nie, maar moedig kunstenaars ook aan om nuwe skeppende werk na die feeste te bring. Van dit word gefinansier. Sulke feeste het ook ʼn groot sosio-ekonomiese impak – soos die KKNK-fees. Die fees se artistieke direkteur, Hugo Theart, wys daarop dat die Universiteit Rhodes se ekonomiese departement in 2018 bevind het dat die fees se impak op Oudtshoorn en omgewing sowat R56 miljoen is. Die syfer vir die provinsie Wes- Kaap is tussen R161 en R178 miljoen. Dus vervul dit ʼn dubbele rol om taal en kultuur te bevorder, maar ook ʼn ekonomiese inspuiting te gee aan behoeftige plattelandse gemeenskappe van verskillende tale en ras. Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teater Inisiatief (NATi), glo die waarde van al die kunstefeeste landwyd kan op sowat R400 miljoen geskat word.

Die Afrikaanse taal- en kultuurwêreld word deurentyd deur verskeie organisasies soos die ATKV, FAK, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, kykNET, RSG, verskeie streeksradiodienste en ook Maroela Media gestimuleer en bevorder.

Daar is al dié gewoel en werskaf in die Afrikaanse gemeenskap, maar niks soortgelyks gebeur in ʼn enkele een van die nege ander inheemse tale nie. Nie in een nie.

ʼn Ander waardetoevoeging tot die kultuurskat van Afrikaans is die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NANL) in Bloemfontein. In ʼn pragtige gebou wat eens die goewerments-amptenary van die Vrystaatse Republiek gehuisves het, word elke stukkie Afrikaanse skepping in letterkunde, musiek en toneel bewaar. Die NANL-museumversameling beloop ʼn geskatte driekwartmiljoen items. Dit sluit in boeke, manuskripte, tydskrifte en koerante, knipsels, bladmusiek, kunswerke en oudiovisuele versamelings. Alles word op rakke agter glas of in kluise geïndekseer en geberg. ʼn Nuwe projek is om alles ook digitaal te bewaar.

In uitreikprogramme is al meer as 100 “swart” skole besoek waar leerlinge van die museum vertel word. Ook dat verskeie swart skrywers en digters, soos Mathews Phosa, se werke in Afrikaans daar bewaar word. Met die hulp van NANL is ʼn soortgelyke museum, Dingolweng, vir die Sesotho-gemeenskap gevestig.

Afrikaans verdien lof vir die wyse waarop daar toegewyd en deurentyd kultuurgoedere geskep, ontwikkel en bewaar word. Die lewenskragtigheid van die taal het nie sommer vanself gekom nie. Daar is hard daarvoor gewerk. Selfs al sou die regering daartoe oorgaan om Afrikaans uit die openbare lewe te probeer rangeer, deur byvoorbeeld alle skole te verengels, glo ek die taal sal dinamies van die land se kultuurgoedere deel bly. En Afrikaanssprekendes kan ʼn onskatbare bydrae lewer in die ontwikkeling van ander inheemse tale tot die vlak waar Afrikaans is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ABDP ·

Ek self het gewonder of ek verkeerd is wanneer ek aan ander vertel dat geen ander amptelike lands taal so ontwikkel word soos afrikaans d.m.v feeste, kunswerk, toneel en vele meer – daar is duisende afrikaanse kopitisies, redenaars, debat, kunswedstryde ens. waar Afrikaans die platvorm gebied word om verder te onwikkel. Die dood gewone Afrikaans sprekende vorm die taal, nie noodwendig net akademikuste nie. Ons almal werk hard saam.

Marthinus W ·

Hulle se dat n verkragting gewoonlik gedoen word deur iemand wat die persoon ken. Met Afrikaans het ons die situasie dat sekere persone [sekere bruinmense] absoluut militant teen Afrikaans is; hulle verkrag ons regte. Op LitNet het daar n artikel verskyn “Kaaps is the future of Afrikaans”. Ek het my kommentaar begin met die woorde “I beg to differ”. Die kommentaar is nie geplaas nie, en sedertdien sensor LitNet my op al my kommentare.

My ouers was beide Riemlanders, Oos-Vrystaters. In een dorpie, waar my pa gebore is, is daar veral wit Engelssprekendes wat alles in hul vermoe doen om Afrikaans uit te werk, selfs al is die dorpie deur Afrikaners gestig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.