Afrikaanse onderrig – wil jy of moet jy?

Die Afrikaanse Taalmonument (Foto: Facebook)

Op 21 Februarie is Internasionale Moedertaaldag andermaal gevier. Die datum begin al meer bekend raak in die Afrikaanse gemeenskap. Skole en allerlei ander instellings het vanjaar spesiale projekte aangepak om op dié dag aandag aan moedertaal en veral moedertaalonderrig te gee.

Natuurlik bied dit ʼn geleentheid aan ons om ʼn bestekopname te doen van die stand van ons moedertaal, Afrikaans, en die uitdagings wat dit tans in die gesig staar.

Een hiervan is die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) wat ʼn wesenlike bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaanse onderrig inhou. Die ideologiese redes vir skadelike wetgewing en regulasies van dié aard, is deeglik bekend. Maroela Media plaas byvoorbeeld gereeld meningstukke hieroor.

Omdat taal mense kan bemagtig, insluit of uitsluit, is dit ʼn handige instrument wat vir magspeletjies misbruik kan word. Afrikaans is geen uitsondering in hierdie verband nie. Afrikaanssprekendes is oor die algemeen bekend as ʼn hardwerkende, suksesvolle minderheid met ʼn omstrede verlede. Dit is klaar genoeg om ʼn teiken op die taal se spreekwoordelike rug te plak.

Aanvegbaar en betreurenswaardig soos dit mag wees, help dit nie om ons blind vir hierdie werklikheid te hou nie. Die taaldiskriminasie wat Afrikaanse moedertaalsprekers ervaar, asook die bedreiging van volhoubare Afrikaanse onderrig, moet deur ons op alle moontlike maniere binne die raamwerk van die wet teengestaan word.

Alana Bailey.

Wat baie moeiliker is, is om lede van die taalgemeenskap self te oortuig dat ʼn keuse ten gunste van moedertaal die beste is. Afrikaanssprekendes kom soms vorendag met drogredenasies soos dat Engelse onderwys en opleiding die goue poort na sukses is, of dat dit “outyds” of “onprofessioneel” is om Afrikaans in ʼn werksopset te praat.

Onlangs verklaar ʼn spreker by ʼn funksie wat ek bywoon dat ʼn mens met enige aksie wat jy aanpak, eers duidelikheid moet kry daaroor of jy dit wíl of móét doen. Met die gebruik van moedertaal op soveel terreine as wat moontlik is, sal Afrikaanssprekendes dit hopelik wil doen, omdat feite onteenseglik bewys dat ons dit moet doen. Redes hiervoor kan op verskeie terreine gevind word. Hier volg enkele daarvan:

Akademies

Nasionaal en internasionaal is al herhaaldelik bewys dat mense die beste in hulle moedertaal studeer. Nie net vir twee of drie jare aan die begin van hulle skoolloopbaan nie, maar hoe langer, hoe beter. Dit is ʼn sleutelfaktor wat prestasie help verseker. Staaltjies uit persoonlike ervarings met ander tale kan nie hierdie wetenskaplike bewyse ongedaan maak nie.

Die aanleer van meer tale en die internalisering van abstrakte begrippe in vakke soos wetenskap en wiskunde geskied net soveel beter en makliker wanneer moedertaalonderrig ontvang word. Dit beteken dat die leerproses versnel word, wat ook tot gevolg het dat studente selde studies voortydig staak (“opskop”) of langer as die normale toegelate tyd benodig om kursusse te voltooi.

Mense wat in hulle moedertaal studeer, hou gewoonlik langer aan met hulle studies, wat beteken dat hulle hoër kwalifikasies behaal.

Die vaardigheid om krities te dink, argumente te formuleer en dit verstaanbaar oor te dra, word deur moedertaalonderrig bevorder. Die voordele hiervan strek uiteraard veel verder as net om ʼn persoon se loopbaan te bevorder.

Ekonomies

Soos reeds genoem, behaal mense wat in moedertaal studeer, gewoonlik beter kwalifikasies as studente wat in ʼn ander taal studeer. Dit bied persoonlike voordele, soos die kans om ʼn suksesvolle loopbaan te hê, maar ook positiewe uitkomste vir die gemeenskap waarin die persoon hom bevind, byvoorbeeld werkskepping en stimulasie van die ekonomie.

Die feit dat die persoon meer tale makliker en beter sal kan aanleer as sy akademiese fondament in sy moedertaal gelê is, beteken dat hy as meertalige meer gesog as werknemer sal wees. Plaaslike en buitelandse werkgewers is toenemend op soek na meertalige personeel.

Maatskaplik

Studies in moedertaal bevorder wedersydse begrip en respek onder mense. Studies in ʼn ander taal as die moedertaal kan iemand bewustelik of onbewustelik vervreemd laat voel, wat weer onverdraagsaamheid of ʼn gevoel van minderwaardigheid tot gevolg kan hê. Wanneer ʼn mens kultureel geborge voel, gebeur die teendeel wat harmonie in instellings en tussen gemeenskappe uitbou.

Kultureel

Tale is nie net kommunikasiemiddels nie, maar ook draers van kulturele kennis en erfenis. Deur ʼn taal se regte te bevorder en opkomende geslagte daarin te onderrig, word hierdie kennis bewaar. Deur die taal te gebruik in alledaagse onderrig, informele en formele situasies, word eietydse erfenis daartoe bygevoeg, wat weer aan volgende geslagte oorgedra word.

Gesondheid

Emosioneel ontwikkel mense wat van jongs af moedertaalonderrig ontvang het, ʼn meer gesonde selfbeeld wat hulle geestelike en fisiese gesondheid direk beïnvloed.

Onlangse navorsing bewys verder dat mense wat in moedertaal studeer en werk, beter lewensgehalte geniet en dus gemiddeld ook langer leef. Met die voordeel van beter inkomste, wat reeds genoem is, het ʼn persoon toegang tot goeie gehalte voedsel en mediese sorg.

Meertaligheid wat deur begronding in moedertaalonderrig bevorder word, verbeter volgens navorsers met verloop van tyd selfs ʼn mens se kognitiewe funksies.

Ten slotte

Al hierdie feite maak dit baie duidelik waarom jy vir jouself, maar ook jou nageslag ten gunste van Afrikaanse moedertaalonderrig op alle vlakke sal wil én moet kies, instellings moet ondersteun wat dit aanbied, en aanhou ruimtes skep waar Afrikaans gebruik kan word om te verseker dat ons pragtige taal en haar sprekers gedy.

Hierdie is nie net doelwitte wat ons jaarliks op 21 Februarie moet oordink nie, maar waarvoor ons elke dag moet beplan én werk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nierkie ·

Dis net jammer dat ons mede landsburgers dit nie so sien en beur ten alle koste voort om afrikaanse skole te verengels. Ek moet gelukkig nog net 2 jaar uithou voor my kind klaar maak met matriek want die toekoms van openbare afrikaanse skole lyk maar baie droewig, en die meeste mense kan nie privaat onderrig bekostig nie. Dalk gebeur daar ‘n wonderwerk later in die jaar wat dinge moontlik kan verbeter.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaners is ‘n klein minderheid in ‘n multikulturele land. Sonder eie grondgebied kan Afrikaners maar vergeet van moedertaalonderrig in openbare skole. Afrikaanse openbare skole gaan binne fir volgende 15 jaar uitgefaseer word. Private skole is die enigste pad vorentoe. Koop Affies en Waterkloof en hou dit Afrikaans. Dit het reeds met Helpmekaar gebeur.

Nici ·

Mens kry ook niks vir mens se belasting geld nie. Die regering behoort Afrikaanse skole ook te bou want ons betaal baie belasting. Dis net poef en betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.