Agter elke naam skuil daar ‘n gesindheid

Die ANC is al dikwels daarvan beskuldig dat sodra ’n plek weens swak bestuur uitmekaar begin val, word die naam daarvan verander om die aandag weg te lei.

Dat die ANC in Noordwes probleme het met skeibrekery en sterk anti-Zumasentimente wat die DA tydelik die burgemeesterskap van Tlokwe (Potchefstroom) besorg het is reeds goed bekend.

Trouens, daar is sterk vermoedens van politiekery en interne stryd in die “onverwagse” aankondiging dat Noordwes dalk ’n nuwe naam kan kry – Moses Katane. Selfs Lood van Beeld steek die draak met die deursigtigheid hiervan.

Dié keer is daar nie werklik van voorgenome kulturele vandalisme sprake, soos Afriforum se Kallie Kriel dit in die gevalle soos met Pretoria noem nie. Noordwes as provinsie en as naam is ’n skepping uit die 1994-grondwet, en eintlik is die naam geografies verwarrend omdat die oorspronklike Noordweste ‘n streek omvat wat Boesmanland en Namakwaland insluit. Benewens vir die koste-implikasie gaan daar dus waarskynlik nie veel trane gestort word as besluit sou word om dit te verander nie, maar die probleem is eerder oor dit waarna dit verander moet word.

Met die Nasionale Akkoord was die veronderstelling dat plekname wat aanstoot gee, sou verander. So ook plekname wat verkeerd gespel is, en dat as oplossing vir dieselfde plek wat by verskillende gemeenskappe verskillende name het, die dorpe en stede ander name sou kon hê as die munisipale strukture. So, is geredeneer, sou Pretoria Pretoria bly, en die munisipale struktuur Tshwane.

Maar die kwessie het bly jeuk.

Met straatname is die kwessie moeiliker, omdat ’n soortgelyke reëlings as by dorpe en munisipaliteite nie moontlik is nie. Woon nou, soos die uwe, in Totiusstraat en probeer dié adres oor die telefoon verskaf. En nee, nie net aan nie-Afrikaanssprekendes nie. Met ’n motordiens waar die straat se naam by herhaling aan die Afrikaner-omie wat dit moes neerskryf verskaf is, het dit die volgende opgelewer: “Twee – ses straat nommer 9.”

By die werkers in die straat staan die straat eenvoudig as Hospitaal- of Ambulansstraat bekend omdat die straat twee verlengings verder teen ’n hospitaal doodloop. ’n Tuinman wat sy werkgewers se huis opgepas het, het tevergeefs vir die polisie gewag na hy ’n inbraak gerapporteer het. Vir die tuinman bestaan daar nie ’n straat soos Totiusstraat nie, en die polisie weet net van Ambulans- en Hospitaalstrate ver buite hul jurisdiksiegebiede. Die uwe moes maar help ontrafel.

Die pleknaamkwessie bly sensitief. Van goeie voorneme soos dat lughawens na plekke en nie meer na mense vernoem gaan word nie, het dadels gekom. Aanvanklik het die ou Jan Smutslughawe die paadjie via Johannesburg Internasionaal na Oliver Tambo geloop, en onlangs het die ou JBM Hertzoglughawe die siklus geloop toe die Bloemfonteinse Internasionale Lughawe die Bram Fischerlughawe (soms spottend Fichershaven genoem) geword het.

In Suid-Afrika word soms wild met die geskiedenis omgegaan wanneer aangevoer word dat die naamsverandering bloot die herstel van die oorspronklike naam is. Dit neem dikwels nie in ag dat daar  voor daardie naam ook ander name vir dieselfde plek was nie – naamlik Koi en San-name wat soms nog bekend is.

Die bekende Duiwelspiek in Kaapstad kry toe nie sy naam van Van Honk en sy pyp nie. Dit is een van die voorbeelde waar ‘n Afrikaanse pleknaam ‘n klanknabootsing is van oorspronklike Koisanwoorde, sê prof. Peter Raper, ereprofessor in die Departement Linguistiek en Taalpraktyk. Raper het die sluier gelig oor die jongste pleknaamprojek waarmee hy besig is, “From Stone Age to GPS: The fourth edition of the South African Place Names Dictionary”.

Die Sanwoord vir wind is “duivi”, en Duiwelspiek het aanvanklik as “Windberg” of “de Wind” bekend gestaan, voor die klank van die Sanwoord hiervoor tot “Duiwepiek” en “Duiwelspiek” vervorm het.

Daar is voorheen aangeneem dat al die Afrikaanse plekname deur die Afrikanervolk gegee is, en dat die verandering van hierdie plekname met die mandaat van die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name (SAGNR) ooreenkom. Volgens prof. Raper onthul diepgaande navorsing egter dat ’n noemenswaardige hoeveelheid plekname in werklikheid oorspronklike San-name is wat in Afrikaans, Khoi en die swart tale vertaal of vervorm is. Gegewe die grondwetlike bepaling dat geen kulturele groep se nalatenskap verwyder mag word nie, bevraagteken hierdie navorsing die werkswyse van die SAGNR.

Nog Afrikaanse voorbeeld wat prof. Raper uitwys, is Hoedjiesbaai en Hoedjiespunt, waar die woord vir vuur, “uki”, na “hoedjie” vervorm is. Swakopmund se naam is ’n samestelling van “xwaka” (renoster) en “op” / “ob” (rivier).

Ook swart tale het sekere plekname uit oorspronklike Santale vervorm, waarvan daar 26 bestaan het. Dit sluit Tshwane en Mangaung in.

Prof. Raper se werk word wyd in wêreldkongresse aangehaal waar mense hulle beywer vir die behoud van ou, inheemse plekname. Sy jongste lesing het deel uitgemaak van die kongresprogram van die Derde Internasionale MIDP IV-simposium wat op die QwaQwa-kampus plaasgevind het. Die MIDP (Multilingual Information Development Programme) is ’n projek wat deur die Provinsie Antwerpen in België geborg word. Die tema vir verlede jaar se simposium was “Meertaligheid vir Bemagtiging” en is aangebied in samewerking met die Universiteit van Antwerpen.

  • Dr. Johan Loock, voormalige lid van die Vrystaatse pleknamekomitee het voorheen by ’n vergadering van die Vrystaatse pleknamekomitee daarop gewys dat die Vrystaat gelukkig is dat die teenwoordigheid van Griekwas en Korannas in die provinsie ’n taalbrug kon vorm sodat ons vandag weet wat baie oorspronklike Koi- en Sanname vir plekke en riviere, soos die Sandrivier is.
  • Klankvervorming het ook uit ander tale plaasgevind. Een van die plekname wat vir verandering oorweeg word, is Clocolan. Die Sothonaam is Hlohlowane, en met die regte uitspraak (Sjlôsjlôwan) is daar ‘n duidelike verband met Clocolan. Volgens oorlewering is Hlohlowane afgelei van die geluid wat die wind deur riete of lang gras maak.
  • Prof. Pieter Labuschagne het in ‘n studie wat as brief in Volksblad geplaas is, uitgewys dat die naam Bloemfontein nie van die Brits-egpaar se blomme by die fontein afgelei kon wees nie, omdat die historikus, Theal McCall reeds na die naam verwys het voor die egpaar hulle daar gevestig het. McCall self het die naam toegeskryf aan die Korannaleier, Jan Bloem, wat ‘n kleurvolle lewe weerskante van die gereg gelei het.

Dit is uiters belangrik dat mense by die proses betrokke om plekname te wil verander, dit met die absolute regte ingesteldheid moet doen, anders polariseer dit eerder as versoen. Tweedens moet die mense absoluut seker wees hulle inligting is korrek is. Dit is erg genoeg om emosies op te jaag, maar dit dan nog op te jaag met “feite” wat histories duidelik verkeerd is – soos ‘n poging enkele jare gelede om Bloemfontein se naam na Thabure te verander – is soos om petrol op die braaivleisvuur te gooi. Die voorstellers het gemeen dat die wit perd teen Naval Hill gemaak is na aanleiding van ‘n seun van koning Mosjesj I se seun se wit perd.

Vele weergawes, byna almal mites, oor die herkoms van die naam Tshwane is omloop.

Niemand gaan iemand verkwalik wat Kaapstad se naam na een van sy oorspronklike, mooi melodiese Koi-name wil verander nie. Hy sal wel nie sy sin kry nie. Maar as hy die regte gesindheid aan die dag lê kan hy dalk genoeg gesindheid wen dat ‘n nuwe woonbuurt so ‘n naam kry, of selfs ‘n parkie.

En ‘n ingesteldheid wat duidelik op kulturele vandalisme afgestem is, wen net nie vriende nie. En polarisasie is nooit ‘n goeie ding nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae